Kaapstad besorg oor wateronderbrekings tydens beurtkrag

Jabu Mabuza, waarnemende groepshoof van Eskom (Foto: Itumeleng English/African News Agency/ANA)

Eskom het Suid-Afrikaners om verskoning gevra ná fase 6-beurtkrag Maandag onverwags toegepas is. Meer as 6 000 MW elektrisiteit moes bespaar word om ʼn algehele ineenstorting van die nasionale netwerk te voorkom.

Stad Kaapstad se departement van water en sanitasie het inwoners gewaarsku dat sommige gebiede wateronderbrekings kan ondervind indien Eskom weer fase 6-beurtkrag sou instel.

Fase 6-beurtkrag is Maandag tussen 18:00 en 22:00 toegepas voor dit weer na fase 4-beurtkrag afgegradeer is.

Eskom het die besluit toegeskryf aan talle kragopwekkingseenhede wat onklaar geraak het en ʼn onderbreking in die kragtoevoer vir die voerbande wat by Medupi steenkool na die silo’s vervoer. Tegniese spanne het onverpoosd gewerk om seker te maak die steenkoolprobleme word by Medupi opgelos.

“Eskom vra onvoorwaardelik om verskoning aan alle Suid-Afrikaners vir die ongerief,” het Jabu Mabuza, waarnemende groepshoof en tussentydse uitvoerende voorsitter van Eskom, gesê.

Stad Kaapstad het Dinsdag gesê fase 6-beurtkrag beperk sy vermoë om water in die stelsel te verskaf. “Ons pompe kan nie behoorlik bedryf word as dit vir lang tye nie kragtoevoer het nie,” het die departement verduidelik. “Inwoners moenie paniekerig raak nie, maar ons maan inwoners om water spaarsamig te gebruik en voorbereidings te tref indien daar skielik geen watertoevoer is nie. Ons raai aan dat genoeg munisipale water gestoor word om te drink, mee te kook en vir basiese ablusiegeriewe te gebruik.”

Eskom verskaf ongeveer 95% van Suid-Afrika se elektrisiteitsbehoeftes en beurtkrag sal waarskynlik ʼn nadelige invloed hê op die sukkelende ekonomie. Die vakbond UASA het gesê klein ondernemings kan nie petrolaangedrewe kragopwekkers bekostig as ʼn alternatiewe bron van energie nie.

Die mynboumaatskappy Petra Diamonds het gesê hy is in die proses om sy bedrywighede in Suid-Afrika op te skort ná ʼn versoek deur Eskom om sy elektrisiteitslading te verminder.

Goudvervaardiger Harmony het nagskofwerknemers opdrag gegee om nie Maandagaand ondergronds te werk nie. Dinsdag se dagskofwerkers is ook opdrag gegee om op die oppervlak te bly. “Ons sal die skofte hervat sodra Eskom vir ons ʼn versekering kan bied dat die kragtoevoer bestendig is,” het Peter Steenkamp, uitvoerende hoof van Harmony, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sakkie ·

Haal jou hoed af as jy met mense praat. Waar is jou maniere?

Anti Da ·

Kaapstad pomp nog steeds miljoene liter rou riool in die see. Die DA is aan die slaap.

Landie ·

Mag ek vra wat die verskil tussen kragonderbreukings en beurtkrag is??? Die een is in fases en die ander word mens nie gewaarsku nie. Maar die resultaat is dieselfde. Se maar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.