Kganyago versterk Reserwebank-bastion

Lesetja Kganyago, president van die SA Reserwebank (Foto: Thobile Mathonsi/African News Agency/ANA)

Solidariteit het die heraanstelling van Lesetja Kganyago as die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank verwelkom.

Dit volg ná die tesourie Woensdag bevestig het dat Kganyago weer aangestel is. Pres. Cyril Ramaphosa het dié besluit in oorleg met Tito Mboweni, die minister van finansies, en die direksie van die bank geneem.

Kganyago se termyn verstryk op 8 November en sy nuwe vyfjaartermyn sal onmiddellik daarna begin.

Ramaphosa het ook vir Fundi Tshazibana en Rashad Cassim as adjunkpresidente van die bank aangestel. Hulle vyfjaartermyn sal op 1 Augustus begin. Albei werk tans by die bank: Tshazibana is die adviseur vir die president en Cassim is die hoof van ekonomiese navorsing en statistiek.

Tshazibana het ook al by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), die nasionale tesourie en die nasionale energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) gewerk en het ʼn magistergraad in ekonomie.

Cassim het ʼn doktorgraad in ekonomie verwerf. Voordat hy by die Reserwebank aangesluit het, was hy die adjunk‑direkteur-generaal verantwoordelik vir ekonomiese statistieke by Statistieke Suid-Afrika en hoof van die skool vir ekonomie en besigheidswetenskappe aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Hy is ʼn uitgesproke kritikus van die voorgestelde nasionalisering van die Reserwebank.

Connie Mulder, hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut, het gesê die Reserwebank was een van die ANC se ideologiese slagvelde in die laaste paar weke.

“Hierdie skuif van Ramaphosa versterk Kganyago se hande sodat hy in belang van alle burgers die faksies binne en buite die ANC wat glo die Reserwebank moet genasionaliseer word, van die bank kan weghou.

“Met ons regering wat sy finansies soos ʼn peuter in ʼn lekkergoedwinkel bestuur, kan Suid-Afrika net baat by die sterk en stabiele hand wat Kganyago oor die land se monetêre beleid hou.”

Mulder meen die Reserwebank kan ʼn feller aanslag teen sy mandaat en die integriteit van die rand verwag.

Die aanvalle op die Reserwebank spruit uit ʼn mosie wat die ANC op sy Desember 2017-kongres by Nasrec in Johannesburg aanvaar het, wat die nasionalisering van dié bank bepleit.

“Solidariteit wens Kganyago sterkte toe met hierdie stryd, maar meen ook die tyd het nou aangebreek dat die ANC en Ramaphosa amptelik afstand moet doen van die sinnelose mosie en die onsekerheid wat dit teweeg bring finaal ter ruste lê.

“In die lig van die mosie oor grondonteiening sonder vergoeding en sprake van voorgeskrewe bates, wat op pensioenfondse gerig is, is dit van die uiterste belang dat die Reserwebank nie ook willekeurig begin geld druk nie. Dit is as ons die glybaan na Zimbabwe wil vermy.”

Mulder het Kganyago aangemoedig om sy mandaat manmoedig uit te oefen en Suid-Afrikaanse burgers se spaargeld teen die ANC se kleptokrasie te beveilig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Ag nog n grap nie eers ons pres het n se nie as die anc se spring dan spring hulle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.