Koalisies nou ‘leerskool’ vir 2024 (en daarna)

(Foto: Reint Dykema)

Die verkiesing van dr. Murunwa Makwarela tot burgemeester van Tshwane het die afgelope week hernieude vrae laat ontstaan oor die sukses van koalisieregerings.

Makwarela beklee Cope se enigste setel in die Tshwane-metro – maar nou ook een van die magtigste posisies in die raad. Dié verwikkeling het inwoners van die stad, wat deur ʼn veelpartykoalisie regeer word, met groot onsekerheid gelaat.

Dit het ook opnuut gevaarligte laat flikker oor die kwessie óf koalisieregerings in Suid-Afrika kan slaag.

Dr. Corné Mulder, VF Plus-LP en voorsitter van die koalisiegroep, glo dit kán.

Hy sê Mukwarela se verkiesing verander nie die uitslag van die 2021-verkiesing nie en indien die regte raadslede in die regte posisies geplaas word, kan die meerderheid herstel en ʼn mosie van wantroue in die burgemeester ingestel word.

Eers moet die verraaiers wat in weerwil van hul politieke partye se opdrag vir Makwarela gestem het, uitgesnuffel word. Dit is dié individuele lede wat ʼn koalisie kan kelder.

Mulder sê leiers van die verskillende koalisievennote bly verbind tot die samewerkingsproses. “Sommige individuele lede binne die koalisiepartye is opportuniste. Hoekom stem jy teen jou party se besluit? Wat is aan jou belowe?”

Cilliers Brink was die koalisie se burgemeesterskandidaat in Tshwane. Hy stem saam dat die betrokke partye en hul leiers verbind bly tot die sukses van koalisies en sê die vennote is op dieselfde bladsy en het ʼn gemeenskaplike doelwit.

Net soos Brink meen Mulder ook indien samewerking berus op dieselfde waardesisteme, selfs al verskil die betrokke partye se beleidsrigting en ondersteuningsbasis, kan ʼn sinvolle meerderheid saamgestel word.

Prof. André Duvenhage, navorsingsdirekteur by Fokusarea Sosiale Transformasie, glo die probleem met stabiele koalisies is gegrond in die waardes en etiese begronding van politiek en politieke optrede. Hiervan is daar nie aldag té veel in omloop nie, sê hy.

Duvenhage verwys onder meer na grootskaalse staatskaping, die André de Ruyter-sage en die Phala Phala-skandaal.

Hy meen die Suid-Afrikaanse politiek is dalk nie gereed vir koalisies nie, maar dat dit bepaald die politieke voorland is.

“Ek dink, wanneer dit op nasionale vlak kom, gaan daar sterker ooreenkomste wees omdat daar meer op die spel is.”

Hy bestempel koalisiepolitiek op plaaslike vlak egter tot dusver as ʼn “mislukking”.

“Wat ʼn mens kán sê, is dat raamwerke geskep moet word om koalisies te organiseer.”

Dit sluit in formele ooreenkomste wat bindend op die partye is. Duvenhage sê wetgewing sal waarskynlik ook gewysig moet word om in die toekoms meer struktuur aan koalisies te gee.

Dit gesê gaan die ANC nie geneë wees om net van mag afstand te doen nie en hy sal alles moontlik doen om in beheer te bly, sê Duvenhage.

“Dít moet jy uit die staanspoor aanvaar. As jy kyk na vlakke van korrupsie en nepotisme en ʼn parallel met Zimbabwe getrek word, kan dit nie uitgesluit word dat die ANC ʼn verkiesing kan bewimpel soos Zimbabwe dit gedoen het nie.”

Vir opposisiepartye lê daar dus ʼn opdraande stryd voor – en ʼn stryd wat geen enkele opposisieparty op sy eie gaan wen nie. Mulder stem ook saam dat die ANC nie net opsy gaan staan as hy ʼn verkiesing verloor nie.

“Ons sien dit tans uitspeel in die metro’s en dit is vir ons ʼn reuseleerskool in die proses,” sê hy.

Mulder sê die VF Plus, wat deel vorm van talle koalisieregerings landwyd, het hom tot dusver as betroubare vennoot bewys wie se lede by ooreenkomste hou en hulle vir die breër belang beywer. Hy meen Cope se geloofwaardigheid as betroubare koalisievennoot is vernietig en het toegelaat dat hy deur die ANC en EFF misbruik word.

“Kiesers moet weet watter partye om te vermy want hulle gaan jou stem steel en vir die ANC gee.”

Mulder sê in Tshwane, byvoorbeeld, is kiesers met rede bekommerd.

“Daar is ʼn marionet van Cope verkies en die ANC en EFF gaan sy toutjies trek.”

Makwarela is tot burgemeester verkies nadat sommige raadslede van binne die koalisie aangespoor is om bande met die koalisie te verbreek en Makwarela te ondersteun.

Op dié manier is die sogenaamde marionet as deel van ʼn “verskuilde strategie” voorgestoot.

Brink sê koalisievennote moet daarom ʼn stabiele koalisie en stabiele regering bou, “sodat ons weet die beloftes wat ons aan die mense maak, word nagekom”. As daar dus “genadeloos” binne die koalisie opgetree moet word om te verseker dat beloftes wat aan kiesers gemaak is nagekom word, is dit wat gedoen moet word.

En indien kandidate nie hul beloftes nakom nie, sal hulle vervang word met diegene wat dit wél doen, sê Brink.

“As ons koalisies hier [in Pretoria] kan laat slaag, gee dit hoop en dalk ʼn paar lesse om te leer in die regering van Gauteng en moontlik Suid-Afrika,” sê Brink.

Mulder sê ook wanneer kiesers hul kruisies trek, moet hulle weet dat ʼn party nie later hul stem gaan misbruik om die ANC aan bewind te hou nie. Volgens hom neem partye soos die ANC en EFF aan demokratiese prosesse deel, maar daar is niks wat hulle sal doen om terselfdertyd demokratiese prosesse te stuit nie.

“Dit is een ding om te sê jy is ʼn demokraat; dit is ʼn ander ding om dit te bewys as jy die mag verloor… vir die ANC om te sê ‘hier is die sleutels tot die Uniegebou en ons is nou die opposisie’.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.