Kommer neem toe oor Lesotho-grensboere

Argieffoto bloot ter illustrasie.

Vrystaat Landbou (VL) besoek Woensdag ʼn gebied langs die suidelike grens van Lesotho waar boere al jare lank deur misdaad geteister word.

Boere in die omgewing van Klaarwater, Spring Valley en Boesmanskop is raadop met misdaad nadat die gebied ʼn deurgangsroete na Lesotho vir gesteelde goedere, veral vee, geword het.

Die grenspad in dié omgewing is haas onbegaanbaar, wat beteken die polisie en boere kan geen operasies of patrollies uitvoer nie.

VL het die afgelope paar jaar reeds verskeie versoeke aan die regering en LUR’e van polisie, paaie en vervoer gerig sodat die grenspad van tussen 18 en 20 km gerehabiliteer kan word en wetstoepassingsowerhede die nodige grensbeskerming kan verskaf. “Dit het egter geensins gebeur nie en bedrywighede van die departement van openbare werke om ʼn grenspad en -heining op te rig, het hoegenaamd nie plaasgevind nie,” sê Jakkals le Roux, voorsitter van VL se landelike veiligheidskomitee.

“Ons wil die lot van hierdie vergete gemeenskappe en die mislukking van die regering se grondwetlike verpligting teenoor landelike gebiede en boerderygemeenskappe beklemtoon.”

VL het in 2020 reeds gesê oorgrensmisdaad het destyds meer as 500 boere genoop om boerdery te staak. Die misdaad het in daardie stadium ook nie net veediefstal ingesluit nie, maar ook ernstige geweldsmisdade soos plaasaanvalle.

Díit terwyl ʼn gebrek aan genoeg polisiebeamptes en hulpbronne soos voertuie die stryd bemoeilik. Lesotho-burgers stap ongehinderd heen en weer tussen die lande en daar is geen werklike toegangsbeheer vir diere nie.

Opkomende én kommersiële boere wat deur oorgrens-misdadigheid geraak word, sal na verwagting vandag die knelpunte met amptenare van die polisie, die weermag en die Grensbestuur-owerheid (GBO) kan bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kokerboom ·

Die Staat het GEEN intensie om iets te doen!Die storie is al holruggery met GEEN staatsplan!

ES ·

Ongelukkig mors julle jul tyd en asem. Die regering kan nie eers slaggate hokslaan nie, misdaad beteken niks vir hulle nie. Dis die boere se probleem, maar behoede jou siel as jy ‘n misdadiger te lyf gaan of skiet…

Goldy ·

Daardie boere is in n goeie posisie om hulle grond saam te gooi en onafhanklikheidsonderhandelinge te begin. Die regering gaan hulle net vernietig, hulle moet wettige maniere soek om van die ANC beheersde land af te sny.

Jaco ·

Niks word aan misdaad teen boere gedoen nie. Diesel raak al hoe duurder. Swak plaaspaaie word nooit herstel nie. Ek voorspel dat onteiening sonder vergoeding uiteindelik ‘n totaal vrywillige ding gaan wees, met wit boere wat gaan sê “vat net alles want ons kan regtig nie meer”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.