Konferensie bring navorsers wat diereklanke ondersoek byeen

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Waarom is klank vir visse belangrik? Wat weet ons van die gehoor en gehoorpersepsie van voëls, en het ʼn baba se huil ʼn spesifieke betekenis?

Dit is ʼn paar van die onderwerpe wat vanjaar tydens die tweede Afrika-konferensie oor bioakoestiek bespreek gaan word. Die konferensie vind plaas van 2 tot 5 November en word deur Sea Search en die Universiteit Stellenbosch se departement plant- en dierkunde aangebied.

Meer as 80 aanbiedings deur onder meer toonaangewende wetenskaplikes van Afrika en die res van die wêreld sal na verwagting gedoen word.

Onderwerpe sluit in ondersoeke na die redes waarom diere sing, die afluister van onderlinge primaatkommunikasie, en ʼn sessie oor die kernaspekte van bioakoestiek – wat navorsingsmetodes en data-insameling gemik op nie-spesialiste en studente insluit.

Dr. Tess Gridley, stigter van die African Bioacoustics Community en mededirekteur van Sea Search, sê die inisiatief is ʼn proaktiewe stap in die uitbouing van hierdie wetenskapsveld in Afrika.

“Navorsers in Afrika het toegang tot ʼn wye reeks klankryke spesies met interessante gedrag en unieke omgewings wat beter beskerming vereis. Die toename in industrialisasie het geraasbesoedeling tot gevolg wat gedrag kan verander en stres kan veroorsaak. Daar is dus baie redes vir wetenskaplikes om die geleenthede wat bioakoestiek bied te ontgin.”

Sy sê een van die primêre redes vir die ontwikkeling van die African Bioacoustics Community is om opleidingsgeleenthede vir Afrika-studente te skep.

“Weens ʼn beperkte toegang tot geld word wetenskaplikes in Afrika beperk omdat hulle nie internasionale konferensies kan bywoon nie. Gevolglik loop ons geleenthede mis om van mekaar te leer en met kundiges in die vakgebied te netwerk.”

Die doel is om hierdie veld in Afrika uit te bou deur ʼn platform te verskaf vir mense wat op verskillende aspekte van bioakoestieknavorsing fokus, waar interaksie kan plaasvind en netwerke gevorm kan word. Die teikengehoor sluit in wetenskaplikes uit diverse velde, studente, omgewingspraktisyns, beleidmakers en die algemene publiek.

Hierdie jaar se konferensie sal ook aansluit by ʼn bewaringsimposium op Woensdag 4 November. By dié geleentheid kom akoestiese monitering in die beheer van onwettige aktiwiteite soos ontbossing, stroping en onwettige visvangtegnieke ter sprake.

Vanjaar sal professionele sowel as amateur rolprentmateriaal van gebeure agter die skerms, wat insig in die navorsingsveld van bioakoestiek bied, vertoon word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stof ·

Hier kom ‘n ding wat die moeite werd gaan wees om te volg. Seker een van die mees afgeskeepte onderwerpe. Baie dankie aan die organiseerders.

Casper ·

Jy kan konverensies berade en inligting wat gaan oor opvoeding hou tot jy blou is in die gesig maar
1 Terwyl daar registers en olifante is sal daar gestroop word.
2 Terwyl daar perlemoen in die see is sal daar gestroop word.
3 Terwyl daar ‘n mark is vir eksotiese diere soos die itermago sal daar onwettig handel gedryf word.Ek het nog nooit gehoor van medikasie wat gierigheid genees nie.Net soos mense kommunikeer diere ook maar moenie vir my sê jy verstaan as ‘n vis vir jou sê hy is honger nie.Walvisse en dolfyne roep mekaar grootendeels om te jag en glo my na al die jare wat ek in die see hengel het ek nog nooit ‘n dolfyn gevang nie.Slim diere né.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.