Kragkrisis vererger; meer druk op waterstelsel

(Argieffoto: Dallé)

Suid-Afrikaners weet ongetwyfeld daar is ʼn kragkrisis; wat belangrik is om nou te besef, is dat dit ʼn verergerende krisis is, waarsku Warrick Pierce, hoofnavorser by die WNNR se energiesentrum.

Dit plaas boonop meer druk op die waterstelsel.

“Ons is naby aan die rand.

“Beurtkrag is ʼn simptoom van die probleem, nie die oorsaak nie.”

Warrick sê die kragkrisis gaan eers ʼn keerpunt bereik wanneer die energiebeskikbaarheidsfaktor begin stabiliseer – en dan verbeter – en wanneer noemenswaardige hoeveelhede krag by die opwekkingskapasiteit gevoeg word.

Dit kan volgens hom dus nog jare duur voor Suid-Afrika beurtkrag agterlaat, selfs al word bykomende kapasiteit dadelik by die netwerk gevoeg.

Die energiebeskikbaarheidsfaktor (EBF) is ʼn nuttige manier om te bepaal hoe goed Eskom se vloot vaar: hoeveel krag beskikbaar is en waarop Suid-Afrikaners kan staatmaak, verduidelik hy. Die EBF het die afgelope ruk ʼn rekordlaagtepunt van 48,6% bereik; die eerste keer wat dit onder die 50%-vlak gedaal het.

“Eskom se vloot was internasionaal bekend en erken vir sy topprestasie, maar daar was oor die jare ʼn algemene en voortgesette daling in prestasie,” sê Warrick. “Die daling na onder 50% is regtig kommerwekkend.”

Warrick sê Eskom beskik teoreties oor die vermoë om genoeg krag op te wek. Die onbetroubaarheid van die stelsel en kragsentrales wat ingee, maak egter ʼn duik in die hoeveelheid krag wat eindelik gelewer word.

Algehele ineenstorting?

Die Komati-kragsentrale. (Argieffoto: Eskom)

Verlede jaar was die kwaaiste beurtkragjaar in Suid-Afrika se geskiedenis en meer as die helfte van die beurtkrag wat in 2022 toegepas is, het boonop in die tweede helfte van die jaar voorgekom. Daar was verlede jaar 4,5 keer meer beurtkrag as in 2021 en waar fase 2 gewoonlik gegeld het, is fase 4 verlede jaar hoofsaaklik ingespan.

Die fase 6-beurtkrag wat nou geld, het boonop die 2019-vlak – die enigste jaar wat fase 6 ooit tevore ingestel is – verbygesteek.

Daar is boonop al hoe meer sprake dat fase 8 – en selfs hoër fases – ʼn harde en vinnige werklikheid kan word.

Pierce benadruk dat die inwerkingstelling van fase 8 nie gesien moet word as dat die stelsel op die rand van ineenstorting is nie. “Beurtkrag is ʼn noodreaksie, wanneer die aanbod nie in die vraag voldoen nie. Dit veroorsaak onstabiliteit en kan lei tot ʼn algehele ineenstorting.

“Dus verlaag die stelseloperateur die vraag – hy dwing beurtkrag af. Eskom probeer tans om beurtkrag tot fase 6 te beperk, maar ʼn verhoging tot fase 8 beteken nie ons is enigsins nader aan ʼn algehele stelselineenstorting nie. ʼn Hoër fase beteken die gaping tussen vraag en aanbod word al hoe erger, maar nie dat ons nader aan ʼn ineenstorting is nie.

“Eskom en die stelseloperateur is baie goed gesout om te verseker dat ons nie daardie punt bereik nie.”

Data wys egter dat onbeplande instandhoudingswerk – wanneer kragsentrales die gees gee – sedert 2020 al hoe meer word.

“Instandhouding gaan nie kapasiteit verhoog nie, maar wel beskikbaarheid. Wanneer jy instandhouding doen, moet die stelsel van lyn gehaal word; dit beteken die eenheid is nie beskikbaar nie.

“Dit is die bitter taai situasie waarin Eskom hom bevind: hy weet hy moet instandhouding doen, maar hy weet ook hy moet die ligte aanhou. Dit is ʼn balanseertoertjie, maar Eskom vaar goed om te verseker die stelsel bly stabiel.”

Waterkrisis ook al erger

Die voortslepende beurtkrag plaas nou ook al hoe groter druk op die land se vermoë om betroubaar water te verskaf, sê Odwa Badi, hoof- siviele ingenieur by die WNNR. Konstante kraglewering is dringend nodig, veral omdat waterinfrastruktuur reeds lank verwaarloos is en weens die kragprobleme nou selfs vinniger agteruitgaan.

Krag word gebruik om water van bronne na reservoirs en opgaartenks te pomp, maar dié infrastruktuur is nie gebou om die konstante aan-en-af-krag te hanteer nie. Dit rig reuseskade aan reeds verkrummelende infrastruktuur aan en instrumente wat gebruik word om reservoirs te bestuur, werk nie wanneer die krag af is nie.

“Ons is ongetwyfeld in die moeilikheid wat betref water- en kragvoorsiening,” sê Badi en maan dat dringende maatreëls ingestel moet word om te verhoed dat die situasie vererger.

Suid-Afrika verloor ook enorme hoeveelhede water; verspilde water wat peperduur (en skaars) krag moes pomp terwyl dit niemand bereik nie. “As jy die lekplekke toemaak, hoef jy nie daarvoor te pomp nie,” sê Badi.

Sowat 41% van alle water wat gepomp word, is sogenaamde geen-inkomste-water (water waarvoor niemand betaal nie) en hiervan gaan 35% weens waterlekke in die stelsel verlore. Dit is ʼn verlies aan 1 660 miljoen m² water en wanneer dit in rand omgeskakel word, beloop dit ʼn verlies van sowat R9,9 miljard per jaar, sê Badi.

“Dit is geld wat ons elders kan gebruik, of wat ingespan kan word vir waterinfrastruktuur,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

domheks ·

MOOI SO cANCer! Julle vaar baie goed na 30 jaar aan bewind! Ons gaan maar terug in die bosse in om hout te soek.

Trotse Boervrou ·

Sal jul asb net ophou snert praat. Almal weet waarheen ons oppad is. Moet asb nie weer sê dat die stelsel nie op die rand van ineenstorting is nie. Wat op dees aarde kan jul doen om dit te verhoed? Flippen niks. Alles is tot niet en julle weet dit maar te goed!

Nico ·

Hierdie regering is net soos ‘n klomp leë blikke, maak net geraas en verder niks nie.

Truman Burbank ·

En nog steeds het die lande waarheen SA krag uitvoer geen beurtkrag nie. hmmm. O ja. Die petrol wat hul invoer van SA is ook goedkoper daar.

Louis ·

Did krag krisis is als te danke aan die power anc regdring.

Manie ·

‘n Ander berig reken dat ons sonder ‘n woord vanaf Eskom reeds in fase 7 is.

Blomkind ·

Al daai bja geld wat vir Maintenance moes gegaan het, is lankal gespend…Vergete…In die drain af…En niks om voor te wys nie…Nou val die hele Land uitmekaar… Want die geld is op…So wat nou!!!!!!!!!! Nou niks…Nou sit ons maar en wag

Riaan ·

Hierdie is ‘n sagmaak proses. Nie baie lank gelede nie is ons verseker dat fase 8 nooit sal realiseer nie, en nou is dit voor ons deur. Dit is net ‘n kwessie van tyd voor fase 2 en 4 iets gaan wees waarna ons terug verlang. Dit is ‘n skande man.

marius ·

Dit gebeur al die afgelope 4 jaar. Orals. Cholera is volgende. Hou maar dop .

Johan ·

Verwyder eers die cANCer, dan kan dit dalk verbeter. Ek sien anderdag dat Lagos nog net tekens van ‘n 19lankterug se sentrale drinkwater stelsel het. Dis ons voorland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.