Khoza doen beroep op LP’s om met ‘gewete te stem’

Dr. Makhosi Khoza, ANC-LP (Foto: Facebook)

ANC-LP Makhosi Khoza het Maandag ʼn beroep op haar kollegas in die ANC gedoen om met hul gewete te stem in die mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma wat Dinsdag gedebatteer word.

“Môre se mosie van wantroue is nie ʼn ‘silver bullet’ wat die sterwende land gaan red nie, maar wel die noodsaaklike stap wat Suid-Afrika moet doen om ons demokrasie terug te eis,” het Khoza, wat nou dissiplinêre stappe in die gesig staar omdat sy vroeër ʼn beroep op Zuma gedoen het om te bedank, gesê.

“Ek doen ʼn beroep op julle, die pad sal nie maklik wees nie, maar ons sal dit saamstap. Ons moet die regte ding doen en die regte ding is om môre se mosie van wantroue te steun.”

Khoza het gesê sy is lojaal teenoor die ANC omdat baie mense in die party werk om Suid-Afrika en sy mense te dien. Sy het bygevoeg sy verwag spoedige optrede teen dié wat Dinsdag teen Zuma stem.

“Dit is belangrik dat Suid-Afrikaners besef wat ons van hierdie LP’s vra. Goeie LP’s wat die regte ding doen, sal waarskynlik dadelik uit die party verwerp word. Dit is almal mense met huise, kinders, gesinne om voor te sorg en skoolgeld om te betaal,” het Khoza gesê.

Khoza het gesê sy het in die vorige mosies van wantroue in Zuma se guns gestem. “Ek het my stem gerasionaliseer en geglo ʼn verenigde ANC sal later saamstaan teen die leier wat ons gefaal het. Dit het nog nie gebeur nie.”

Jackson Mtembu, ANC-hoofsweep, het Vrydag gesê om teen Zuma te stem sal veroorsaak dat die regering ineenstort en die ANC kan dit nie toelaat nie. Baleka Mbete, speaker van die parlement, sal  later Maandag aankondig of LP’s in die geheim sal kan stem al dan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Michael ·

Ek het die insetsel van haar gesien sondag in carte blanche baie brawe vrou wat die regte ding doen sonder vrees en met een doel om Suid Afrika n beter plek te maak.

Eish ·

Gewete? As hulle enigsins gewetes gehad het, sou hulle lankal van die korruptes ontslae geraak het. Hulle sal doen wat hulle sakke die beste pas. Niemand hou asem op nie.

A. Mac ·

Duidelik het van die ANC lede nie met hulle gewete nie, maar vir hulle beursies gestem. Suid Afrika gaan nog hard betaal vir hierdie fiasko.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.