Kleuterskole meer as net ‘oppassentrums’

Verskeie faktore dra by tot die optimale ontwikkeling van ʼn kind en welstand is deurslaggewend in die vroeë leer- en ontwikkelingsgebied. (Argieffoto)

Voorskoolse sentrums wat ʼn goed saamgestelde kurrikulum onder leiding van gekwalifiseerde opvoeders volg, se leerders kry die nodige blootstelling en ingryping om op koers te bly met die ontwikkeling wat vir skoolgereedheid moet plaasvind.

Tog, waarsku Marietjie Havenga, ʼn onderwysspesialis in die kleuterskoolfase by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), is daar nog te veel voorskoolse sentrums wat as oppassentrums dien – en nie as ontwikkelingsentrums vir die optimale ontwikkeling van die holistiese kind nie.

Maroela Media het vroeër berig ʼn onlangse opname oor kleuters se leergereedheid het bevind dat bykans die helfte van vier‑ tot vyfjariges wat sentrums vir vroeë kinderontwikkeling bywoon, nie op dreef en gerat is vir gr. R nie. Die helfte van die groep wat geassesseer is, kon nie die take doen wat van hulle verwag is nie en ʼn kwart van hulle funksioneer nie op die sosiale en emosionele vlak vir hul ouderdomsgroep nie.

Die SOS sê egter verskeie faktore dra by tot die optimale ontwikkeling van ʼn kind en welstand is deurslaggewend in die vroeë leer- en ontwikkelingsgebied. Dit dien ook as grondslag vir verdere leer.

“Voorskoolse ontwikkeling en die blootstelling van ʼn opvoedkundige, stimulerende omgewing wat die leerders ontvang, kan nie van mekaar geskei word nie. In die praktyk sien ons dat leerders wat ʼn goeie taalfondament het oor die algemeen gemaklik die ander ontwikkelingsmylpale behaal,” sê Havenga.

“Taalontwikkeling begin reeds voor ʼn baba se geboorte. Die wisselwerking tussen ʼn baba en die primêre versorger het ʼn direkte invloed op die nodige taalontwikkeling wat moet plaasvind nog voordat daardie kind in ʼn voorskoolse sentrum geplaas word.”

Volgens die SOS druip diegene wat in die grondslagfase druip, gewoonlik hul huistaal. In vroeë kinderontwikkeling is taalontwikkeling juis ʼn bekommernis, aangesien kleuters nie begrip toon vir wat die opvoeder sê nie.

Havenga sê kinders wat blootstelling aan taalryke leerervarings kry, het ʼn sterk grondslag waaruit ander leer kan voortspruit.

Taalryke leerervarings in die voorskoolse jare sluit aktiwiteite in waar daar gereeld luister en praat plaasvind deur kommunikasie, musiekaktiwiteite, luisteroefeninge, wisselwerking deur byvoorbeeld spel, storievertelling en prente-lees.

“In die praktyk ervaar ons dat leerders meer komplekse woorde verstaan en korrek in konteks kan gebruik en begrip toon oor wat bespreek word, indien daar goeie en gereelde blootstelling aan die woordeskat is,” sê Havenga.

“Leerders wat nie hierdie blootstelling het nie, ervaar meer uitdagings en die onderskeid tussen die leerders word al hoe groter. Die voorskoolse sentrum bou voort op die grondslag wat in die eerste drie jaar van die kind se lewe gelê is.”

Die navorsing het voorts gewys dat 65% van kinders (tussen vier en vyf jaar oud) nie in die leerprogramme wat hulle bywoon, floreer nie. Hulle voldoen ook nie aan die verwagte vroeë leer- en/of fisieke groeistandaarde vir hul ouderdom nie, wat beteken dat hulle gr. R met ʼn aansienlike agterstand sal afskop. Dít kan moontlik ook langtermyngevolge vir hul opvoeding inhou.

Die indeks dui voorts aan dat 55% van kinders wat VKO-programme bywoon, nie die leertake kan doen wat van kinders van hul ouderdom verwag word nie, met 28% van kinders wat ver onder die verwagte standaard val.

Havenga sê welstand is geïntegreerd in alle ander vroeë leer- en ontwikkelingsgebiede, naamlik identiteit en samehorigheid, kommunikasie, verkenning van wiskunde, kreatiwiteit, asook kennis en begrip van die wêreld. Leerders se basiese welstand en behoeftes moet eers bevredig word voordat hoër kognitiewe funksies kan ontwikkel.

“Ons kry gereeld leerders wat Afrikaans as ʼn tweede taal praat in ons Afrikaanse skole en VKO-sentrums,” sê Havenga.

“Die ouers se motivering om hul kinders in ʼn Afrikaanse skool te plaas, is volgens hulle ʼn waardegedrewe besluit. Die meeste van hierdie leerders ervaar aanvanklik ʼn leeragterstand omdat die woordeskat wat in die klasse gebruik word, nog onbekend is vir hulle. Die agterstand kan wel oorbrug word indien daar deurlopende ryk leerervarings geskep word deur die opvoedkundige instansie én die huis, en die leerders boonop gereeld blootgestel word aan aktiwiteite wat hul Afrikaanse taal ontwikkel. Hoe vroeër die blootstelling, hoe vinniger die oorbrugging.”

Vroeë kinderontwikkelingsentrums het onlangs van die departement van maatskaplike dienste na die departement van onderwys oorgeskakel en Havenga sê dit behoort sommige van die lamgtermynknelpunte te pak.

“VKO-sentrums gaan ʼn kurrikulum moet volg en daar gaan vereis word dat voorskoolse opvoeders gekwalifiseerd moet wees. Ander voordele wat basiese behoeftes aanpak, word ook beplan, byvoorbeeld voedingskemas en subsidies.

“Opvoeders wat voortgesette opleidingsessies bywoon, aandag skenk aan professionele ontwikkeling en ʼn netwerk met ander kundiges vorm, het die nodige kennis en ondersteuning om te verseker dat hul leerders op koers bly met voorskoolse ontwikkeling,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Toy ·

Ag asb, dis nie net oppassentrums nie, my kinders was in goeie kleuterskole gewees wat hulle goed voorberei het vir skool.

AmY ·

In die 70’s was dit oppas sentrums gewees.
Al wat ek kon doen voor ek grootskool toe is, was om op een been te staan of te spring, en om my naam te skryf.
Al wat ek van my kleuter skool-dae onthou was slaap en eet en spoeg en plak.
Geen wonder ek is vandag nie die skerpste potlood in die pakkie nie.
Vandag se kleuterskole is fantasiese opvoedkundige sentrums.

Pietertjie ·

Dis maar wat gebeur as onopgeleide en/of onbetrokke “personeel” by hierdie primêre opvoedingsentrums aangestel word.

Marius ·

Kinders word rypgedruk. Wat het geword van tolletjie brei, speel met klei en om te speel soos ‘n kind moet. Skoolwerk en formele skool onderrig moet eers begin met Gr 1.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.