Kamma-biokinetikus wéér in hegtenis ná hy vlug

(Argieffoto ter illustrasie / Maroela Media)

ʼn Kamma-biokinetikus wat polisie sedert April vanjaar ontduik, het Maandag in die Klerksdorp-landdroshof in Noordwes verskyn ná hy Vrydag in Mosselbaai in die Wes-Kaap in hegtenis geneem is.

Johannes Christian van Belkum (54) is in Maart vanjaar deur die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad in Klerksdorp in hegtenis geneem waar hy glo as ʼn biokinetikus gepraktiseer het hoewel hy nie as een geregistreer is nie.

Sy inhegtenisneming het gevolg ná die Raad op Gesondheidsberoepe vir Suid-Afrika (HPCSA) in samewerking met dié eenheid inspeksies in die dorp uitgevoer het.

Die HPCSA en die Valke het tydens dié gesamentlike operasie op die praktyk afgekom waar Van Belkum as biokinetikus gepraktiseer het. Hy het hom glo ook as ’n spesialis in dié veld bemark.

Kaptein Tlangelani Rikhotso, woordvoerder vir die Valke, sê Van Belkum het sy kliënte glo tussen R150 en R1 600 vir ’n konsultasie gevra.

Hy staan nou op aanklagte van bedrog asook die oortreding van die Wet op Gesondheidsberoepe tereg.

Volgens Rikhotso is Van Belkum ná sy eerste inhegtenisneming op borgtog van R2 000 vrygelaat en was hy veronderstel om op 26 April weer in die landdroshof te verskyn.

Van Belkum het egter gevlug, maar is Vrydag in Mosselbaai in hegtenis geneem waar hy as ’n fiksheidsinstrukteur gewerk het.

Die saak is tot 14 September uitgestel wanneer Van Belkum se borgtogaansoek aangehoor sal word.

Die HPCSA het in Maart gesê die raad verbind hom daartoe om te verseker dat onwettige gesondheidspraktisyns nie praktiseer en die lewens van die publiek in gevaar stel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nie Verbaas ·

Hy gaan weer laat spaander sodra hy borgtog kry. Hoop hulle kyk na praktyke van GPs ook.

marius ·

Sal interresant wees om te weet of sy pasiene tevrede was .

Jaco ·

As daar nie regstellende aksie en BEE was nie, sou dié goed nie gebeur het nie. Werklose wit mense raak desperaat. Sommiges oortree die wet net om te kan oorleef.

Hardekwas ·

Dit klink nie juis vir my na n beroep wat deur die hpcsa gereguleer behoort te word nie. Dit is amper soos n fiksheidsinstrukteur. As dit vir jou werk, maak gebruik van die persoon, gekwalifiseerd of nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.