Kleiner renosterbevolking ‘kommerwekkend’ – DA

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die DA sê die syfers wat die departement van omgewing, bosbou en vissery oor renosterstropery bekendgemaak het, is kommerwekkend – ondanks die voortgesette afname in stropery – en dui daarop dat die renosterbevolking naby aan uitsterf is.

Die departement het Maandag die jongste syfers rondom renosterstropery bekend gemaak.

Volgens die syfers het Suid-Afrika verlede jaar ʼn beduidende afname in voorvalle van renosterstropery gehad. Altesaam 394 renosters is verlede jaar vir hul horings in Suid-Afrika gestroop – 33% minder as die 594 renosters wat in 2019 weens stropery doodgemaak is.

Die Krugerwildtuin het verlede jaar 1 573 sogenaamde stropingsaktiwiteite aangemeld – ʼn afname van 21,9% vergeleke met die 2 014 voorvalle wat in 2019 aangemeld is.

Dave Bryant, die DA se woordvoerder oor omgewingsake, bosbou en vissery, sê dié inligting is egter teenstrydig met dít wat die DA op voetsoolvlak verneem.

“SANParke het nou syfers bekend gemaak wat ʼn somber prentjie oor die toekomstige voortbestaan van renosters in Suid-Afrika skets. Hy het onthul dat daar nog net 3 529 witrenosters en 268 swartrenosters in SANParke oor is. Hierdie syfers is kommerwekkend en bevestig dat die wit- en swartrenosterbevolking van Suid-Afrika byna uitsterf,” sê Bryant.

“Dit is nou duidelik dat die enigste rede waarom SANParke beweer dat renosterstropery afgeneem het, is omdat stropers eenvoudig sukkel om renosters te vind om te stroop.”

Bryant sê dit is hartseer dat stropery selfs met die lae getal renosters steeds voortduur omdat renosterhoring van soveel waarde is.

“Die astronomiese waarde van renosterhoring, wat vir meer as goud of kokaïen verkoop, sal stropers bly lok, tensy die departement ernstige en dringende stappe doen om in te gryp.

“Daar moet meer gedoen word om teenstroperypogings te vermeerder en om moontlike korrupsie binne die reservate die hoof te bied.”

Die DA doen ʼn beroep op Barbara Creecy, minister van omgewing, bosbou en visserye, om in te gryp en ʼn omvattende en deursigtige inligtingsessie oor die renoster-situasie aan te bied.

“Renosterstropery sal op 16 Februarie op die agenda wees wanneer die portefeuljekomitee vergader en ons hoop om dan meer antwoorde te kry.

“Die regering kan nie aanhou ander pad kyk terwyl byna 70% van die renosterbevolking reeds uitgeroei is nie. As daar nie dringend opgetree word nie, kan ons renosters binne ʼn geslag uitsterf en sal ons kleinkinders die diere net op foto’s en in dokumentêre programme sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Suzette ·

Die stropers sal nie rus tot daar amptelik niks meer van die spesie oor is om te stroop nie. Dan beweeg hulle aan na die volgende spesie.

christo ·

Natuurlik sal renosterstropery afneem, want daar is so min oor om te stroop. Die volgende spesie wat geteiken word is die ietermago. ‘n Skugter spesie wat nie hom eers self kan beskerm nie. Dis hoogtyd dat Suid-Afrikaners die Oosterse lande se goedere boikot. Die Oosterlinge dae sogenaamde kultuur van tradisionele medisyne is snert. Die Covid-19 virus is regstreeks verbind aan die ‘ wettige ‘ lewendige wilde dieremark.

FBS ·

Baie dankie vir die artikel ek hoop net alle party lees dit. Ons poog al n paar jaar om mense bewus te maak dat ons wilde dier getalle onder druk is, maar deur die leuens wat versprei word deur die “groen gemeenskap” om teëling te stop is die groot oorsaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.