Koedoe Eksteen vertel sy storie

Dr. Riaan Eksteen (links) en Frans Stroebel, gespreksleier, by die bekendstelling van Eksteen se outobiografiese boek, “Beyond diplomacy”. {Foto: Johannes Froneman)

Wanneer ʼn deurwinterde diplomaat, SAUK-baas, adviseur en uiteindelik bewese navorser sy storie vertel, kan jy maar jou ore spits.

Die publikasie van Riaan “Koedoe” Eksteen se boek Beyond diplomacy (Protea) bied aan lesers ʼn kykie agter die skerms van sommige van die gebeure wat die skrywer oor ʼn baie lang loopbaan meegemaak het.

Die boek is vroeër die week op Stellenbosch bekend gestel, in die teenwoordigheid van sommige van die mense wat ʼn lang pad met hom gestap het. Dit het Ton Vosloo, gewese joernalis en voorsitter van Naspers, ingesluit, wat ook die voorwoord vir die boek geskryf het.

In ʼn gesprek met ʼn vorige kollega, Frans Stroebel, voor ʼn groepie vriende en familie, het Eksteen, wat volgende week tagtig jaar oud word, boeiend en met humor vertel van sommige gebeure in sy lewe. Dit strek ver terug — sy loopbaan as diplomaat het immers begin toe dr. H.F. Verwoerd nog premier was.

In die gesprek het hy onder meer vertel hoe hy ʼn “koue rilling” gekry het toe pres. PW Botha sy komende sogenaamde Rubicon-toespraak in Durban teenoor hom as minder belangrik afgemaak het — dit nadat die SAUK reeds allerlei reëlings getref het om die toespraak regstreeks uit te saai en die wêreld se media ʼn groot aankondiging verwag het.

Eksteen sit toe by die SAUK met senior nuusmense en luister na die toespraak. “Dit was die skrikwekkendste tyd wat ek deurgemaak het,” onthou hy.

Hy vertel ook ander staaltjies oor PW Botha, soos hoe die president hom “afgedank” het, maar eintlik het Eksteen eers maande later, ná ʼn skikking met die raad, die diens van die SAUK verlaat.

Dit is voorafgegaan deur ʼn baie vriendelike ontmoeting in Botha se kantoor. Eksteen onthou die president se woorde só: “Meneer Eksteen, ek wil vir jou sê ons het nou wel ons verskille gehad, maar wat my betref kan jy by die SAUK bly net so lank soos jy wil. Jy kan daar ook aftree. As ons nog verskille het, sal ons dit uit die weg ruim.” Toe Eksteen uitstap, dink hy by homself: “Eksteen, nou moet jy weet; die hel gaan op jou neerdaal.” En so was dit ook. Die SAUK-raad het dit daarna vir hom “onmoontlik” gemaak om sy werk te doen, wat dan tot sy uittrede gelei het.

Oor ʼn moontlike ooreenkoms tussen die SAUK en M-Net, wat aan die SAUK ʼn aandeel in M-Net sou gee, vertel Eksteen in sy boek. In die gesprek by die bekendstelling, onthou hy hoe die voorsitter van die SAUK-raad, dieselfde Brand Fourie wat vroeër sy hoof by buitelandse sake was, op ʼn vergadering gesê het: “M-Net sal nooit lewensvatbaar wees nie.” Daarom is die ooreenkoms nie gesluit nie.

Dr. Riaan Eksteen aan die woord by die bekendstelling van sy boek op Stellenbosch. (Foto: Johannes Froneman)

Vandag is die SAUK steeds in die knyp en het M-Net die genoteerde reus MultiChoice geword. In ʼn bydrae van die vloer het Ton Vosloo opgemerk dat as die SAUK destyds met ʼn kommersiële kanaal (TV4) begin het, was M-Net doodgebore. Maar Fourie se “verstommende” besluit het die geskiedenis van die uitsaaiwese in ʼn ander rigting gestuur.

Die ooreenkoms sou ook die “skerp kante” van die verhouding tussen die SAUK en die res van die media sagter gemaak het, meen Eksteen. Dié het nooit gebeur nie.

Oor die verhouding tussen buitelandse sake en die Weermag, skryf Eksteen, maar in die gesprek was sy kommentaar droogweg: “Ek dink mens moet so min as moontlik oor die militêre ouens sê.”

Tog het hy vertel hoe hy die Staatsveiligheidsraad oor die Suidwes-Afrika-kwessie moes bywoon. Pik Botha se opdrag was: “Sê niks, behalwe as jy gevra word.” Botha het as minister sy voorlegging gedoen, waarna genl. Magnus Malan beweer het dat Swapo oor twee maande “militêr heeltemal vernietig” sou wees. Waarop die president sê: “Dit is wat ek wil hoor.”

Maar toe kry Eksteen ook ʼn beurt om iets te sê. Hy sê toe: “Van militêre aangeleenthede weet ek niks nie, maar al wat ek vir u wil sê is dat die oplossing van die Suidwes-Afrikakwessie nie op militêre vlak lê nie. Die probleem is polities en moet polities opgelos word.”

Hieroor is Eksteen deur die direkteur-generaal van buitelandse sake, Brand Fourie, aangespreek. Eksteen vertel dat Fourie met hom saamgestem het oor hoe die situasie opgelos moes word, “maar jy kan dit nie vir die president sê nie”. Verder: “Jy moet jou plek ken.”

Sy minister, Pik Botha, roep hom ook in en sê die president was baie vies. Hy het Pik aangesê om die hoogs ervare ambassadeur Eksteen “lesse in internasionale politiek” te gee. Pik sê toe bloot: “Gaan terug na jou kantoor en doen jou werk.”

Dit raak die kern van die uitdagings waarmee ʼn diplomaat te kampe het en wat in die boek ter sprake kom. In die boek self skryf Eksteen: “In all my years as a diplomat I was determined not to act or be seen as an apologist for the government. It was important to behave as a reliable interlocuter and to always remain credible.” Dit beteken dat hy en sy politieke meesters soms moes bots. Maar met Pik Botha het hy ʼn lang vriendskap gehad.

Vir diegene wat in die politieke geskiedenis belangstel, sal die boek menige insig bied, ondersteun deur allerlei betekenisvolle anekdotes. Uiteindelik is Eksteen se laat “loopbaan” as navorser, ontvanger van ʼn doktorsgraad en skrywer van akademiese artikels ʼn gepaste sluitsteen van ʼn merkwaardige loopbaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jaco ·

Hy was ‘n diplomaat, nie ‘n radio omroeper nie, maar hy word toe hoof van die SAUK. Vreemd. Seker maar kaderontplooiing. Niemand glo my mos nie: dit hét in die ou SA ook gebeur, met lekker jobs vir Broederbonders. En ja, soms het bekwaamheid en ondervinding in daai “goeie ou dae” ook maar nie getel nie.

Piet 6 ·

Jaco, nou praat jy. Dit is 100% die waarheid en dit is wat gebeur het.

piet ·

Was dit nie maar nog altyd so nie, dis wie jy ken en wie bereid is om die meeste te “kruip” (en ja baas te se) om te sien hoe ver hulle kan kom. Ook nie uniek nie, gebeur maar so oral ter wereld. Baantjies vir boeties.

Stephen ·

Julle ken duidelik nie vir Rian nie. Hy was n opgeleide Diplomaat maar het eers as Joernalis gewerk. Hy het n reuse taak by die Diplomatieke diens verrig. Waarom moet daar altyd goedkoop sensasie gemaak word met suksesvolle mense.?
Ek ken Rian persoonlik en hy woon op ons dorp Swakopmund Namibia.

JohanEtz ·

Wonder Hoeveel waarheid in sy stories is. Die dooies kan nie hulself verdedig nie hmm mm. …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.