Kerkdienste kan voortgaan, maar met voorwaardes – Ramaphosa

Pastore woon ʼn erediens by in die Yoido Volle Evangelie-kerk in Seoel, Suid-Korea. (Foto: Ahn Young-joon, AP)

Kerke, moskees en ander plekke van aanbidding sal op beperkte wyse toegelaat word om onder vlak 3-afsondering met geloofsaktiwiteite voort te gaan.

Só het pres. Cyril Ramaphosa Dinsdagaand tydens ʼn toespraak aangekondig. Kerke was tot nou nog verbied om eredienste of enige vorm van byeenkomste te hou en sou aanvanklik eers onder vlak 1 toegelaat word om hiermee voort te gaan. Verskeie geloofsgroepe het egter ʼn versoek aan die president gerig om op beperkte wyse en onder streng voorwaardes met eredienste en ander funksies voort te gaan.

“Die pandemie het ook emosioneel en spiritueel sy tol op Suid-Afrikaners geëis en mense is angstig en bang vir wat die toekoms inhou. Ons is nie blind vir die maatskaplike rol wat geloofsleiers in die gemeenskap vervul nie. Daarom het ons versoeke van geloofsleiers af oorweeg en besluit om aan van hierdie versoeke gehoor tee gee,” het Ramaphosa gesê.

Volgens Ramaphosa sal beperkte geloofsaktiwiteite onder vlak 3-afsondering die volgende behels:

  • Plekke van aanbidding kan dienste hou, mits nie meer as 50 mense dié dienste op een slag bywoon nie. Hoe kleiner die ruimte waar die diens plaasvind, hoe minder mense word toegelaat.
  • Sosiale afstand moet tydens dié dienste gehandhaaf word en almal teenwoordig moet ʼn gesigmasker dra.
  • Die regte stappe moet gedoen word om te verseker plekke van aanbidding word behoorlik voor en ná ʼn diens skoongemaak.
  • Enige godsdienstige aktiwiteit wat ʼn risiko vir die oordra van Covid-19 inhou, moet liefs vermy word.
  • Godsdienstige leiers kan as noodsaaklike werkers beskou word vir die doeleindes van berading en die lei van begrafnisse.

Bykomend tot dié vergunnings het Ramaphosa ook ʼn nasionale biddag vir Sondag 31 Mei aangekondig. Op dié dag word Suid-Afrikaners van alle gelowe versoek om, maak nie saak waar hulle hul bevind nie, ʼn oomblik te neem en te bid vir dié wat geraak is deur die Covid-19-pandemie, dié wat geliefdes weens die virus verloor het en ook dié wat onverpoos veg om die verspreiding daarvan te bekamp. Ramaphosa sê die tyd wat voorlê, sal aanhou om opofferings van Suid-Afrikaners te verg. “Ons moet gelei word deur die breë beginsels om te doen wat ook al nodig is om lewens te red,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jacobus Francois

Met dank aan die wat meegehelp het vir die begin van eredienste wat mag plaasvind!

twaalfboor

Man mnr Ramaphosa….. dit sal seker werk as mens onder ñ boom kerk hou. Belaglik!!!!

Fubar

Vodde, mense! Het ons uit die oog verloor dat die virus juis soos ‘n veldbrand versprei het na twee kerkdienste. Ja, vyftig mense klink heel aanvaarbaar in bv. ‘n kerk in die dorp. Maar onder sommige mense word dinge anders gedoen. My huis-engel bedryf ‘n kerk vanuit haar huis: daar word elke Sondag mense om die hals geval van blydskap. God word aangeprys dat die spoeg so spat. Daar word gedans en fees gevier in die Heilige Gees. Soos wat ons maar by ons kerk in die dorp ook doen. Ek weet darem nie of hierdie ‘n goed deurdagte besluit… Lees meer »

Dana

Ons is ‘n klein gemeente met ‘n Afrikaanse en Engelse diens Sondae oggende. Dus is 50 per diens heel haalbaar. So dankbaar ons kan weer almal saam aanbid.

Theresia

Ek het gedink oor die onmoontlikheid om saam te sing met die masker op, maar ek het toe weer gedink . Dit is eintlik maklik. As al die gemeente lede van die gesig shield dra dan kan daar geen droplets versprei nie, en ons kan nog heerlik saam sing. Die pandemie kan en mag nie ons stemme stil maak nie. Al sit almal toegewikkel by hulle motors in die parkeer terein .SING SAL ONS SING