Koebaai, e-tol

Die gewraakte e-tolstelsel op sommige van Gauteng se paaie is amptelik iets van die verlede. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

Die gewraakte e-tolstelsel op sommige van Gauteng se paaie is amptelik iets van die verlede.

Die aankondiging is Woensdag gedoen tydens ʼn gesamentlike mediakonferensie deur Sindisiwe Chikunga, minister van vervoer, Panyaza Lesufi, Gautengse premier, Themba Mhambi, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Padagentskap (Sanral), asook Sanral se uitvoerende hoof, Reginald Demana.

“Ons staan op die vooraand van geskiedenis; teen môre [Donderdag] om middernag sal die e-tolheke nie meer geld invorder van ons hier in Gauteng nie,” het Lesufi gesê.

“Uiteindelik is e-tol nou geskiedenis.”

Lesufi sê die opskort van die stelsel bring ʼn einde aan iets wat die provinsie in die eerste plek nooit wou gehad nie. Lesufi het Sanral ook bedank vir sy samewerking om die stelsel te beëindig.

Die e-tolstelsel is op 3 Desember 2013 in werking gestel om die skuld van die Gautengse hoofwegverbeteringsprojek (GFIP) te delg.

Ná jarelange teenkanting en duisende motoriste wat eenvoudig verseg het om hul e-tolrekeninge te betaal, word die stelsel nou môre om 23:59:59 afgeskakel.

Wat motoriste se uitstaande e-tol-skuld betref het Chikunga gesê planne hiervoor is reeds beraam.

Die stelsel sal in die toekoms glo ook gebruik word vir misdaadbekamping.

  • Hou Maroela Media dop vir meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Korrelkop ·

Sien is glo. Seker al die 5de keer dat hulle aankondig dat die eTol “iets van die verlede” is… en steeds betaal ons

domheks ·

Wat van die geld wat die ‘getroue’ betalers maandeliks betaal het? Kan Lesufi vir ons duidelikheid gee?

Henker ·

Domheks, mag die betalers nie eers 1c terugkry nie. Toe ons gevra het, manne staan saam het baie hensoppers die skip gespring en e tags gekoop en begin betaal wyle die vasbyters die oorlog alleen geveg het. Nou dat die oorlog gewen is wil hulle terug op die skip klim? Aikona

Walter ·

Stem ook 100% saam met Henker, jammer vir die wat nie wou luister nie en wel betaal het

Daisy ·

Stem saam m.et Henker.
Ek kan eerlikwaar se ek het nie R1 op tolhekke betaal nie

Elize ·

Stem saam met Henker. Het nog nooit dit betaal nie en sal ook nie

E ·

Stem saam met Henker, ek self het Outa betaal om die stryd te stry met ons.

hendrik ·

Ek stem saam met Henker het nog nooit en Sal ook nooit daar oor betaal het nie. Die spul draadsitter wat nou skree kry vir julle die oorlog is gewen deur die wat nie saam oor die draad wou klim nie. Saam staan is die antwoord en hou voet by stuk.

Anel ·

Wst hy nie sê nie, is dat hulle die geld op ‘n ander manier gaan kry. Onthou, die a en c doen niks sonder om munt te slaan daar uit nie. Hierdie is net oë verblindery. Moet Ledufi nie eens met ‘n ysblokkie vertrou nie!!!

Miskruier ·

Stem saam Henker, dis al hoe ons n toekoms in dié land sal hê. Dalk sommer besluit nuwe nommer plate is ook n geldmaak foefie van die regering.

Adri ·

Geld dit vir die tolhekke by die op- en afritte ook of net oorhoofse tolhekke?

Vanessa ·

Snaaks hoe vinnig alles nou gebeur voor die verkiesing. Ek wonder maar net. Geen loadshedding, etoll wat gestop word (he he) nee wat hulle flous my nie!!!!!

George ·

@Domheks, kan ek Marionhill tolgelde terug gaan vra omdat ek laasjaar betaal het, maar nie die jaar nie?

Saartjievandiebosveld ·

Totsiens e-tol…..hallo Baie hoër brandstof pryse

AREND1 ·

Maar dit is meer gerieflik om n e tol skyfie te he by die gewone tolhekke.Jy staan nie in lang rye nie.Jy ry net deur.

Nefie ·

Die tydsberekening is verseker nie toevallig nie.
Dis net so hartseer dat ons van die begin af (2011?) toe ons gehoor het van dit geweet dis ‘n belaglike idee. Êrens op een of ander manier sal dit seker uit ons almal se sakke kom.

Zilla ·

Dis alles goed en wel. Ek het ook geweier om te betaal. Maar wat gaan die kondisie van ons snelwee wees as Sanral onttrek? Dis wat my bekommer

Zilla ·

Ai, wou nog se hulle moet die ligte aan hou – dis baie mooi en help met beligting op die pad

Jeanette ·

Man hierdie verdomde regering moet AL en ek se AL die etol hekke van ons land se paaie afhaal, hulle maak miljoene per dag met al die voertuie op die paaie, en hoeveel van daardie fondse word aangewend vir herstel aan paaie want dit gebeur nie, alles gaan sakke toe

Jeanette ·

Man hierdie verdomde regering moet AL die etol hekke van ons land se paaie afhaal, hulle maak miljoene per dag met al die voertuie op die paaie, en hoeveel van daardie fondse word aangewend vir herstel aan paaie want dit gebeur nie, alles gaan sakke toe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.