Kinders kán veilig terug skool toe – pediaters

Die vereniging sê kinders is minder geneig om ernstig siek te word weens Covid-19. (Argieffoto: Maroela Media)

Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Pediaters (Sapa) beveel aan dat kinders terugkeer skool toe so gou as wat dit veilig moontlik is.

Die vereniging sê die Covid-19-pandemie gaan nog geruime tyd duur en infeksies sal in vlae kom en gaan. “Kinders is veel minder geneig as volwassenes om ernstig siek weens Covid-19 te word, of om SARS-CoV-2 (oftewel die nuwe koronavirus) oor te dra aan diegene met wie hulle in aanraking kom.”

Skole heropen na verwagting op 15 Februarie vir leerders. Onderwysers en bestuurspanne het reeds teruggekeer.

Sapa sê hoewel die rol van skole in die bevordering van infeksies nie behoorlik vasgestel is nie, het skole meestal minimaal tot gemeenskapsoordrag bygedra.

“Aan die ander kant is daar beduidende negatiewe gevolge om nie terug te keer skool toe nie. Dit sluit in ʼn nadelige uitwerking op onderrig, voeding, geestelike en fisieke gesondheid en finansies.”

Sapa sê ʼn terugkeer skool toe is voordelig vir kinders, hul ouers en die breër gemeenskap, maar waarsku ook dat nie-farmaseutiese ingrypings streng gevolg moet word. Die vereniging sê onderwysers moet geprioritiseer word om die entstof teen die virus te ontvang.

Die vereniging sê daar was die afgelope ruk heelwat omstredenheid tydens die sogenaamde tweede vlaag van die pandemie en daar was teenstrydige standpunte deur die regering, vakbonde, politieke partye, burgerregtegroepe, beheerliggame en ouers. “Dit het gelei tot heelwat angs onder ouers, versorgers en kinders,” lui ʼn verklaring van die vereniging.

Kinders minder siek

Sapa sê egter beskikbare bewyse dui daarop dat kinders minder geneig is om ernstig te siek te word as hulle die virus opdoen en boonop minder geneig is om dit aan ander oor te dra. Behoorlike maatreëls kan dié risiko selfs verder verminder.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het onlangs ook syfers bekend gemaak oor hoe die virus verskillende ouderdomsgroepe raak. Dit wys dat jong kinders tydens die eerste en tweede vlaag van die virus die minste geraak is.

OuderdomsgroepGevalle gedurende eerste vlaag van die virusGevalle gedurende tweede vlaag van die virus
0-43 1045 465
5-93 5776 927
10-146 09911 542
15-199 75820 582
20-2414 14933 556
25-2927 33249 157
30-3434 00055 633
35-3934 31957 087
40-4429 27349 730
45-4926 76648 283
50-5423 30544 507
55-5918 50238 675
60-6411 08829 589
65-696 25020 337
70-744 10614 503
75-792 7048 665
80 en ouer3 7838 954
Onbekend1 7194 629

 

Sapa sê ook kinders en adolessente is minder vatbaar vir die virus as diegene in ander ouderdomsgroepe en word minder in hospitale opgeneem, sou hulle die virus opdoen.

Teen 2 Januarie het mense jonger as 19 jaar altesaam 9,2% van laboratorium-bevestigde Covid-19-gevalle uitgemaak, asook 3,9% van alle Covid-19-verwante hospitaalopnames. Dít terwyl die ouderdomsgroep 37% van die land se bevolking verteenwoordig.

Onderwysers

Sapa sê onderwysers loop dieselfde risiko as enigiemand anders in die samelewing om Covid-19 op te doen. Onderwysers en nie-onderwysers het ʼn soortgelyke Covid-19-infeksiekoers wat wys skole is nie ʼn plek waar verhoogde oordrag plaasvind nie en ook nie plekke wat gemeenskapsoordrag verhoog nie.

“Onderwysers loop nie ʼn groot gevaar om deur kinders aangesteek te word nie. Onderwysers het ʼn groter kans om die virus van ander volwassenes, byvoorbeeld kollegas in die teekamer, tuis of in die gemeenskap, op te doen.”

Onderwysers met onderliggende siektetoestande loop wel ʼn groter gevaar om die virus op te doen. Dié onderwysers moet eerder aan laer-risiko-bedrywighede by die skool deelneem, of kan byvoorbeeld aanlyn klas gee.

Terug skool toe

“Sapa steun die standpunt dat kinders moet terugkeer skool toe so gou as wat veilig moontlik is. Die meeste kinders, ook dié met asma, allergiese toestande en MIV, kan terugkeer.”

Die vereniging sê egter kinders met sekere toestande, waaronder harttoestande, orgaanversaking of chroniese asemhalingsiektes, is waarskynlik veiliger tuis.

Sapa sê ook sentrums vir vroeë kinderontwikkeling bevorder fisieke gesondheid, emosionele veiligheid, sosiale bande en ʼn betrokkenheid by die leerproses. Die heropening van dié sentrums bied broodnodige steun aan kinders en ʼn betroubare opsie vir ouers wat moet terugkeer werk toe.

Die vereniging sê kinders ouer as ses jaar moet ʼn masker dra om oordrag te voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.