Kersfees kom vroeg vir motoriste

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Die motoriste wat bekommerd was dat die brandstofprys oudergewoonte weer in Desember gaan styg, hoef nie te bekommer nie, aangesien ʼn daling in die brandstofpryse komende Woensdag in werking tree.

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, het die finale brandstofpryse vir Desember bekend gemaak, en dieselverbruikers gaan veral breed by die brandstofpompe glimlag.

Dit sal voortaan R2,35 per liter goedkoper wees om met diesel met ʼn swaelinhoud van 0,05% vol te maak. Dit terwyl die prys van diesel met ʼn swaelinhoud van 0,005% met R2,41 per liter daal.

Die prys van 93-oktaan- sowel as 95-oktaan-petrol daal met 65c per liter.

Paraffien (grootmaat) word met R1,71 per liter goedkoper, terwyl gas R1,67 per kilogram meer gaan kos.

Die daling in brandstofpryse volg nadat die rand effens teen die Amerikaanse dollar versterk het gedurende die tydperk onder oorsig in vergelyking met die vorige tydperk.

Volgens Mantashe het die prys van diesel en paraffien meer as die van petrol gedaal as gevolg van verhoogde produksie van middeldistillate deur raffinaderye om voorsiening te maak vir die verwagte toename in aanvraag gedurende die winterseisoen in die Noordelike Halfrond.

“Die prys van gas het gestyg omdat die prys van propaan en butaan gestyg het ter voorbereiding vir die toename in seisoenale vraag na gas.”

Die kumulatiewe balansfonds op petrol en diesel was teen die einde van Oktober sowat R3,1 miljard in die rooi, wat beteken dat ʼn balansfondsheffing van 26c per liter by die prys van brandstof in Desember ingewerk is.

Mantashe sê egter motoriste baat hierby, aangesien die balansfondsheffing van 52c per liter tot 26c per liter daal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.