Krag op Jagersfontein darem weer aan

Kragtoevoer is dele van die Jagersfontein-gebied herstel nadat ‘n modderstorting die afgelope naweek reuseskade aan infrastruktuur veroorsaak het. (Foto: Twitter)

Terwyl grootskaalse opruimingswerk in die omgewing van Jagersfontein – waar ʼn slikdam by ʼn diamantmyn die afgelope naweek meegegee het – voortduur, is kragtoevoer na die beleërde dorp ten minste herstel.

Modder het Eskom se Rietkuil-substasie oorstroom en infrastruktuur beskadig toe ʼn damwal by die myn Sondag gebreek en tot modderstortings gelei het. Die substasie is ʼn grootmaakverskaffingspunt van waar Centlac, wat elektrisiteit in die gebied versprei, krag aan Jagersfontein en Charlesville lewer.

Stefanie Jansen van Rensburg, Eskom se woordvoerder in die Vrystaat, sê kragtoevoer na die Jagersfontein-myn is Sondagmiddag herstel en planne word gemaak om grootmaattoevoer aan Centlec, deur die gebruik van alternatiewe toevoerders, te herstel. “Indien alles volgens plan verloop, behoort grootmaattoevoer teen Dinsdag herstel te word.”

Eskom waarsku egter dat munisipale infrastruktuur ook beskadig is, wat beteken die onderbrekings kan selfs langer duur.

Minstens 50 kragpale het weens die kitsoorstroming omgeslaan, wat beteken Eskom se kliënte op die Fauresmith-, Spitskop- en Pompie-Rietkuil-toevoerders sit steeds sonder krag.

“Modderige toestande beteken die gebied kan nie bereik word nie, wat beteken sewe landelike kliënte sit sonder toevoer,” sê Jansen van Rensburg.

Die Rietkuil-substasie was tot dusver ook heeltemal onbereikbaar en daarom is dit nog onduidelik wat die omvang van die skade is.

Dit is moontlik dat die ganse substasie heeltemal van voor af gebou sal moet word.

“Eskom gaan voort om saam met die verskillende rampbestuurspanne te werk om die verwoestende situasie op Jagersfontein te pak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Papsak ·

Ek is bly daar is weer krag vir Jagersfontein ek daar skool gegaan klaar gemaak en nog lank daar gebly ek so jammer vir die groot skade wat daar was sterkte vir almal daar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.