Kommer oor ‘mafia-geweld’ in konstruksiebedryf

wbho-construction-saldanha-wes-kaap

WBHO Construction se konstruksieperseel in Saldanha in die Wes-Kaap is in ligte laaie na geweldadige protesaksie by die perseel. Safcec sê die konstruksiemafia het ook hier toegeslaan. Foto: Safcec.

Die Suid-Afrikaanse Forum van Siviele Ingenieurskontrakteurs (Safcec) het ʼn dringende pleidooi aan die regering gerig om in te gryp teen bendes wat konstruksiepersele teister en dié bedryf as’t ware gyselaar hou.

Webster Mfebe, die uitvoerende hoof van Safcec, het verlede week ʼn brief aan Tito Mboweni, die minister van finansies, gestuur waarin hy aangevoer het ʼn “konstruksiemafia” het reeds 78 bouprojekte ter waarde van R25,5 miljard in die land ontwrig of gestuit.

Volgens Safcec het minstens 110 ingenieurs en hoogs gekwalifiseerde tegnici reeds die land verlaat omdat dié konstruksiemafia hulle glo met AK47-aanvalsgewere aangehou het. Talle ander is op die punt om hulle voorbeeld te volg.

In ʼn onlangse voorval op 13 Maart is ʼn Duitse oliebergingsprojek van Wilson Bayly Holmes-Ovcon (WBHO) Construction in Saldanha in die Wes-Kaap tot stilstand geruk toe ʼn gewapende bende die eiendomme en fabriek afgebrand het. Daar is glo nie gehoor gegee aan die groep se eise om deel te wees van die projek wat sowat R2,4 miljard beloop nie.

“Die foto’s van die toneel lyk soos ʼn oorlogsone. Die polisie het aanvanklik vinnig opgedaag net om te sê hulle kan niks doen nie en die situasie moet glo deur die openbareorde-eenheid hanteer word. Dit het dié eenheid drie uur geneem om by die toneel te kom terwyl die plaaslike polisie en kontrakteurs toegekyk het hoe die hele konstruksieprojek tot op die grond afgebrand word,” het Mfebe gesê.

Hy sê die middelpunte van die bendes se bedrywighede is KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap.

“ʼn Eienaar van ʼn konstruksiemaatskappy in KwaZulu-Natal is in 2016 vermoor nadat hy geweier het om die oproeriges ʼn aandeel in sy bouprojek te gee.”

Mfebe het aangevoer die polisie in die provinsies is bewus van die saak en weet self wie die misdadigers is, maar niemand is nog tot dusver in hegtenis geneem nie.

In nog ʼn onlangse voorval het AVENG en Strabag Internationale, ʼn Europese konstruksiemaatskappy, hulle aan Sanral se Mtentu-brugprojek in die Oos-Kaap onttrek nadat gewapende bendes glo geëis het om deel te wees van die projek. Die projek is deel van die verlenging van die N2-tolpad in die Wildekus, maar bouwerk is sedert Oktober byna onmoontlik gemaak.

“Die voorvalle is by die polisie aangemeld en ons het ʼn hofinterdik teen die groep gekry, maar die oproeriges is kort daarna vrygelaat en het intussen weer die projek ontwrig met AK47-gewere in die hand.”

Sanral se projekte in Stutterheim in die Oos-Kaap is op 1 November verlede jaar en op 24 Januarie vanjaar op ʼn soortgelyke wyse deur ʼn gewapende bende ontwrig en die fabriek op die konstruksieperseel is ook afgebrand.

Mfebe het benadruk Safcec weet daar is gemeenskappe wat werklike kwellings oor sommige bouprojekte het, maar in hierdie gevalle is dit vir die organisasie duidelik dat booswigte die gemeenskappe se behoefte aan werk vir eie gewin gekaap het.

“Hierdie splintergroepe is heeltemal buite beheer. Ons vra die regering om in te tree en wet en orde te herstel.”

Mfebe het benadruk dat die konstruksiebedryf reeds onder erge druk verkeer. “Van die konstruksiemaatskappye wat op die Johannesburgse aandelebeurse gelys is, het reeds 70% van hulle waarde oor die afgelope tien jaar verloor. Hierdie soort ontwrigting plaas nog verdere druk op kontrakteurs omdat staatskliënte soos Sanral swaar boetes teen kontrakteurs instel wie se werk nie betyds voltooi is nie. Dit dryf talle van hierdie maatskappye tot op die rand van bankrotskap terwyl die land werksgeleenthede en kundiges verloor.

“As die situasie egter bly voortduur, kan Suid-Afrika sy vermoë verloor om sy eie infrastruktuur te ontwikkel en sal in die toekoms van buitelandse maatskappye afhanklik wees om dit vir ons te doen.”

Die Vereniging vir Suid-Afrikaanse Bourekenaars (ASAQS) het intussen ook sy kommer oor die situasie uitgespreek. Yunus Bayat van dié vereniging het gesê daar moet ingegryp word om die veiligheid van professionele werkers by konstruksiepersele te verseker en beleggersvertroue in Suid-Afrika te beskerm.

Hy het gesê die Swart Besigheidsraad vir die Bou-omgewing (BBCBE) het reeds in Februarie ʼn brief aan genl. Bheki Cele gestuur waarin dié organisasie versoek het om met die minister van polisie te vergader oor die onwettige ontwrigting van konstruksieprojekte landwyd.

Die BBCBE het in die brief gesê sy lede in die konstruksiebedryf se werksaamhede word byna daagliks ontwrig weens plaaslike sakeforums wat deelname aan bouprojekte vereis.

“Ons vereniging doen ʼn beroep op die nasionale vervolgingsgesag en plaaslike polisie om die situasie dringend aan te pak. Hierdie veiligheidsituasie moet as die hoogste prioriteit van die konstruksiebedryf en regering beskou word,” het Bayat gesê.

Mfebe het gesê sy organisasie het bevestiging van Mboweni en die presidensie ontvang dat hulle die saak in ʼn ernstige lig beskou en dat dit wel aandag geniet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Tino ·

Hierdie is ‘n baie erge krisis en die president behoort ‘n staat van nood te verklaar en die weermag in te stuur. Hier noem hulle dat dit sedert 2016 ‘n kwessie is en dat daar aan die saak aandag gegee word. As ek reg tel is dit 3 jaar later(te laat).

Nou dat al die konstruksie maatskappye plat geval het en miljarde vermors is het hierdie reeds oor beweeg na die oorblywende mynbou projekte.

Eks bevrees die anargie tel momentum op

Johan ·

En soos gewoonlik is die polisie toeskouers….
Verander die wet dat ‘n mens vir jou en jou besittings mag beskerm. Mense wat met klippe gooi en afbrand is potensiële moordenaars. Hulle moet met geweld gestuit word. Dis al taal wat hulle verstaan

Mariana ·

Ek verstaan nie hoe die regering dink moet hierdie besighede hul deure oophou as dit so aangaan nie of is daar iets heel anders aan die gang. Wie is in beheer van hierdie “mafia”. Ondersoek moet ingestel word. Mens kan dalk verras wees wie al hierdie aanvalle loods…….of miskien weet hulle reeds………

Penellope Jones ·

Wat ek nou hier gelees het my laat dink aan vanoggend lewendige uitsending van ‘n radiostasie vanaf die KKNK waar ‘n verteenwoordiger van ‘n politieke party bitter ontsteld was oor konstruksiemaatskappye in die Suid-Kaap wat dan nou “”net aan blankes”” sou behoort ens.
Die persoon het ook meeste van die tyd die regerende party in die WK doodgepraat soos ook die mense vanuit die gehoor wat ook aan die spesifieke politieke party glo, ook gedoen het, sommige het sommer net kliphard mense in die rede geval ens.
Dit was bitter onaangenaam om te hoor en die politieke party wat so aangegaan het, het sommer – indien dit moontlik is – met Nog 100 punte gedaal in my boekie.

Stripes ·

Gaan soek maar tussen die anc na die skuldiges. Hulle keur sulke optrede en verwoesting goed en moedig dit aan deurdat daar geen optrede teen die skuldiges is nie. Dit word dan gesê die polisie weet wie die skuldiges is maar weereens beskerm die polisie hulle maatjies en die regering beskerm die polisie wat die maatjies beskerm wat weer verseker dan die anc in beheer bly.

Wielspore ·

Na my mening was en is dit nog altyd ‘n reel dat plaaslike bevolking deel uitmaak van die werksmag gedurende groot konstruksie en hertselwerk. Self by ons, indien ‘n buitelandse maatskappy of ‘n maatskappy van ‘n ander dorp groot werk by ons kom doen word van die omgewing se aarbeidmag gebruik om sekere werk te doen.

BlinkStephaans ·

As ek julle is plaas ek nie te veel hoop op ñ brief of selfs ñ gesprek met enigiemand in die regering ouens. Daar is geen dringendheid vir niks by daardie mense. Hulle het ñ “kom ons kyk maar wat gebeur” uitganspunt. Julle maatskappye sal op strepe bankrot gaan en hulle sal steeds niks gedoen het. Stetkte. Seker maar tyd om beveiliging in jul eie hande te neem. Die ministers belowe ek julle het nie eers ñ idee waar om te begin met jul klagtes.

marous ·

Waarom na tito toe hardloop ? Waarom gaan val hulle nie voor hoed neer nie ? Dis mos sy werk om misdaad uit te roei …

JL ·

Die gebeur nie, dis fake of hoe Ramapokker? As plaasmoorde NIE gebeur nie, hoe is die dan waar?? Nee wat, opgemaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.