Kaapstad stel veiligheidspan aan vir openbare vervoer

Die Stad Kaapstad het Dinsdag sy nuwe eenheid vir veiligheid by openbare vervoerfasiliteite in Mitchells Plain bekendgestel (Foto: Stad Kaapstad)

Die Stad Kaapstad het Dinsdag sy nuwe eenheid vir veiligheid by openbare vervoerfasiliteite in Mitchells Plain bekendgestel.

Met die eenheid sal die stad bykomende wetstoepassers by openbare vervoerfasiliteite regoor Kaapstad ontplooi waar daar ʼn dringende behoefte is aan bykomende veiligheid- en sekuriteitsingrypings.

Die ontplooiing van die wetstoepassers sal gegrond wees op brandpunt-identifikasie deur data-ontleders van die stad se openbare vervoerdepartement. Dit sal verseker dat hulpbronne ontplooi word waar dit die nodigste is.

Die eenheid word beskou as nog ʼn groot veiligheidsvennootskap tussen die stad en die Wes-Kaapse regering. In hierdie geval finansier die Wes-Kaapse mobiliteitsdepartement hierdie span – genaamd die Openbare Vervoerfasiliteite Veiligheidspan – as deel van sy veiliger openbare vervoer- inisiatief.

“Ek vertrou dat hierdie gesamentlike inisiatief met die Wes-Kaapse mobiliteitsdepartement sal bydra tot ons pogings om vervoerfasiliteite veiliger te maak vir ons pendelaars, vervoeroperateurs en almal wat hierdie fasiliteite gebruik,” het Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, gesê.

Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, het die bekendstelling van die nuwe eenheid bygewoon (Foto: Stad Kaapstad)

Die stad het reeds toegewyde beamptes van die vervoertoepassingseenheid vir vervoer by die openbare vervoernodusse in Bellville, die stasie in die Kaapstadse middestad en Philippi.

JP Smith, die stad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê die span is tans besig met induksie en sodra hulle daarmee klaar is, sal hulle ontplooi word waar nodig.

“Ons weet byvoorbeeld daar is veiligheid- en sekuriteitskwessies by openbare vervoerfasiliteite in Wynberg, Langa en Mitchells Plain, om net ʼn paar te noem. Hulle sal hierdie fasiliteite te voet patrolleer en inspeksies doen om dwelmsmous te voorkom, om georganiseerde informele handel te verseker en om aandag te gee aan oortredings van munisipale verordeninge. Hulle sal inhegtenisnemings kan maak en boetes kan uitreik. Die span sal nou saamwerk met hul kollegas van die vervoerwetstoepassingseenheid, verkeersdienste en wetstoepassing,” sê Smith.

Die stad se onlangs goedgekeurde omvattende geïntegreerde vervoerplan (CITP) dui daarop dat soveel as 22% van pendelaars minibus-taxidienste gebruik en ʼn bykomende 9% gebruik busdienste soos GABS, MyCiTi en Sibanye. Een uit elke drie pendelaars gebruik dus ʼn openbare vervoerfasiliteit waar hulle op ʼn bus of ʼn minibus-taxi klim om by die werk en ander bestemmings te kom.

“Ons moet soveel as wat ons kan doen om te verseker dat pendelaars veilig voel en is. Pendelaars se persepsie van veiligheid hou verband met die waarneming van beamptes op die grond. Ek is seker die teenwoordigheid van hierdie beamptes sal ʼn groot verskil maak. Ek vra pendelaars en operateurs om hierdie beamptes te ondersteun en om saam met hulle te werk,” sê Rob Quintas, die stad se burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit.

Volgens Ricardo Mackenzie, Wes-Kaapse minister van mobiliteit, is dit die provinsiale regering se topprioriteit om pendelaars veilig werk toe en tuis te kry.

“Ek is bly dat hierdie vennootskap konkrete aksie tot gevolg het om openbare vervoerfasiliteite veiliger te maak. Die teenwoordigheid van hierdie veiligheidspan sal nie net mobiliteit verbeter nie, maar ook die omgewing vir ekonomiese aktiwiteit in hierdie ruimtes verbeter,” sê Mackenzie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Martie Smartie ·

Goed so, die SAPD is te sleg om wet en orde to handhaaf, goed gedoen Kaapstad!

Francois ·

Kry van die beamptes om saam met die passasiers in n taxi saam te ry. Dis waar die werklike oortredings plaasvind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.