Kanadese toeriste in Mbombela aangehou, beroof

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Jason Rojas/Unsplash)

ʼn Gesin van vyf, van wie vier lede uit Kanada kom kuier het, moes hul vakansie summier kortknip nadat hulle Saterdag omstreeks 20:30 deur misdadigers – wat hulself as polisiebeamptes voorgedoen het – aangehou, beroof en aangerand is.

Volgens kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, het die gesin in ʼn Toyota Fortuner gery toe vier gewapende verdagtes hulle op die N4-hoofweg langs die hooggeregshof in Mbombela voorgekeer het.

“Die verdagtes het in ʼn Ford Ranger-bakkie met blou ligte gery. Daar word beweer dat hulle die blou ligte laat flikker het om die gesin voor te keer, waarna hulle slagoffers met vuurwapens aangehou, aangerand en van persoonlike besittings beroof het.

“Die slagoffers is daarna na ʼn OTM geneem, waarna die verdagtes toegang tot die slagoffers se bankrekeninge verkry het. ʼn Onbekende bedrag kontant is uit die slagoffers se bankrekeninge by verskeie OTM’s onttrek,” sê Mdhluli.

Van die items wat van die slagoffers geroof is, sluit in selfone, juweliersware, kontant asook bankkaarte.

“Niemand is al in hegtenis geneem nie, maar ʼn span ondersoekers onder leiding van lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, die provinsiale kommissaris van die polisie in Mpumalanga, werk onverpoosd daaraan om te verseker dat die oortreders in hegtenis geneem word.”

Enigiemand met inligting wat kan help om die verdagte vas te trek, kan speurderkolonel Thami Mkhaliphi by 082 469 2431 bel. Alternatiewelik kan die publiek die StopMisdaad-nommer by 08600 10111 skakel of inligting via die MYSAPSAPP stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

electricmango ·

Ai tog hulle het seker nie gesien dat suid afrika die kriminele as beskermde wild sien nie. Die klomp wat hulle beroof het sal nog deur die hof vergoeding ontvang vir brandstof en ongerief…. alle toeriste behoort nou al te weet dat jy sal beroof, verkrag of vermoor word as jy in die hool kom vakansie hou.

Johann ·

Welkom in die RERIGE RSA!!!!! Sorry…maar dis wat ons land in verval het.

Marous ·

Dink hulle die mense gaan vanaf Kanada reis om te getuig ? Bly weg van die hool af !

Misky ·

Ja nee, so sal ons al meer toeriste verloor en dit gebeur deesdae al meer gereeld. Dink nou weer aan Trevor Noah se 30 miljoen vir toeriste advertensie. Wys die waarheid en statistieke volgende keer.

koos10 ·

Dis lekker. Die provinsie se polisiebaas moet die misdaad ondersoek, omdat dit Kanadese burgers is. Ons wat hier woon moet maar tevrede wees met die plaaslike speurder sersant, met 100 sake op sy tafel, en geen hulpbronne nie, en dit vir moordsake.

domheks ·

Aan alle buitelandse toeriste. BLY WEG VAN RSA – DIE HOOL IN AFRIKA!

Andre ·

…wat help dit om nou ‘n Generaal aan te stel om die saak te ondersoek?
Is jou kamstige speurders nie opgewasse om ‘n gewone roof op te los nie?

Republikein in die Wes Kaap ·

Bly weg uit SA. Gaan eerder na Oekraïne, dis veilger daar.

Tokkel ·

Ronald Lamola, gaan jy hierdie ook aanmeld wat in jou land gebeur? Kan sien jy is ‘n youngster, nog onkundig….

ilse ·

Daar moet baie meer gedoen word om toeriste te waarsku en te help om veilig te reis. Hulle is dikwels heeltemal naief oor die werklikhede hier, en reis soos hulle tuis doen. Dit sluit almal in wat met toeriste te doen het.

John ·

Aan alle buitelandse toeriste. BLY WEG VAN RSA – DIE HOOL IN AFRIKA!

Aggie ·

Weet hierdie toeriste nie dat SA ‘n gevaarsone is nie. Doen hulle nie huiswerk oor hoe ons land verval het nie? Vertel nou asb julle landgenote om weg te bly. 80 moorde per dag soos in die media deurgegee word.

Blomme ·

Tog so jammer dat ons mooi land so verval het. So baie om aan toeriste te bied maar Ai.. So verloor ons toeriste, geld wat die land kan inkom en natuurlik werk vir ons mense. Kan die regering Asb iets aan ons regstelsel doen om bietjie meer orde in te bring. Selfs in Zimbabwe is toeriste veilig.. Die gemeenskappe daar reken self met ń oortreder af wat ń toeriste leed aandoen.

Danie ·

Net n wenk van my kant af, indien jy vir buitelandse toeriste n boodskap wil stuur help dit nie jy doen dit in afrikaans op n afrikaanse webwerf nie.
Daar is sekerlik beter platforms soos facebook ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.