Kommer oor onbepaalde opskort van Comair-vlugte

Kulula.com (Foto: Comair/Facebook)

Die vakbond Solidariteit sê hy is uiters bekommerd oor die uitwerking wat die onbepaalde opskorting van Comair se vlugte op die maatskappy, wat steeds in sakeredding is, sowel as werknemers en hul gesinne kan hê.

Maroela Media het vroeër berig dat die Burgerlugvaartowerheid (BLO) Comair, wat British Airways en Kulula in Suid-Afrika bedryf, se lugvaartbedryfsertifikaat onbepaald opgeskort het. Die stap het gevolg nadat die BLO Saterdag aangekondig het dat die redery se vlugte aanvanklik vir 24 uur opgeskort word na aanleiding van ’n ondersoek na onlangse veiligheidsvoorvalle by die lugdiensgroep.

Net in die afgelope maand was daar volgens die BLO verskeie enjin‑ en onderstelfoute.

Derek Mans, sektorkoördineerder van verdediging en lugvaart by Solidariteit, sê die vakbond bevraagteken nie die bevindings nie aangesien dit oor lugvaartveiligheid handel.

Hy sê egter die groter probleem blyk nou ’n administratiewe oponthoud eerder as veiligheidskwessies te wees. Dít volg nadat die BLO oor die naweek aan Solidariteit gesê het dat hulle ’n “magdom dokumente” het om deur te werk alvorens die besluit geneem kan word om die opskorting op te hef.

“Maandag het die BLO bykomende dokumente by Comair aangevra. Ons versoek is dat indien dit oor veiligheid gaan, die kwessies dadelik opgelos moet word. Indien daar nou administratiewe kwessies is, moet daar ʼn ooreenkoms aangegaan word dat Comair intussen sy bedrywighede kan voortsit.”

Goeie naam

Mans sê Comair het in die verlede meer as ʼn miljoen vlugte sonder enige voorval voltooi en dat dié goeie reputasie tog gewig moet dra, veral as die vertraging nou weens administratiewe kwessies is.

Die vakbond het Maandag in samewerking met Numsa en die Comair-vlieëniersvereniging ʼn skrywe aan die BLO gerig waarin die partye hul kommer oor die voortgesette opskorting te kenne gee.

“Comair is tans steeds in sakeredding. Enige verlenging en vertraging van die huidige opskorting van sy bedryfsertifikaat sal nie net ernstige gevolge vir die onderneming, sy werknemers en gesinne hê nie, dit sal ook ’n uitwerking hê op die breër ekonomie en internasionale toerismesektor van Suid-Afrika,” lui die brief.

Mans sê hoewel die opskorting uiteraard ook die mark raak, is hulle bekommerd dat werknemers wat net voor die opskorting vlugte onderneem het, nou op ander plekke gestrand sit. Hy meen daar moet dringend werk daarvan gemaak word om dié werkers so gou moontlik huis toe te bring.

BLO voldoen self nie aan regulasies

Die BLO het vroeër self onder skoot gekom nadat bevind is dat die BLO-vliegtuig wat in Januarie 2020 by die George-lughawe opgestyg en kort daarna met drie bemanningslede aan boord neergestort het, nie lugwaardig was nie.

Mans sê die BLO bly egter die amptelike regulatoriese lugvaartliggaam en dat die besluite – soos om ʼn bedryfsertifikaat op te skort – steeds by dié owerheid berus, ten spyte daarvan dat hyself nie aan alle regulasies voldoen het nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Marius ·

Soos alles in suid afrika het instandhouding en onkundigheid ‘n groot uitdaging geword.

philippus ·

Ek dink die ANC help sy SAA ATM deur kompetiese te ground. Pryse is ook sommer lekker hour nou, om SAA te boost

piper ·

BLO is magsbehep. hulle het met eie vliegtuig die wet oortree asook van die benanning se lisensies wat nie alles geldig was nie. dit het gelei al drie die bemanning se dood na hulle in die berg vasgevlieg het. hulle is seker aangese om dit te doen sodat SAL meer besigheid kan kry. hulle het dit met cemair ook gedoen. nation wide het so bankrot gegaan. by geen van daardie rederye was lewensverliese nie.

Hennie ·

Miskien moet Solidariteit een keer met hulle vlieg en dan besluit of Comair dinge reg doen. Ek vlieg elke week tussen Johannesburg en veskeie kusdorpe. British Airways is lag- lag, loshande die swakste van die lot. (ek vlieg nie SAA nie) Ek het al tot 50 minute gewag v my bagasie, twee keer agter mekaar. Hulle het die minimum inboek toonbanke oop wat ‘n gemors veroorsaak, soos bv om mense wat vlugte moet haal, voor in te druk net sodat hulle hul vlug kan haal. Dan staan kiepie Mar net langer in die ry! NOOIT OOIT WEER NIE. LIKWIDEER EERDER!!!

philippus ·

ANC kamarade by Burgerlugvaart is opdrag gegee om SAA se kompetisie se vlerkies te knip. Ironies word alle vliegtuie deur SAA tegnies gediens. Ek ruik korrupte 3de wereld afrika regering hier. Alles om SAA unfair advantage te gee

Karlahari ·

Is dit om die nuwe kader lugdiens n voorsprong te gee?
Laat my terugdink aan CemAir debakel.
So ook Kalula wat met staats lugrederye moes meeding. Geen sprake van regverdige kompetisie nie.

David ·

Ek ruik ‘n rot .. dit sal my nie verbaas as dit ‘n poging is om die SAA kompetisie uit die weg te ruim nie.

Nico ·

Uiters swak beplanning, daar is te veel wat geld skep en die onderhoud van die vliegtuie is net so swak omdat die verkeerde mense in beheer is, daar is verkeerde “‘technical” persone aan boord om die vliegtuie behoorlik te onderhou. Daar is swart, wit, kleurling, en indieer mense met die nodige vaardighede wat die werk kan! doen.

Benn ·

Dit is vir my kommerwekend dat die kommentaar gaan om nie ons land se eie Lugredery te ondersteun nie. Hoe gaan SAA weer op hulle voete kom as die landsburgers hulle nie ondersteun nie? Vra maar net

Jacobus ·

Het Burgerlugvaart die nodige ervare en goed opgeleide personeel om die vliegtuie fisies na te gaan en te toets? Gaan hulle fisies na of die herstelwerk gedoen is, en deeglik gedoen is, òf laat hulle maar net die lugdiens, duisende vorms in 10-voud voltooi, wat hulle dan 3 maande neem om deur te lees? Daar gaan binnekort geen klagtes oor enigiets wees nie, want daar sal niks van alles oorbly.

Alfred E Neuman ·

Die persoon wat saa vlieg behoort sy kop te laat lees.

Sarie ·

En die wat die meeste gestraf word vir ander se sg foute, is die wat nou gestrand sit. Of ten duurste by ander moet kaartjies koop

Henk ·

Wat van ons wat reeds betaal het vir Mango vlugte en nie kon vlieg nie hoor ook niks van hulle nie en kry niemand in die hande nie soos gewoonlik suig die verbruiker weer aan die agter speen . Mango behoort aan SAA en SAA aan die staat hoekom staan hulle nie Pa nie???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.