Kind se skietdood móét nou ondersoek word   

Maverick Links is in 2017 doodgeskiet, glo deur ‘n maatjie. Hy was maar tien jaar oud. (Foto: Facebook)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het Maandag in ’n skrywe geëis dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sy besluit om nié vervolging na die destydse skietdood van Maverick Links (14) in te stel nie te heroorweeg.

Die skrywe is aan die direkteur van openbare vervolgings in die Noord-Kaap gerig. Dit volg nadat landdros Bertus van Zyl in November, na afloop van ʼn geregtelike doodsondersoek, in die Upington-landdroshof gelyk gegee het dat iemand wel aanspreeklik gehou kan word vir die kind se dood.

Die tiener is in Julie 2017 na bewering deur ’n tienjarige maat met dié se pa se dienspistool doodgeskiet. Die pa was ten tyde van die voorval, en is steeds, ’n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens.

Die doel van die ondersoek was onder meer om te bepaal of iemand vir die slagoffer se dood aanspreeklik gehou kon word.

“In hierdie geval het landdros Van Zyl op die betoë wat die privaatvervolgingseenheid gemaak het, bevind dat persone wel aanspreeklik gehou kan word en dat hul dade op misdrywe neerkom. Dit volg nadat die NVG vir onverklaarbare redes geweier het om die minderjarige en/of sy pa te vervolg,” sê Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid. Dié eenheid verteenwoordig die Links-gesin.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, het tydens die geregtelike doodsondersoek aangevoer dat die NVG se irrasionele besluit om nie vervolging in te stel nie, ’n direkte gevolg is van die staat se versuim om ingevolge die Wet op Kindergeregtigheid op te tree. Dit het onder meer betrekking tot ’n kind se toerekeningsvatbaarheid om aanspreeklik gehou te word vir die pleeg van ’n misdaad.

In die skrywe word aangedui hoe die NVG die feite wat op toerekeningsvatbaarheid dui óf opsetlik verkeerd toepas óf bloot ignoreer.

“Die NVG se versuim om te vervolg en die besluit om eerder ʼn geregtelike doodsondersoek in te stel, kan slegs geïnterpreteer word as ’n poging deur die NVG om hul onbekwame en onprofessionele hantering van die saak te verberg,” sê Venter.

“Dit blyk dat die NVG ’n tendens ontwikkel het om hul onvermoë om moeilike besluite te neem te verbloem, deur eerder ’n geregtelike doodsondersoek te gelas om sodoende hierdie onvermoë te regverdig. Dit is ’n irrasionele misbruik van die regsproses en het in hierdie geval ook misluk ná die landdros se bevinding.

Die privaatvervolgingseenheid het ook aangedui dat hy duidelike redes versoek sou die NVG besluit om nié vervolging in te stel nie.

Venter sê voorts dit is bloot redelik om ná vier jaar antwoorde te eis oor vervolging al dan nie.

“Dit blyk dat daar ’n onoorbrugbare kloof bestaan tussen die beeld wat die NVG in die parlement en media voorhou en die realiteit wat die slagoffers van misdaad daagliks moet verduur.

“Die NVG se klaarblyklike weersin om vervolging in te stel in verskeie sake, asook op grond van inligting wat in die Zondo-kommissie geopenbaar is, gaan nie ongesiens verby nie,” sê Venter.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marius ·

Ongeag die ouderdom, as jy ‘n wapen optel en iemand daarmee skiet is jy verantwoordelik vir iemand se dood. In die geval van ‘n minderjarige is hy steeds verantwoordelik vir die dood van die persoon en die ouer wie se wapen sal verantwoordelikheid moet aanvaar vir die feit dat die wapen nie toegesluit was nie.

Di ·

Die NVG is useless verby, meeste sake word nie vervolg nie. Elke keer as AfriForum ‘n ondersoek begin doen of antwoorde eis, dan kan daar skielik iets omtrent die saak gedoen word. Raak ontslae van die spul, hulle beteken niks vir ons nie. Word ook deur die ANC Kaders beheer, daarom die traagheid!

Johann ·

Dis nou dieselfde NVG wat kamptig die ZONDO komisie se “aanbevelings” gaan opneem en mense vervolg? Mmmmmmm….dink nie so nie! Als.deel van die groter prenktjie van KADERS ontplooi EN beskerm! Klug van ‘n regs stelsel wat die oorteeders se “regte_ beskerm ten koste van regverdigheid en verandwoordbaarheid.

Perdeby ·

Natuurlik is die polisiebeampte wat sy vuurwapen laat rond lê het verantwoordelik, want hy was nalatig gewees. Die vuurwapen moet in ‘n kluis gewees het, en ek twyfel of enige van hierdie beamptes kluise by hulle huise het. Ek was ook ‘n SAPD en my kluis was geinspekteer voor ek ‘n vuurwapen gekry het.

Casper ·

Dit is my gat se deksel.Hy is 10 en skiet iemand dood maar kan nie vervolg word nie.Sy pa is ‘n lid van die SAPD,maar hy word ook nie vervolg nie,hoe belaglik.

Cindy ·

hoe is dit dat Afriforum eers moet betrokke raak voor die NVG hul werk doen…? Hoe bly hulle met sulke nonsens wegkom…!

Johanna ·

Ek stem! Die saak.moet van voor af ondersoek word. Dit gaan baie wonde oopkrap maar daarna gaan wonde ook genees. Niemand mag wegstap van n moord af nie.. Daar is altyd gevolge vir ons Dade..
Krap die wond oop sodat almal genesing kan kry.. Dit gaan eindig met groot verligting en almal kry weer n kans om final aan te gaan met die lewe. Sterkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.