Khayelitsha-skietery: Net drie voorlopig vervolg

(Argieffoto)

Net drie van die aanvanklike 11 aangekeerde verdagtes word in dié stadium vervolg in verband met verlede naweek se vlaag skietvoorvalle in Khayelitsha in die Wes-Kaap.

Dié voorvalle het verlede Saterdag die lewe van 13 slagoffers geëis. Dié drie verdagtes word egter in dié stadium vir slegs een van die moorde vervolg.

Eric Ntabazalila, provinsiale woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Vrydag aan Maroela Media gesê drie verdagtes het vanoggend in die landdroshof in Khayelitsha verskyn op aanklag van moord.

Volgens Ntabazalila is Andile Valishiya, Dominic Isaacs en Fundile Maseti tot op hede die enigste verdagtes om in die hof te verskyn in verband met verlede naweek se skietvoorvalle op verskeie plekke in Khayelitsha.

Voorlopige inligting dui daarop dat die skietvoorvalle moontlik met mekaar verband hou.

Die verdagtes verskyn weer op 2 Junie in die hof wanneer die verdagtes na verwagting aansoek om borgtog sal doen.

Volgens Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, het ’n vierde verdagte Donderdag in die hof verskyn in verband met sy of haar beweerde aandeel in verlede Saterdag se skietvoorvalle. Ntabazalila kon dit egter nie bevestig nie.

Maroela Media het vroeër berig altesaam 11 mense is Maandag in die vroeë oggendure in ’n hotel in Seepunt in hegtenis geneem. Volgens inligting van die NVG word agt van die 11 nie in dié stadium aangekla nie.

Fritz het intussen die hofverskyning van die verdagtes verwelkom en die publiek daaraan herinner dat nog verdagtes later aangekla kan word.

Fritz het ook daarop gewys dat 40 sterftes aan die hand van vuurwapens verlede naweek regoor Kaapstad aangemeld is. Die LUR het sy kommer uitgespreek oor die deurlopende gebruik van vuurwapens in onderskeie misdade.

“Volgens enige standaard is 40 sterftes deur skietwonde oor ʼn tydperk van net drie dae ʼn verbysterende syfer, en in die lig hiervan moet ons weer vra hoe die nasionale regering die begroting van die SAPD en die NVG wil besnoei.”

Bheki Cele, die minister van polisie, het Donderdag die polisie se begroting aan die parlement voorgelê.

Die departement se begroting krimp van R99,6 miljard in die 2020-’21-boekjaar tot R97,1 miljard in 2023-’24. Dié geld moet onder meer aangewend word om die agterstande in DNS-toetse te beredder, die chaotiese sentrale vuurwapenregister reg te ruk en meer polisielede aan te stel.

“Die SAPD in die Wes-Kaap het al jare lank nie genoeg hulpbronne nie. Ons kan eenvoudig nie verdere besnoeiings bekostig nie,” sê Fritz.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.