Kaapstad staal hom vir matriekmakieties

Kaapstad (Foto: Jannie Hamilton)

Met die meeste matrikulante wat vandeesweek hul eindeksamen voltooi, moedig die Stad Kaapstad hulle aan om dié mylpaal verantwoordelik te vier.

In die verlede was daar al gevalle waar matrikulante se feesviering heeltemal handuit geruk het en die stad wil soortgelyke voorvalle voorkom.

“Die laaste ding wat iemand wil hê, is dat só ʼn vreugdevolle geleentheid ontsier word deur voorvalle van geweld, beserings of sterftes wat verband hou met drankmisbruik. Ons wil ook nie hê een van die matrikulante moet met ʼn misdaadrekord sit nie. Ons personeel sal die verrigtinge fyn dophou en optree as enige oortredings waargeneem word,” sê JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit.

Volgens Smith sal die stad se wetstoepassingsagentskappe meer sigbaar rondom die strandgebiede en in die middestad – veral Langstraat – wees.

Smith herinner die matrikulante daaraan dat drankgebruik in openbare ruimtes verbied word ingevolge die stad se bepalings.

“Enigiemand wat alkohol in openbare ruimtes gebruik, sal ʼn boete van R500 opgelê word en daar sal op die alkohol beslag gelê word.”

Smith vra dat verantwoordelike bestuurders ook aangewys word om die gevaar van dronkbestuur te verhoed.

“Die rampbestuurregulasies sal ook afgedwing word. In die afgelope weke het die stad se wetstoepassingsagentskappe ʼn toename gesien in die getal mense wat beboet word omdat hulle nie maskers dra nie, of die aandklokreël verontagsaam.”

Smith doen ook ʼn beroep op ouers om ten alle tye te weet waar hul kinders is en dat hulle veilig is.

“Maak seker jou kind se foon het genoeg lugtyd om te kan bel indien daar ʼn noodgeval is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

annie ·

Sjoe dis maar swaar om nou van matrikulant-toerisme afhanklik moet wees as die res wegbly. Openbare ruimtes is seker buite in die ooptes want eersgenoemde se omvang is sekere moeilik bepaalbaar.

Swerwer ·

Is in elk geval belaglik dat ouers in ons land se huidige situasie so iets kan toelaat.

Johnny ·

As hulle nou maar net ewe streng wil wees op die strande op Oukersdag en op Nuwejaar . . .

Johan ·

Matrieks mag party hou maar ek mag nie kerk toe gaan nie…….?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.