Klimmuur-spoedvraat op pad na Spele

Die Oos-Kaapse klimmuur-spoedvraat Aniya Holder (22) pak binnekort haar tasse vir die Olimpiese Spele. (Foto: Verskaf)

Die Oos-Kaapse klimmuur-spoedvraat Aniya Holder (22) pak binnekort haar tasse vir die Olimpiese Spele.

Dié skouspel skop aan die einde van Julie in Parys, Frankryk, af.

Holder het haar plek in die Suid-Afrikaanse span tydens die International Federation of Sport Climbing African Qualifier in Desember bespreek.

Holder het geen ondervinding van internasionale mededinging buite die Afrika-kontinent nie en vir haar gaan Parys ʼn geleentheid wees om ervaring op te doen – en dit bloot net te geniet.

Sy is die enigste vroueatleet wat in die spoed-item by die Spele in aksie gaan wees. Wat haar insluiting in die span merkwaardig maak, is die feit dat sy eers in Oktober 2022 met spoedklim begin het.

Holder het aanvanklik met die bouldering en “lead climbing” begin.

Sy het ʼn week ná die African Continental Championships in Desember 2021 van haar vingers gebreek en was gaandeweg besig om van haar besering te herstel, toe sy net vier maande later haar elmboog ná ʼn klimsessie ontwrig.

Spoedklim behels nie soveel tegniese vaardighede soos bouldering en “lead climbing” nie.

Holder sê egter dit het baie stremming op haar liggaam veroorsaak.

Sy het as 17-jarige aan haar eerste amptelike kompetisie deelgeneem waar sy ʼn goue medalje ingepalm het.

Aniya Holder (22). (Foto: Verskaf)

By die Spele wil sy op haar persoonlike beste tyd van 10,10 sekondes verbeter. En sy hoop ook om die Afrika-rekord van 11,10 sekondes te laat spat.

Daarom is haar fokus nie spesifiek op ʼn medalje nie, maar eerder op die verbetering van hierdie tye.

“Natuurlik gaan ek myself teen die bestes ter wêreld meet. Ek het egter geen benul hoe my mededingers lyk nie. Ek wil teen myself meeding en myself tot die uiterste druk.”

Sy gee toe dat die insluiting in die span haar wildste drome oortref het.

“Ek het van kleins af gedroom om as toeskouer ʼn Spele van naby te sien, maar ek het nooit gedink dat ek as atleet sal deelneem nie.”

Holder is intussen druk besig om vir die Spele by die Valley Crag Indoor Climbing Centre in Gqeberha voor te berei.

Die enigste muur wat aan die Olimpiese vereistes voldoen, is in Johannesburg. Dit beïnvloed nie haar einddoel nie. Sy het net toegang tot ʼn 6 m hoë muur en moet voortdurend na Johannesburg vir oefening reis.

Sy staan soggens 04:00 op en oefen van 05:00 tot 08:00. Die dag begin met algemene fiksheid en daarna volg ʼn paar spoedklimme. Saans ná werk doen sy kragoefeninge en naellope.

En hoogtevrees? Daardie mure is darem baie hoog … Holder sê daar is gʼn tyd om eens twee keer hieraan te dink nie.

Die klimmuur-gogga het haar as 13-jarige gebyt nadat sy ʼn maat by ʼn gimnasium ontmoet het.

“Dit het so interessant gelyk en ek was vasberade om self hierdie sport te beoefen.”

Ná nege jaar wink Olimpiese glorie.

Vandat sy kan onthou klim en klouter sy orals op waar sy kan, maar Holder vertel sy is ook lief vir dans, karate en boogskiet.

Die sportkode het sy buiging by die 2020-Spele in Tokio gemaak. Holder neem eers aan die kwalifiserende rondes deel waar sy hoop om tot die finaal op 8 Augustus deur te dring.

Aniya Holder. (Foto: Verskaf)

Saam met haar in die Suid-Afrikaanse rotsklimspan is Joshua Bruyns (in die spoedklimkategorie vir mans), Mel Janse van Rensburg (in die bouldering-kategorie vir mans) en Lauren Mukheibir (in die bouldering- en “lead climbing” kategorie vir vroue).

Hulle vertrek in Julie vanjaar en gaan aan twee ander kompetisies in Frankryk deelneem wat onafhanklik van die Olimpiese Spele is. Dit sal as voorbereiding dien vir die Spele wat vanaf 26 Julie tot 11 Augustus in Parys plaasvind.

Holder se droom het darem ook ʼn bietjie van ʼn finansiële hupstoot gekry. Sy het vroeër onverwags ʼn oproep van die span by Jacaranda FM se Good Morning Angels gekry met Everest Wealth wat R100 000 tot haar droom bydra. Dit sal nie net haar vlugte na en van Johannesburg vir broodnodige oefensessies borg nie, maar sal ook haar internasionale reis na Parys dek.

“Ek het glad nie geweet wat om te verwag nie. Ek was so oorweldig en emosioneel. Dit het my nuwe moed gegee om my liefde vir die sport op ʼn internasionale vlak te kan uitleef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.