‘Kapingsindikaat’ ontmasker

Die beweerde sindikaat se sogenaamde “werkswinkel” in Kwamhlanga. (Foto: Verskaf)

Die owerhede in Mpumalanga het Maandag op ’n beweerde kapingsindikaat toegeslaan en vyf vermeende lede van dié sindikaat in boeie geslaan.

Verskeie vermoedelik gesteelde sleepwaens van vragmotors – sommige nog mét vragte – is ook tydens die klopjag teruggevind toe die owerhede op die beweerde sindikaat se sogenaamde “werkswinkel” in Kwamhlanga afgekom het.

’n Vermoedelik gesteelde agtton-vragmotor is ook by dié werkswinkel aangetref.

Die moontlikheid bestaan nou dat die verdagtes binnekort met verskeie ontvoerings, rooftogte en kapings verbind sal kan word.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê lede van onder meer die polisie se honde-eenheid, die polisie se eenheid vir sigbare polisiëring en Tracker Connect het Maandag reageer op inligting van ’n voertuigopsporingsmaatskappy.

Dié inligting het daarop gedui dat ’n sleepwa van ’n vragmotor Vrydag aan die Gautengse Oos-Rand gesteel is en iewers in Kwamhlanga in Mpumalanga versteek is.

Die beweerde sindikaat se sogenaamde “werkswinkel” in Kwamhlanga. (Foto: Verskaf)

Dié inligting het die span laatmiddag gelei na “wat lyk soos ’n werkswinkel” waar hulle die verdagtes en verskeie sleepwaens met vragte Aqueous-lyfroom aangetref het. Dié sleepwaens was reeds van die perd van ’n vragmotor afgehaak. Die perd van die vragmotor was nêrens te vind nie.

Inligting dui intussen daarop dat die sleepwaens Vrydag in Boksburg-Noord gekaap is.

’n Vragmotor en verskeie ander sleepwaens – een nog met ’n halwe vrag lemoene – asook twee vragskeephouers wat glo tydens sakerooftogte in Johannesburg en Heidelberg in Gauteng gesteel is, is óók by die werkswinkel gevind.

Die beweerde sindikaat se sogenaamde “werkswinkel” in Kwamhlanga. (Foto: Verskaf)

Die verdagtes sal nou almal binnekort in die landdroshof in Kwamhlanga verskyn op aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

Die polisie se voorlopige ondersoek dui boonop daarop dat twee van die verdagtes van Mosambiek is, terwyl die ander drie van Zimbabwe is.

“Die polisie is tans in samewerking met die departement van binnelandse sake besig om hul status in die land vas te stel. Sou daar gevind word dat hulle nie oor wettige dokumente beskik om in Suid-Afrika te wees nie, sal verdere aanklagte met betrekking tot die oortreding van die Immigrasiewet teen hulle bygevoeg word,” sê Mohlala.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

domheks ·

Dis darem baie lekker in SA! Vat wat jy wil he en basta met die res.

Di ·

Maar hoe verstaan ek dit nou? CELE het dan op die NUUS te kenne gegee dat dit nie onwettige immigrante is wat die misdade pleeg in die land nie maar ons eie mense! Hier is DUISENDE van hulle in die land, MEESTE onwettig hier net om MISDAAD te pleeg. Land van melk en heuning, ALMAL is welkom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.