Kommer oor verspreiding van masels in skole

(Foto iStock)

Met die getal maselgevalle wat daagliks styg, is ekstra waaksaamheid nodig om die verspreiding van die virus te bekamp noudat die skole heropen het.

Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) is dit omdat die oorheersende ouderdomskategorie van laboratorium-bevestigde maselgevalle tussen vyf en 14 jaar oud is, wat dus skoolgaande kinders is.

“Skole en kleuterskole moet op die uitkyk wees vir moontlike maselgevalle en vinnig daarop reageer. Verder moet die beplande inentingsveldtogte met dieselfde dringendheid voortgaan,” sê Nios.

“Voorkoming en beheer van maselgevalle kan slegs deur inenting gedoen word. Versorgers en ouers word aangeraai om hul kind se inentingsrekord na te gaan en te bevestig dat hulle maselentstof ontvang het. Kinders wat nie ingeënt is nie, kan maselentstof op enige ouderdom bo ses maande gratis by primêre gesondheidsdienste ontvang.”

Nios het Donderdag bekendgemaak dat altesaam 371 gevalle van masels tussen 11 Oktober en 7 Januarie in al nege provinsies aangemeld is.

Die uitbreking is egter steeds tot net vyf provinsies beperk. Limpopo het steeds die meeste gevalle aangemeld (140), gevolg deur Noordwes (114) en Mpumalanga (75). In Gauteng is 16 gevalle tot die begin van Januarie aangeteken en in die Vrystaat 12 gevalle.

Slegs een geval is sedert Oktober in die Oos-Kaap aangeteken, vier in die Noord-Kaap, vier in die Wes-Kaap en vyf in KwaZulu-Natal.

Kinders tussen vyf en nege jaar oud is verantwoordelik is vir 41% (146 gevalle) van die 357 totale gevalle in Limpopo, Mpumalanga, Noordwes, Gauteng en die Vrystaat. Dit word gevolg deur een- tot vierjariges wat verantwoordelik is vir 105 van die gevalle (29%). Altesaam 16% (57 gevalle) van die gevalle is kinders tussen tien en 14 jaar oud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

DJ ·

In my kinder dae was masels ‘n algemene ‘kinder siekte’. Ons ouers het ons selfs by kinders met masels laat slaap sodat ons kon aansteek want dit was ‘n eenmalige kinder siekte’ en sodra jy dit gehad het, het jy dit nie weer gekry nie. Ek verstaan nie heeltemal die ongekende vrees wat nou opgejaag word rondom masels nie.

Janine ·

DJ, omdat ‘new age’ ouers nie hul kinders laat ent nie.

Perdeby ·

Ja want die kinders word nie by die huis gehou nie, so blameer die ouers wat nie van beter weet nie. Dit steek aan wanneer die uitslag begin weg gaan.

Ditsim ·

Ek wonder maar net, moet ouers nie bewys dat die kind ingeënt is voordat hy by die skool begin nie.

Anel ·

Raak paniekerig oor ‘n kindersiekte maar wat van al die moorde en verkragtings?????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.