Kommer oor ‘ontbinde liggaam’ lei tot perlemoenvonds

Die stank by die huis het bure onraad laat vermoed en die polisie het eindelik beslag gelê op duisende eenhede perlemoen. (Foto: SA Polisie)

Kommer oor die stank wat uit ʼn huis in Korsten in Gqberha (Port Elizabeth) gekom het, het die polisie tot ʼn groot perlemoenvonds gelei.

Bure het die polisie ontbied omdat hulle vermoed het daar is moontlik ʼn ontbinde lyk in die huis, sê kol. Priscilla Naidu, Oos-Kaapse polisiewoordvoerder.

Lede van die Gelvendale-polisie is Dinsdag omstreeks 14:00 na die huis. “Daar was niemand tuis nie en die polisie moes ʼn deur oopbreek. Hulle het afgekom op nat en gedroogde perlemoen, asook verwerkingstoerusting wat branders, emmers en vrieskaste ingesluit het.”

Die polisie het beslag gelê op 471 eenhede gedroogde perlemoen en 4 396 eenhede nat perlemoen. Die algehele waarde daarvan is sowat R688 000. Beslag is ook gelê op al die toerusting en die perlemoen sal nou by die departement van bosbou, visserye en omgewingsake gestoor word.

Genl.maj. Vuyisile Ncata het inwoners wat die polisie na die huis gelei het, bedank.

“Verhuurders word gewaarsku dat hul eiendomme aan die staat verbeurd verklaar kan word indien hul huurders die persele vir misdadigheid gebruik. Ons sal in hierdie verband saam met die betrokke owerhede werk,” sê Ncata.

“Eiendomseienaars moet ʼn ondersoek na huurders doen voordat hulle die eiendom verhuur en moet gereeld besoek by die persele aflê. Ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad kan daar op die eiendom beslag gelê word.

“As ons inligting ontvang dat misdade in huise, woonstelle of buitegeboue gepleeg word, sal ons ondersoek instel.”

  • Die Uitenhage-veediefstaleenheid sit intussen sy ondersoek in dié saak voort. Enigiemand met inligting oor die perlemoen kan ao. Bennie van Jaarsveld bel by 041 996 3340 of 079 896 9521.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frikkels ·

ñ Nuwe slang in die gras om onteiening sonder vergoeding te probeer regverdig!

Marcello ·

Ek glo nie die storie dat die Perlemoen gestoor word nie, dit raak ook seker “missing in action” soos die vuurwapens.

Lillian ·

Ag asseblief! Eienaars kan doen wat hul goeddink en kan ook net soveel uitvind omtrent die huurders en huurders met ‘n agenda sal mos hul planne agtermekaar hê om almal om die bos te lei én dit sluit eiendom eienaars in!

Christine ·

So kry eienaars nou die skuld, asof die kriminele sulke inligting beskikbaar gaan stel oor hul doen en late! Dis absurd! Net om eiendom af te neem!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.