Kolisi se kop staan Frankryk toe

Siya Kolisi is sedert 2021 deel van die Sharks-opset. Foto: Hansie Linde.

Die Sharks het vandag bevestig dat Siya Kolisi sy tasse vir die Franse klub Racing 92 ná vanjaar se Wêreldbeker-toernooi sal pak.

Die Springbok-kaptein, wat in 2021 deel van die Sharks-opset geword het, sal vroeër van sy kontrak vrygestel word om sy Franse avontuur te begin.

Dr. Eduard Coetzee, die Sharks se uitvoerende hoof, het Kolisi vir sy bydrae tot die Durban-span geloof.

“Siya het in die afgelope twee jaar ʼn belangrike en geliefde lid van die Sharks-familie geword. Sy leierskapeienskappe strek veel verder as net die speelveld en sy skuif na Frankryk is ʼn nuwe en opwindende geleentheid vir hom,” het Coetzee gesê.

Kolisi het onder meer die Durbaniete se kapteinskapleisels in die Kampioenebeker vasgevat en Coetzee weet dat die losvoorspeler steeds sy beste vir sy KwaZulu-Natalse span sal gee.

“Ons is bevoorreg dat hy die swart-en-wit trui oor sy kop trek en ons weet dat hy oudergewoonte in die volgende paar maande op sy stukke vir die span en sy ondersteuners sal wees.”

Op sy beurt het Kolisi groot waardering vir die rol wat die Sharks in sy rugbyloopbaan speel.

“Die Sharks het my in 2021 met ope arms verwelkom en ek het onmiddellik tuis in Durban gevoel. Hul ondersteuning – op en van die veld – het ʼn groot invloed op my loopbaan en ek is dankbaar dat hierdie skuif hul goedkeuring wegdra. Dit is vanselfsprekend dat ek my heel beste vir hulle in die komende maande sal gee,” het hy op Twitter gedeel.

Kolisi is saam met Frans Malherbe, Lukhanyo Am, Kurt-Lee Arendse en Eben Etzebeth vir SA Rugby se speler van die jaar-toekenning benoem.

Kolisi is ook deesdae op sy stukke vir die Springbokke. Foto: GB Jordaan.

As Springbok-kaptein het hy 29 van sy 45 toetse aan die stuur van die span gewen om met ʼn wenpersentasie van 64% te spog.

Die Springbokke het in 2022 agt van hul 13 toetse gewen en onder die hoogtepunte is hul oorwinnings op Twickenham teen Engeland en teen die All Blacks in Nelspruit.

Kolisi se span het ook die eerste Bok-groep in nege jaar geword om die Wallabies weg van die huis te klop.

Deur die loop van die jaar het die Springbokke 370 punte aangeteken en 258 punte afgestaan – seker nie té sleg vir ʼn span wat kwansuis vervelige rugby speel nie.

Tussendeur het die Bokke egter wedstryde teen Wallis, die All Blacks, Aussies, Iere en Franse verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Erik ·

Hoe so? Was hy nie die kaptein toe ons die wêreldbeker gewen het nie? Of gaan dit vir jou weer oor ras?

Republikein in die Wes Kaap ·

Erik, in bloedige Mzanzibabwe gaan alles om ras.

Anel ·

Sê ek ook. Laat hy maar gaan. Gaan hom nie mis nie. Nie ‘n kaptein se groottoon nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Sonder Marx, Kitshoff, Malherbe, Etzebeth, De Jager, PS du Toit, Moster, Vermeulen en Twakkies en Wiese is Kolisi verlore. Selfs my oorlede ouma sou ‘n ster wees.

Andre ·

Eben is buitendien die kaptein hy kan geen besluite neem op die veld nie is die stadigste nr6 vlank ter wereld miskien sit hulle hom op vleul in Frankryk,thanks for leaving

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.