Krematorium al jare lank grafstil weens ‘opknappings’

Argieffoto

Die Ekurhuleni-metroraad se enigste krematorium in Benoni aan die Oos-Rand is al vyf jaar lank feitlik gesluit vir opknappingswerk.

Tog kon daar vandeesweek tydens die soveelste raadsvergadering stééds geen oplossing gevind word om die Lala Ngoxolo-krematorium in Crystal Park ten volle te laat funksioneer nie.

Die saak is nou vir die derde keer na die metro se departement van omgewingshulpbronne en afvalbestuur verwys.

Monique Kriek, plaaslike raadslid van die VF Plus, sê die Lala Ngoxolo-krematorium – een van die min krematoriums aan die Oos-Rand – is in 2019 vir opknappingswerk gesluit. “Intussen moet inwoners ten duurste gebruik maak van ʼn private krematorium om hul geliefdes te veras.”

Volgens Kriek kon slegs een oond in ʼn stadium vir verassings gebruik word nadat die krematorium vantevore tot 150 verassings per maand hanteer het.

Werksaamhede is later na tien per maand afgeskaal voordat daar eindelik ook probleme met die enigste werkende oond ondervind is.

Luidens plaaslike media is die krematorium in Crystal Park voor sy sluiting in 2019 ook in 2018 tydelik gesluit weens werksaamhede, het plaaslike media destyds berig.

Die krematorium was na bewering in 2017 ook vir minstens ses weke buite diens weens probleme met nuutgeïnstalleerde oonde. Dié probleme het destyds gesondheids- en veiligheidskwessies ingehou.

Maroela Media het Sondag ʼn woordvoerder van die Ekurhuleni-metroraad genader om kommentaar. Die kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wit Leeu ·

Soos gewoonlik werk NIKS waaraan hulle raak nie ! Dis nie meer nuus nie dis nou ‘n feit !

Frank ·

En die personeel word seker betaal om te sit en niks doen nie of by huis te bly

Anna84 ·

Wat het hulle gedink gaan gebeur as niemand vir die verassings hoef te betaal nie? Die opknappings werk kan nie gedoen word nie, want daar is seker nie fondse om dit te doen nie. Dan moet daar maar betaal word vir privaat verassings, net soos wat ander werkende, belastingbetalers ook moet betaal daarvoor.

Catherina ·

Krematoriums seker in Kaap ook gesluit of buite working…wag al n MAAND vir my man se verassing

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.