Kommer oor moontlike afskaf van korting op mediesefondskrediete

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Vrydag in ’n brief aan die nasionale tesourie dringende antwoorde geëis op ’n moontlikheid dat die belastingkorting op mediesefondsbydraes geskrap gaan word.

Dit volg nadat die departement van gesondheid Dinsdag dié stelling tydens ’n voorlegging aan die nasionale raad van provinsies se komitee oor gesondheid en maatskaplike dienste gemaak het.

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic/Pixabay)

Prof. Nicholas Crisp, adjunk- direkteur-generaal van die departement van gesondheid, het Woensdag dié voorneme in ’n media-onderhoud herhaal. Hy meen die fondse moet eerder gebruik word om “die openbare sektor in staat te stel om goed wat tans gebreek is, reg te maak”.

Daar is ook sprake dat die belastingkorting voortaan gebruik sal word om die beoogde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te help finansier.

Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, sê die beëindiging van die belastingkorting kan rampspoedige gevolge vir individue en private mediese skemas hê.

“Crisp en die departement van gesondheid se uitlatings oor die afskaffing van belastingkorting op mediesefondsbydraes is misleidend, aangesien daar nog geensins ’n finale besluit hieroor geneem is nie.

“Indien hierdie belastingkorting verwyder word, sal dit beteken dat ’n gesin van vier ’n belastingkorting van R1 220 per maand sal verloor as hulle lede van ’n mediese fonds wil bly. Dít terwyl die NGV nog jare kan neem om in werking gestel te word, indien dit ooit gedoen word,” sê Boshoff.

Hy meen die afskaffing van die belastingvoordeel kan ’n wesenlike struikelblok vir baie Suid-Afrikaners inhou wat reeds onder groot ekonomiese druk verkeer.

“Dit kan boonop ook ’n uitwerking hê op die toeganklikheid en bekostigbaarheid van gehalte-gesondheidsorgdienste.

“Daarbenewens is AfriForum ook bekommerd dat hierdie besluit, indien dit deurgevoer word, private mediese fondse in ’n kwesbare posisie kan plaas.”

Hy meen dat die huidige belastingkrediete as ’n aansporing vir individue gedien het om by mediese fondse aan te sluit, wat help om die druk op die openbare gesondheidstelsel te verlig.

“Indien hierdie finansiële dryfveer wegval, kan daar ’n afname in die getal mense wees wat mediese fondse kan bekostig, wat die lewensvatbaarheid van hierdie fondse in gedrang kan bring.

“Dit kan tot ’n vermindering in mededinging en die beskikbaarheid van ’n verskeidenheid van gesondheidsorgdienste lei, wat ’n negatiewe invloed op die hele Suid-Afrikaanse gesondheidsorgstelsel sal hê,” sê Boshoff.

AfriForum eis antwoorde van die tesourie op onder meer die volgende vrae:

  • Is daar enige wetgewing of regsveranderinge in oorweging wat die herroeping van belastingkrediete vir mediesefondsbydraes kan fasiliteer?
  • Watter maatreëls, indien enige, oorweeg die tesourie om die nadelige gevolge wat uit die afskaffing van die belastingvoordeel op mediesefondsbydraes kan voortspruit te beperk, veral vir die mees kwesbare en lae-inkomstegroepe?
  • Is ’n sosio-ekonomiese impakstudie oor die kwessie onderneem?
  • Watter gesprekke is met belanghebbende partye, waaronder burgerregteorganisasies en die private mediese bedryf, gevoer om insette en bekommernisse rakende die potensiële afskaffing van belastingkrediete te bekom en te ondersoek?

Volgens Boshoff sal antwoorde hierop duidelikheid verskaf oor die werklike verwagtinge wat Suid-Afrikaners oor die beoogde plan moet hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanR ·

Ek is by Discovery. Moet ek maar my R3400 elke maand vat en liewer in ‘n Money market sit en dan maar medies as ek siek raak uit my eie sak betaal? Ek SAL NIE na ‘n staats hospitaal toe gaan nie!

piper ·

as dit gebeur gaan ek ander maatreels instel wat ek wel kan aftrek van belasting. ek sal n besigheid op papier n verlies laat wys. dan gaan die staat meer verloor. ek weier bodweg

Althes ·

Volgens my word ons as burgers se regte geskend deur die nasionale tesourie. Ons is teen die NHI om die eenvoudige rede dat staatshospitale reeds deur die belastingbetaler befonds word. En nog steeds is staatshospitale in ñ treurige toestand.

Jacobus ·

Ek wonder wat kry hierdie prof crisp daaruit? Dit is hy wat tydens covid ook vreemde uitsprake gemaak het.

Cherokee ·

Ag mense, wees tog meer verdraagsaam met die regering! Sòveel items word befonds deur die skamele hoeveelheid belastingbetalers, en dìt is ‘n manier om die persoonlike-belastinginkomste te verhoog. Onthou, hulle het bietjie meer as ‘n kwarteeu gelede gedink dit is kinderspeletjies om ‘n land te bestuur. Nou is dieselfde land bankrot. Dit is ‘n vervaarde gryp na grashalms in pogings om die land van bankrotskap te red.

Tuta ·

Hierdie is bitter onregverdig – ek is ‘n enkel ouer wat bars om elke maand my premie by Discovery te betaal, maar ek doen dit met liefde vir my 2 dogters. Ons word alreeds so “oorbelas” en nou wil hulle die belasting korting op medies ook nog wegvat?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.