Kommer oor raaiselagtige voëlvrektes in Oos-Kaap

‘n Dooie duif is op die gras aangetref (Foto: Verskaf)

Tientalle voëls het oor die afgelope twee weke in die Buffalo City-metrogebied in die Oos-Kaap gevrek. Die Oos-Kaap se staatsveearts het nou ingegryp en ʼn ondersoek van stapel gestuur om die eienaardige vrektes te ondersoek.

In die afgelope twee weke is ongeveer 76 dooie voëls is in Qonce (King Williams Town) aangemeld, gevolg deur 27 in Oos-Londen, vier in Berlin, drie in Stutterheim en een in Queenstown. In die meeste gevalle was die dooie voëls duiwe.

Dit is in hierdie stadium onduidelik wat die vrektes veroorsaak. Sommige van die karkasse is verlede week na laboratoriums in Komani, Queenstown en Pretoria vir toetse gestuur. Die uitslae is steeds uitstaande, maar behoort teen die einde van die week bekend te wees.

Neville Ganes, wat ʼn reddingsorganisasie vir slange en reptiele in die omgewing bedryf, sê hy het op 27 Maart die dooie voëls in die Qonce-omgewing opgemerk.

“Ek het eers een sien doodlê en nie veel daarvan gedink nie. Later het ek nog gesien en besef daar is ʼn probleem,” het Ganes aan Maroela Media gesê.

Neville tel een van die dooie voëls op (Foto: Verskaf)

Ganes sê die meeste van die voëls was opgeblaas. Ander simptome wat opgemerk is, is die onvermoë om te vlieg, ʼn verlies aan balans, disoriëntasie en vlak asemhaling.

“Dit word vermoed dat dit dalk ʼn soort virus of ander siekte kan wees.”

Volgens Samkelo Ngwenya, woordvoerder van die Buffalo City-metroraad, is dit moeilik om te bespiegel wat die oorsaak van die vrektes kan wees en daarom moet soveel as moontlik inligting ingesamel word.

Beamptes van die munisipaliteit se afdeling vir gesondheid en die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) het ook ʼn ondersoek ná die vrektes gelas.

“Die vrektes kan deur enigiets veroorsaak word, waaronder klimaatsverandering, lugbesoedeling of migrasie,” sê Ngwenya.

“Inligting word ingesamel om te bepaal of die vrektes in een omgewing plaasgevind het en of dit aan vergiftiging toegeskryf kan word. As dit verder na ander gebiede versprei, sal die moontlikheid van ʼn siekte ook ondersoek word.”

Ngwenya moedig inwoners aan om nie met kaal hande aan die voëls te vat nie.

Mark Marshall, die eienaar van Sandula Conservation, ʼn bewaringsorganisasie in die omgewing, raai ook inwoners aan om handskoene aan te trek en ʼn gesigmasker te dra wanneer hulle die dooie voëls moet hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Stofdonkie ·

Nou gaan al die vervelige huisvrouens weer wil toi-toi op facebook oor 4G-torings. Wag asb eers vir die uitslae voor julle afleidings wil maak en mense begin irriteer op facebook.

Stofdonkie ·

Dis die nuwe naam wat maak dat hulle nie meer weet waar hulle bly nie, en dan verdwaal raak en uit die lug val van uitputting.

sopbeen ·

Hou eerder duim vas hierdie is nie een of ander pluimvee siekte wat kop uitsteek nie. Mag die owerhede spoedig agter die kap van die byl kom.

Jonnybegood ·

Hier by ons in Pretoria Oos vind ons tot en met 4 dooie duiwe per week net in ons tuin.

E ·

Ons het ook al in een week ‘n hele paar duiwe gehad in ons omgewing. ‘n Hele ruk gelede Ek dink weer dalk het hulle goed soos polistireen gevreet of dalk muis gif. Ons is in die oos-rand.

katerinadiekat ·

O genade ons hoop die regering sien nie hierdie kommentaar nie. Dan is dit weer level 5 lockdown en sommer n rookverbod ook weer:-)))

Kirst ·

Ons kry al vir jare gereeld ‘n dooie duif of twee in ons tuin. Die verskynsel het begin ‘n ruk nadat ons twee Jack Russells gekry het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.