Kommer oor selfmoordgevalle by Gautengse skool

(Argieffoto: pixabay)

Die Gautengse onderwysdepartement sê hy is diep bekommerd oor die onlangse voorkoms van selfmoord en selfmoordpogings by Tsakane Secondary School in Brakpan.

Dié besorgdheid volg nadat twee leerders van die skool glo gif ingeneem het en dae uit mekaar dood is, en nog leerders in hospitale opgeneem is ná hulle beweerde inname van gif. ʼn Werker by dié skool is ook onlangs dood nadat hy gif ingeneem het.

Matome Chiloane, LUR van onderwys in die provinsie, sê die voorvalle het die afgelope twee weke plaasgevind.

Volgens Chiloane is ʼn gr. 8-leerder en ʼn gr. 12-leerder onderskeidelik op 7 en 8 Augustus dood by hul onderskeie ouerhuise aangetref nadat hulle glo gif ingeneem het.

Nog ʼn gr. 8-leerder, ʼn seun, het op 8 Augustus gif skool toe gevat en dit voor ander leerders ingeneem. Die leerder is egter na ʼn plaaslike mediese fasiliteit geneem waar hy behandel is. Hy sterk aan by dié fasiliteit.

Chiloane sê die onderwysdepartement is intussen ook van nog drie voorvalle in kennis gestel waarin leerders glo hulself probeer vergiftig het. Twee meisies en ʼn seun het hulself glo probeer vergiftig, maar sterk aan in ʼn hospitaal.

“Ons kan ook bevestig dat ʼn werker by dieselfde skool verlede week selfmoord gepleeg het, vermoedelik deur gif by sy huis in te neem,” sê Chiloane.

“Ons is ook bewus van beeldmateriaal wat op sosiale media die ronde doen wat wys hoe twee leerders gehelp word om regop te staan en daar beweer word dat hulle ook gif ingeneem het. Dit is nie waar nie. Hierdie beeldmateriaal is Maandag geneem tydens ʼn gemeenskapsgebedsdag by die skool toe leerders emosioneel geraak het oor hulle vriende wat gesterf het.”

Die onderwysdepartement het Dinsdag tesame met wetstoepassers en maatskaplike werkers, die skool besoek om hul bystand aan leerders te bied. Die nodige psigososiale ondersteuning is ook aan leerders verskaf en klasse het sonder ontwrigting voortgegaan.

“Die werknemerwelstandspan sal ontplooi word om personeel by die skool te ondersteun,” sê Chiloane.

“Hierdie voorvalle is kommerwekkend en daarom sal daar Sondag ʼn ouervergadering gehou word om hierdie voorvalle te bespreek.”

Chiloane het sy meegevoel met die naasbestaandes en geliefdes betuig en terselfdertyd ʼn beroep op leerders gedoen om professionele hulp te soek as hulle dit sou nodig kry, of selfs Childline by 116 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Karoo ·

Ek hoop daar gaan ondersoek ingestel word want dis vreemd dat skoliere en werknemers hulle eie lewe wil neem en geneem het. Ek hoop hulle kry die nodige ondersteuning.

Sue ·

Daar is niks “vreemd” aan selfdood nie. Elke 40 sekondes sterf n persoon iewers in die wereld aan selfdood.

Anel ·

Pleks word die vergadering op ‘n ander dag gedoen. Sondag is ‘n rusdag, waar die mense kerk toe gaan. Nou moet hulle vergaderings bywoon. Daar is groot fout by daardie skool as soveel kinders nie meer wil leef nie.

Miskruier ·

Daar antwoord jy self, God se wette word geignoreer en sien die nagevolge.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.