Karpowership kán help, maar kontrak moet veel korter

Een van die kragskepe in Karpowership se vloot. (Foto: Karpowership)

ʼn Kontrak van 20 jaar met die Turkse maatskappy Karpowership om noodkrag aan Suid-Afrika te lewer plaas ʼn onnodige las op die fiskus wat Suid-Afrika kwalik kan bekostig.

Daarom verwelkom die DA ʼn opmerking van die minister van elektrisiteit, Kgosientso Ramokgopa, dat die regering nié so ʼn lang ooreenkoms moet aangaan nie.

Luidens berigte het Ramokgopa ná afloop van sy besoek aan die Kusile-kragsentrale gesê Karpowership kan nie ʼn langtermynoplossing vir beurtkrag wees nie. “Kragskepe as ʼn tegniese oplossing om vinnige megawatts te lewer is ʼn gesprek wat ons moet voer, maar op die plek waar die land hom bevind, kan dit nie meer as vyf jaar wees nie,” het die minister volgens EWN gesê.

Indien die regering nietemin die Karpowership-roete wil stap, moet daar ook steeds aan omgewingsvereistes voldoen word, het Ramokgopa gesê.

Die DA se Samantha Graham-Maré en Kevin Mileham het Woensdag in ʼn gesamentlike verklaring gesê hulle verwelkom dié uitgangspunt dat kontrakte nie langer as vyf jaar moet geld nie – en verkieslik selfs korter moet wees – en dat dit slegs hernieu moet word, gegrond op ʼn bewysbare behoefte.

“Ons verwelkom Ramokgopa se standpunt teen die absurditeit van ʼn 20 jaar lange meulsteen om die nek van Suid-Afrikaners. Dit is in skerp teenstelling met die minister van energie, Gwede Mantashe, wat steeds hardkoppig aandring op ʼn R220 miljard-verbintenis met Karpowership, sonder enige opeenlopende voordele vir Suid-Afrika se infrastruktuur.

“Dit verleen geloofwaardigheid aan agterdog dat daar pogings van die ANC is om hierby te baat,” sê die DA.

Die drie Karpowership-skepe kan in die geheel sowat 1 220 MW elektrisiteit aan Suid-Afrika lewer – dit is naastenby een fase van beurtkrag – en dit gaan geen wesenlike verskil aan die voortslepende kragkrisis maak nie, sê die party.

Terwyl dit lyk of die ANC die Karpowership-kontrak buig of bars gaan deurdruk, het die DA ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ingedien waarin die minister van vervoer, Sindisiwe Chikunga, gevra word vir die rekord van besluitneming om ʼn opdrag te gee dat Transnet vir die volgende 20 jaar haweruimte aan Karpowership moet gee.

Die party het ook ʼn beroep op die minister van omgewingsake, Barbara Creecy, gedoen om die sluier van geheimhouding te lig oor Karpowership se aansoeke om omgewingsklaring wat haar kantoor tans nog oorweeg.

“Die ANC offer deursigtigheid op vir dienstigheid terwyl hy kitsoplossings najaag om sy enorme versuim om die kragkrisis te pak, probeer toesmeer.”

Die DA hou vol dat ʼn 20-jaar-kontrak nie noodverkryging is nie.

“Dit is diefstal van Suid-Afrikaners en moet geheel en al verwerp word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Danie ·

Die regering het reeds die land onder ons uitverkoop.Daar al hoeveel grond in besit van buitelanders nou word n strop om om nekke vasgemaak.Nee wat vat jull ou skippie en gaan.

TC ·

Die sal nie werk nie want ons het nie die regte infratruktuur nie, dit moet eers gebou word om met die skip te werk dit kan meer as 1 jaar vat. Dan moet daar omgewings inpak studies gedoen word. Ons het nie die regte gehalte van tegniese bemanning nie. So ons gaan geld uithaal wat eerder spandeer moet word op nuwe infrastruktuur wat deer ons gebou kan word solank (nuwe kragstasies). Sonder bedrog natuurlik! Iewers het ek gelees op Maroela dat die kapasiteit wat die skepe gee maar laag is. Maar ons het nog steeds nie n oplossing nie. Nou kry hulle die skip dan bou hulle nog steeds nie nuwe kragsentrales nie want al die geld gaan vir die skip. Wat is hulle doel hulle het nie n doel nie…

Nico ·

Daar is genoeg bekwame ambagslui in SA, waarom karring die SA regering met die buite land. SA sal eerder die Kubaanse regering help, almal is kommuniste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.