Klomp vuurwapens verdwyn glo ná polisie se ‘klopjag’

‘n Voertuig waarmee sommige van die items waarop die polisie beslag gelê, weggery is. Daar was glo geen kwitansies hiervoor uitgereik nie.

Drie jaar nadat die polisie ʼn onregmatige klopjag op ʼn onskuldige wapenhandelaar van Pretoria uitgevoer en op sy wapens beslag gelê het, sukkel die handelaar steeds om die wapens terug te kry en weet selfs die polisie skynbaar nie waarheen dit verdwyn het nie.

Die polisie het in Desember 2019 beslag gelê op meer as 500 van Christophe Roelofse se vuurwapens en duisende patrone, maar steeds is geen klagte teen hom aanhangig gemaak nie. Hy sukkel boonop nou om antwoorde – en die wapens – uit die polisie te kry.

Dít, sê Roelofse nou, lê die sistemiese mislukkings van die polisie bloot en is ʼn sprekende voorbeeld van ʼn kultuur van “geen gevolgbestuur nie” vir polisiebeamptes wat hulle aan mag vergryp.

Die stryd teen die polisie het Roelofse reeds honderde duisende rand aan regskoste gekos.

“Dit het ook my onderneming prakties tot stilstand gedwing en my goeie naam as vuurwapenhandelaar skade berokken.”

ʼn Groep polisiebeamptes het destyds oënskynlik onder valse voorwendsels op sy vuurwapenstoor op Bashewa, oos van Pretoria, toegeslaan.

Ten spyte van verskeie polisieondersoeke, is daar tot vandag toe ook geen klagte teen hom aanhangig gemaak nie.

Luidens beëdigde verklarings het die groep polisiebeamptes op Donderdag 12 Desember 2019 by die perseel aangekom en in ʼn klopjag wat oor etlike dae gestrek het, op onder meer 528 vuurwapens beslag gelê. Ene kapt. De Vos, glo verbonde aan die provinsiale ondersoekeenheid by die Gautengse speurdiens, was na bewering in beheer van die klopjag.

Roelofse lewer gereeld bydraes oor verwikkelinge in die vuurwapenbedryf. (Foto: Wild&Jag/Game&Hunt)

Roelofse is aanvanklik daarvan beskuldig dat onwettige vuurwapens in sy besit is. Maande later is hierdie aantyging gewysig en Roelofse is daarvan beskuldig dat die vuurwapens onwettig gestoor was. Nou is die bewering dat die gebou waarin die wapens gestoor is, ongeskik vir die hoeveelheid vuurwapens was.

Roelofse voer egter aan die kwansuise klopjag was ʼn kwalik bedekte poging van die grondeienaar om die onderneming met die hulp van die polisie van die perseel in Bashewa af te skop.

Talle wapens word vermis

Van die items, soos plofstof, is saam met ander items in ‘n bewysstukstoor geberg.

Hy voer ook aan die polisie kan nou geen behoorlike rekenskap gee van die vuurwapens waarop beslag gelê is nie. Nadat daar op die perseel toegeslaan is, is die vuurwapens op ʼn vragmotor weggery, glo om in die Welbekend-polisiestasie se algemene 13-bewysstukstoor ingeboek te word.

Hoewel ʼn getal van 528 vuurwapens genoem word, is daar geen bewys dat die polisie net met dié hoeveelheid wapens vort is nie. Roelofse het geen kwitansie vir die gekonfiskeerde items van die polisie ontvang nie of ʼn afskrif van die inventaris wat bygehou is nie.

Die vuurwapens het glo nooit by die Welbekend-polisiestasie aangekom nie en dit blyk dat die wapens na bewering aan De Vos uitgeteken is. Dit is glo strydig met polisieprosedures.

Die polisie het volgens Roelofse ook nooit ʼn lasbrief aan hom voorgehou nie, hoewel hy herhaaldelik met inhegtenisneming gedreig is.

Die inskrywings vir die bewysstukstoor is glo vaag, met stellings soos “1 box with 5 firearms”. Die ammunisie waarop beslag gelê is, is glo ook nie behoorlik verreken nie en het glo dae later eers by die polisiestasie uitgekom.

“Dit is ook onduidelik op grond waarvan die klopjag uitgevoer is. ʼn Ondersoeknavraag is ʼn dag ná die klopjag eers amptelik by die polisie aangeteken en dié ondersoek is reeds weer op 18 Desember 2019 afgesluit,” sê Roelofse.

“Daar was geen beskikkingsbevel nie en die wapens, ammunisie en ander items is nie terugbesorg nie.”

Hy sê die polisie het in Oktober 2020 aan sy regspan ʼn formele onderneming gegee dat die wapens terugbesorg gaan word. Dit het steeds nie gebeur nie.

Nou blyk dit dat talle van die vuurwapens glo uit die polisie se besit verdwyn het. Tussen 60 en dalk soveel as 100 van die vuurwapens waarop beslag gelê is, is glo reeds in ander mense se besit.

Wie hierdie mense is en hoe ʼn wapenhandelaar se wapens – waarop die polisie vir “veilige bewaring” beslag gelê het en wat as bewysstukke beskou kan word – deur die sentrale vuurwapenregister aan iemand anders oorgedra kan word, is een van vele onbeantwoorde vrae, sê Roelofse.

“Nie een van die meer as 20 senior polisiebeamptes, insluitend die nasionale polisiekommissaris  wat hieroor ingelig is, het enigiets aan die saak gedoen nie.”

Daar is drie klagtedossiere oor die voorval teen beamptes aanhangig gemaak, met klagtes wat wissel van roof, diefstal en korrupsie tot sameswering tot intimidasie. Meer as twee jaar later het niks nog daarvan gekom nie.

Roelofse se regspan is reeds besig met ʼn skadevergoedingseis teen die minister van polisie en dit kan glo miljoene rand beloop. Hulle beoog ook om die betrokke polisielede moontlik privaat te laat vervolg.

Baie vrae, weinig antwoorde

Christophe Roelofse is ‘n bekende in vuurwapen- en jagkringe. (Foto: Wild&Jag/Game&Hunt)

Kobus Hoffmann, ʼn VF Plus-lid van die Gautengse wetgewer, het verlede maand vrae aan die LUR vir gemeenskapsveiligheid in Gauteng, Faith Mazibuko, oor die voorval gerig. Hoffman wou onder meer weet waar die vuurwapens is, of die wapens by die Welbekend-polisiestasie is, en wat die rede vir die beslaglegging was.

Mazibuko het geantwoord dat die wapens inderdaad by die Welbekend-polisie se bewysstukstoor ingeteken is. Volgens haar is daar op die wapens beslag gelê omdat die gebou nie geskik was vir die hoeveelheid vuurwapens nie.

Op ʼn vraag oor die verband tussen De Vos – wat die klopjag gelei het – en die Welbekend-polisiestasie, het Mazibuko nie geantwoord nie.

“Die LUR se vae antwoorde is nog ʼn aanduiding van die sistemiese mislukking binne die polisiediens en ʼn aanduiding dat niemand aanspreeklik daarvoor gehou word nie,” sê Roelofse.

“Die belangrikste vraag van almal is: As ek van geen misdaad beskuldig word nie, waarom nie die wapens waarop beslag gelê is, aan my terugbesorg nie?”

Roelofse het in September 2020 ook ʼn klagte by die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat aanhangig gemaak. Lizzy Suping, woordvoerder, het by navraag gesê die polisie ondersoek die saak.

“Dit val nie binne Opod se mandaat nie.”

Maroela Media het ook ʼn navraag aan die Gautengse polisie gerig en hul kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Flip ·

Hoekom is ek nie verbaas nie. Hulle kan maak nes hulle wil met geen gevolge nie, dit terwyl daar moontlik van die wapens nou in kriminele se besit is…….

Nie Verbaas ·

Die man het sekerlik tog nie verwag dat hy sy vuurwapens sou terugkry by ons “uitsonderlike” polisiemag wat met “integriteit” hulle pligte uitvoer nie.

Bertie ·

‘n Mens raak regtig moeg om elke dag sulke stories van korrupsie, onbekwaamheid en ‘n gebrek aan aanspreeklikheid te lees. En in my agterkop weet ek dit gaan nooit ophou nie, nie solank die aasvoëls in beheer van die jagveld is nie.

Christine ·

Die polisie bedryf waarskynlik ‘n ondergrondse besigheid van vuurwapens en ammunisie wat verkoop word aan ongelisensieerde kriminele.

Danie ·

Mnr Roelofse ek het simpatie vir jou en daar gaan niks gebeur nie.Ek bewus van soortgelyke gevalle, korrupsie is aan die stuur van sake by die polisie.Die vrot spulletjie steur hulle nie eers aan enige hooggeregshof bevele nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.