Kommissie kasty produsente, kleinhandelaars oor kospryse

Die kommissie sê hy gaan kospryse steeds fyn dophou om te betaal of prysverlagings ook na verbruikers deurgegee word. (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Die Mededingingskommissie het ingeklim onder produsente en kleinhandelaars omdat hulle Suid-Afrikaanse verbruikers aan “ongeregverdigde” verhogings in die pryse van sonneblomolie en brood onderwerp het, asook “opportunistiese” verhogings in die prys van mieliemeel.

Die kommissie het pas sy jongste verslag, waarin hy die pryse van noodsaaklike voedselitems monitor, bekend gestel. In hierdie verslag het die kommissie ook diepgaande ondersoek ingestel na die pluimveewaardeketting en die uitwerking daarvan op verbruikers.

Groot kommer heers oor die groter verskille tussen wat boere vir hul produkte betaal word, in teenstelling met die prys op die winkelrak, asook ongeregverdige verhogings in die prys van brood, kookolie en mieliemeel.

“Die kommissie ondersoek dus die prys van verskeie noodsaaklike kositems soos brood, kookolie, mieliemeel, rys, meel, margarien en pasta op kleinhandel- en groothandelvlak.”

Die voedselbedryf bly ʼn prioriteit vir die kommissie, veral omdat armer verbruikers ʼn aansienlike gedeelte van hul inkomste aan noodsaaklike items bestee.

Kookolie

Kookolie word al hoe duurder – en die prysstygings is skerp. Die kommissie sê in sy ondersoek ʼn noemenswaardige verhoging in die produsenteprys van kookolie is sedert Maart verlede jaar waargeneem en hierdie stygings is weer na verbruikers deurgegee. Dit lyk of kleinhandelaars sommige van die verhogings geabsorbeer het.

Van Junie tot Desember verlede jaar het die groothandelprys van sonneblomolie aansienlik gedaal, van R32,72 tot R23,88; bes moontlik die gevolg van ʼn vorige ondersoek wat die kommissie daarna gedoen het.

Kleinhandelpryse het van R45,33 (Julie 2022) tot R38,71 (Desember 2022) gedaal.

Die daling in die groothandelprys van kookolie was egter veel groter as die daling wat kleinhandelaars uiteindelik aan verbruikers deurgegee het.

“Die kommissie bly bekommerd oor pryse in die kookolie-waardeketting en doen tans ʼn formele ondersoek daarna,” lui die verslag.

Brood

Die prys van wit- en bruinbrood laat verbruikers ook les opsê. (Foto: Christel Cornelissen)

Die prys van wit- en bruinbrood laat verbruikers ook les opsê.

Van Januarie tot Desember verlede jaar het die kleinhandelprys van witbrood van R15,47 tot R18,62 toegeneem –  ʼn prysstyging van 20%. Terselfdertyd het die groothandelprys van R11,31 tot R12,97 toegeneem – in hierdie geval, ʼn verhoging van 15%.

Die kleinhandelmarge het dus van 27% tot 30% toegeneem en in randwaarde van R4,16 tot R5,65.

Die kleinhandelprys van bruinbrood het verlede vinniger gestyg as wat groothandelpryse tussen Januarie en April toegeneem het. In Januarie verlede jaar was die kleinhandelprys R13,99 en teen April het dit op R14,93 gestaan. In dié tyd het die groothandelprys egter op R11,67 stilgestaan.

Daar was wel later in die jaar ʼn groothandelprysverhoging.

Die kleinhandelprys het uiteindelik met 19% gestyg – van R13,99 vir ʼn brood tot R16,61 – terwyl die groothandelprys met 14% toegeneem het (van R11,67 tot R13,26).

Die kommissie sê hierdie neiging is soortgelyk aan witbrood, waar kleinhandelaars ook probeer het om soveel as moontlik wins op die stapelitem te maak.

Mieliemeel

Die prys van mieliemeel – nog ʼn stapelitem op miljoene Suid-Afrikaanse tafels – het verlede jaar ook bly styg. Van Januarie tot Desember het mieliemeelpryse met 32% toegeneem: van R26,62 tot R35,19. Die grootste verhogings was in die tweede kwartaal en van April tot Junie het pryse van R28,01 tot R33,61 gestyg.

Die kommissie sê hy gaan ook die omvang en tempo van pryswisselings hier fyn dophou.

Groente, vrugte

(Argieffoto: Christel Cornelissen)

Groente is grootliks verskans teen internasionale markte en is meer ʼn weerspieëling van plaaslike invloed.

Volgens die kommissie het die prys van wortels, aartappels en kool bestendig gebly en in die geval van wortels en aartappels het pryse in ʼn stadium selfs gedaal. Tamatiepryse het wipplank gery, terwyl die prys van uie gaandeweg tussen Januarie en Augustus opgestoot is. Daarna het die prys van uie skielik gestyg, tot dit weer teen Desember effens begin daal het.

“Dit is onduidelik wat die prys van uie aanjaag omdat dit lyk of dit meer as net blote seisoenswisseling is,” het die kommissie bevind.

Vrugte word ook hoofsaaklik deur plaaslike markuitkomste geraak, hoewel uitvoere wel ʼn rol hier kan speel.

Die pryse van die vrugte wat die kommissie verlede jaar dopgehou het, het gedaal. Avokado’s het die grootste daling ondervind, gevolg deur lemoene. Die meeste dalings was in die eerste helfte van die jaar, waarna pryse weer begin klim het.

Avokado’s en lemoene het weer die voortou geneem: die prys van avo’s het in Augustus van R10,16/kg tot R15,34/kg gestyg (die styging is seisoenaal), terwyl die prys van lemoene van R2,71/kg in Augustus tot R7,29/kg in Desember toegeneem het.

Pluimvee

ie kommissie het in sy verslag ook veral gekonsentreer op die pluimveewaardeketting, veral individueel bevrore stukke. (Foto: Christel Cornelissen)

Die kommissie het in sy verslag ook veral gekonsentreer op die pluimveewaardeketting, en spesifiek individuele vinnigbevrore hoenderstukke. Voer beloop meer as tweederdes van produksiekoste van braaikuikens en druk pryse in die waardeketting dus op.

Die waardeketting is egter uiters gekonsentreer en vyf maatskappye is verantwoordelik vir 70% van algehele hoenderproduksie, met twee maatskappye wat 50% van produkte lewer.

Die kommissie het bevind dat die prys van graan en oliesade, om dierevoer te vervaardig, die afgelope twee jaar wisselvallig was en gestyg het. Terselfdertyd het pluimveevoer betreklik stabiel gebly.

Daar word boonop verwag dat die prys van rou materiaal in die eerste helfte van vanjaar gaan daal en die kommissie sal dophou of hierdie dalings na voerpryse en uiteindelik hoenderpryse op kleinhandelvlak deurgegee word.

Hoenderinvoere uit die Europese Unie (EU) is weens ʼn uitbreking van voëlgriep opgeskort, maar op tuisbodem het pryse gestyg.

“Hierdie teenstrydigheid vereis verdere ondersoek en die kommissie gaan verwikkelinge in die pluimveesektor met ʼn valkoog dophou om te verseker dat verbruikers nie aan onbillike prysverhogings onderwerp word nie.”

Die kommissie waarsku ook dat die verhouding tussen verskaffers uitgebuit kan word om mededingendheid te verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.