Koelkop ma red peuter se lewe

Die pediater dr. Pasela Monyake saam met klein Sekani Nzima. (Foto: MNA)

ʼn Peuter het ten volle herstel van ʼn amperse verdrinking, danksy sy koelkop ma se kennis van kardiopulmunêre resussitasie (KPR).

Die 18 maande oue Sekani Nzima het buite saam met sy niggies en nefies en ʼn paar ander vriende by sy ouerhuis in Silver Lakes in Pretoria gespeel. Volgens sy ma, Thandokazi, het hulle ver van die swembad af gespeel, maar sy vermoed hy het een van die kinders in die huis gevolg toe dié kom vra het vir ʼn pleister.

“Ek het skielik een van die bure se kinders hoor skree, ‘Sekani het in die swembad geval’. Dit was so ʼn groot skok dat my tydsbesef heeltemal verdraai is. Ek het net aanhou bid terwyl ek na die plek gehardloop het waar die bure se negejarige kind Sekani uit die water getrek het. Dis net deur gebed wat ek dit kon regkry om te bedaar en met KPR te begin,” vertel sy.

Thandokazi is ʼn mynbouingenieur en het KPR-opleiding by die werk gekry, maar nog nooit nodig gehad om dit op iemand toe te pas nie. “Ek moes die druk aanpas om dit op so ʼn klein kind uit te voer en ek was nie seker of ek moes ophou om hom om te draai nie. Dit was ʼn angswekkende situasie vir ʼn ma,” vertel sy.

Bure het intussen die nooddienste Netcare911 gebel en die nooddiensoperateur het Thandokazi oor die foon bygestaan oor hoe sy haar seun moes help, totdat nooddienste by hulle opdaag.

“Uiteindelik het hy gehoes en tekens van lewe begin toon. Die ambulans het ook nie lank gevat om daar uit te kom nie en dit was asof alles net perfek saamgewerk het om Sekani se lewe te red.”

Sekani Nzima en sy ma, Thandokazi. (Foto: MNA)

Wikus de Jager, ʼn paramedikus verbonde aan Netcare911, het gesê dit was ʼn verligting dat Sekani asemgehaal het toe hulle daar aankom, maar dat hy nie so goed asemgehaal het soos hulle gehoop het nie. Toe hy stabiel genoeg was, het paramedici hom in die ambulans gesit terwyl hulle hom suurstof gee en probeer warm maak.

“Ons het geweet Sekani was nog nie buite gevaar nie en op grond van sy toestand, en in ag genome dat dit spitsverkeer was, het ons besluit om ʼn lugambulans te onbied om hom na die mees geskikte hospitaal te neem,” het Jacques Andersen, ook ʼn lid van dieNetcare911-span, gesê.

Sekani is gevolglik per helikopter na die Waterfall City-hospitaal vervoer.

Anderse sê die KPR wat Thandokazi toegepas het, het haar seun se lewe gered. “Ek sal enigiemand aanmoedig om ten minste die basiese KPR aan te leer. ʼn Mens weet nooit wanneer jy dit gaan nodig kry nie.”

Thandokazi sê hulle bly gelukkig in ʼn doodloopstraat waar die helikopter kon land. “My hart het stilgestaan terwyl ek toekyk hoe my kind in die helikopter gelaai word.” Sy het na hom uitgeroep en oomblikke later kon sy hoor hoe hy vanuit die helikopter na haar terugroep. “Dit was so ʼn verligting.”

ʼn Spesialisspan was reeds op bystand toe Sekani by die hospitaal land en hy is onmiddellik op ʼn masjien geplaas om hom te help asemhaal. “Ons was nie seker hoe lank die suurstoftoevoer na Sekani se brein afgesny is terwyl hy in die water was nie, so daar kon breinskade wees,” het die pediater, dr. Palesa Monyake, gesê.

Die peuter is in ʼn medies geïnduseerde koma geplaas en sy temperatuur afgebring om sy brein die bes moontlike kans te gee om gesond te word. In dié stadium was die ouers nog onseker of hul kind breinskade opgedoen het.

Hy het boonop ʼn paar dae later erge longontsteking weens die swembadwater in sy longe ontwikkel, maar uiteindelik begin herstel en was sterk genoeg om uit intensiewe sorg na ʼn hoësorgsaal geskuif te word. Hy het intussen ten volle herstel en is weer terug by die huis.

“Hy is nou so ondeund soos altyd. Enigiemand wat hom nou sien, sal nooit kan raai waardeur hy die afgelope maande is nie,” sê Thandokazi. “Ek moedig enigiemand aan om KPR aan te leer. Dinge sou baie anders vir ons uitgewerk het indien ons nie hierdie vaardigheid gehad het nie.”

Hoe om kinderverdrinkings te verhoed:

Sarah Kekana, woordvoerder van Netcare911, sê verdrinkings kan enige tyd van die jaar gebeur, maar hulle sien ʼn merkbare toename in die somermaande. Netcare911 gee die volgende wenke om hierdie tragedies te help voorkom.

  • Leer lewensreddende vaardighede aan, soos KPR en hoe om te swem.
  • Weet watter nommers om in ʼn noodgeval te skakel.
  • Maak seker swembaddens, visdamme en wateropgaartenks is behoorlik omhein en dat veral kinders nie maklik toegang daartoe kan kry nie. Dit sluit die honde se waterbak in. ʼn Baba kan in net 2,5 cm water verdrink.
  • Wees altyd op jou hoede. Verdrinkings gebeur stil en vinnig, daarom moet jy altyd sorg dat ʼn verantwoordelike volwassene toesig hou wanneer kinders naby ʼn swembad of ander oop waterbron speel.
  • Indien jou kind van jonger as vier in die water is, moet jy binne ʼn armlengte van die water af wees.
  • Sit die net onmiddellik weer terug oor die swembad wanneer jy klaar geswem het.
  • Moenie staat maak op vlerkies, opblaasbande of opblaasspeelgoed om kinders in die water veilig te hou nie.
  • Hou kinders weg van swembad- of jacuzzi-dreine, aangesien hare of ledemate in die pyp vasgesuig kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anonymouse ·

Ai ek kry sommer trane terwyl ek dit lees. Ongelukke gebeur so maklik, maar ek is bly daar was ‘n gelukkige einde. Daai gesiggie is so kosbaar. Min gehinder oor hoeveel stress sy ma deur is:-) Maar ek hoop ook dat Thandokazi swemlesse sterk gaan oorweeg. Dis elke sent werd.

Sonblom ·

Aag dankie tog vir die mamma wat koelkop gebly het. Ek kan nie dink hoe dit moet voel as dit jou eie kind is nie.

Lizl ·

Sjoe! Welgedaan, mamma!!! Ek weet nie of ek sal kan kophou nie, al hét ek al noodhulpklasse geneem. Veral al dit jou eie kind is. Dankbaar die mannetjie is weer perdfris!

Nettie ·

Thandokazi, tussen jou en God, het julle jou kosbare kindjie gered.
Dit maak mens skoon bewoë. Ons is saam met julle dankbaar en bly. Hy’s pragtig!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.