Kriptogeld: Mynveld én weiveld

(Foto: Verskaf)

Die oomblik dat kriptogeld in braaivleisvuurgesprekke opduik, ontlok dit gewoonlik een van twee reaksies: óf ’n weersin in dié wispelturige digitale beleggingsdal, óf ’n opgewonde omhelsing van die ontasbare geklingel van geld in die kuberruim. Van draadsit oor dié onderwerp is daar min sprake.

Ongeag die kant van die vuur waar jy jou bevind, blyk dit duidelik uit navorsing dat al meer Suid-Afrikaners digitale bates soos kriptogeldeenhede as ’n blink beleggingsgeleentheid en lewensvatbare alternatief vir tradisionele geldeenhede beskou. Voeg hierby die prys van kripto-eenhede soos Bitcoin wat die hoogte inskiet en ’n splinternuwe toepassing wat dit vir Suid-Afrikaners moontlik maak om hul kripto in ’n kits in kontant om te skakel, en die gesprek word net al warmer!

Al meer in SA slaan munt uit kriptogeld

(Foto: Verskaf)

Volgens Statista het nagenoeg 10,24 miljoen Suid-Afrikaners, oftewel 16,7% van die bevolking, tans kriptogeld in ’n digitale beursie. Wat dié syfer merkwaardig maak, is die feit dat slegs 1 miljoen mense in die land minder as vier jaar gelede hul hand aan kriptogeld gewaag het. Dié getal sal na verwagting teen 2028 tot meer as 15 miljoen opskiet.

Veral jongmense is nie skrikkering om hul tone in die onstuimige kripto-see te steek nie. Altesaam 83% van Suid-Afrikaners wat kripto besit, is tussen 18 en 44 jaar oud, toon navorsing deur die kriptobetalingsonderneming Triple-A. Dit is ook nie net diegene wat nie die einde van hul skatte ken wat met ’n bultende beursie vol Bitcoin spog nie. Sowat 77% van Suid-Afrikaanse kripto-eienaars het ’n jaarlikse inkomste van R450 000 of minder. Sowat 46% het meer as R10 000 in kriptogeld en 12% spog met meer as R100 000 in hul kuberkasregister.

Om kripto te besit, is een ding, maar om dit te bestee, is nie so maklik óf vinnig nie. Ofskoon meer as die helfte (52%) van Suid-Afrikaanse kripto-eienaars reeds dié manier van betaling omarm, is klein- en e-handelaars wat dié geld aanvaar, beperk, en is omskakeling dikwels omslagtig. Een van die vernaamste redes waarom 23,9% van Suid-Afrikaners nie kriptogeldeenhede besit nie, is juis omdat hulle nie dié geld sommerso vir inkopies by hul gunstelingwinkels kan gebruik nie.

Kripto tot kontant in ’n kits

Die oplossing? ’n Vernuftige toepassing wat deur die betalingsmaatskappy Paycorp ontwikkel is. Paycorp, waarvan die hoofkantoor in Suid-Afrika is en in sewe lande in Suider-Afrika en Oos-Europa sake doen, se CryptoExpress-app het die omskakelingsproses van kripto in kontant nie net vereenvoudig nie, maar meer vaartbelyn, vinniger en veiliger gemaak.

Steven Kark, uitvoerende hoof van Paycorp (Foto: Verskaf)

CryptoExpress stel jou in staat om jou kriptogeld in harde kontant by meer as 3 000 Cash Express-kitsbanke landwyd te onttrek. Tot dusver moes Suid-Afrikaners hulle tot minder as 30 Bitcoin-masjiene in hoofsaaklik stedelike gebiede beroep om hul geld van kubersfeer na gatsak te navigeer.

“Die Cash Express-kitsbanke is geleë by formele en informele handelaars, motorhawewinkels en gasvryheidsliggings reg oor die land. Dit maak dit toeganklik vir die meeste Suid-Afrikaners en bring ’n einde aan ingewikkelde omskakelings, die skep van rekenings en die eindelose gewag vir geld om beskikbaar te word,” sê Steven Kark, uitvoerende hoof van Paycorp.

Volgens Kark is die proses eenvoudig, deursigtig en gerieflik. “Jy skakel jou kripto-geldeenheid om in die CryptoExpress-toepassing, magtig die transaksie in jou kriptobeursie en ontvang ’n onttrekkingsbewyskode (pin) wat deur die toepassing gegenereer word. Om toegang tot die kontant in rand te kry, gebruik jy jou selfoonnommer en die onttrekkingskode by ’n Cash Express-kitsbank.

“Daar is geen verskuilde transaksiekoste nie. Dit is soos om buitelandse valuta op die lughawe te ruil. Soos wisselkoerse skommel en die ruilkoers deurlopend verander, net so wissel die waarde van kriptogeld deurlopend. Die toepassing toon duidelik die hoeveelheid kripto wat benodig word om ’n sekere bedrag in randwaarde te onttrek.

(Foto: Verskaf)

“Uitbetalings is tans beskikbaar vir Bitcoin, Ethereum, USD Coin en Tether, en multivlaksekerheidsmaatreëls verseker die veiligheid van jou kripto én kontant. Ons hoop deur die proses eenvoudiger en meer intuïtief te maak, sal Suid-Afrikaners makliker toegang tot hul geld hê, asook bemagtig word om ’n groter keuse van betaalopsies te hê, en dat meer mense kubergeld as bate en beleggingsinstrument sal omhels,” sê Kark.

Wispelturige wipwarit

Die wispelturige wipwarit van kripto-eenhede is onbetwisbaar, maar dié finansiële voertuie het die afgelope jaar hope woema getoon. Bitcoin het volgens Coinbase op 8 Februarie rondom die vlak van R840 000 verhandel. Dit is meer as dubbel die vlak van R380 000 ’n jaar gelede. Ethereum het op sy beurt rondom R45 000 galop, teenoor R27 000 dieselfde tyd verlede jaar.

Volgens ’n peiling deur die Britse finansiëletegnologiegroep Finder, wat die voorspellings van 40 kriptobedryfspesialiste opgeweeg het, kan Bitcoin se waarde vanjaar ’n hoogtepunt van $88 000 (sowat R1,67 miljoen) bereik (teenoor $43 000 tans) en teen die einde van 2024 die pas rondom $77 000 (nagenoeg R1,46 miljoen) markeer. Sommige sien weer ’n hoogtepunt van $200 000 (R3,8 miljoen) en laagtepunt van $20 000 (R380 000) in húl kristalbal, berig Euronews.

(Foto: Verskaf)

Daar word wel allerweë verwag dat die sogenaamde BTC-halveringsgeleentheid in April vanjaar ’n noemenswaardige uitwerking op die prys van Bitcoin gaan hê. ’n Halveringsgebeurtenis verwys na ’n tydperk elke paar jaar wanneer die vergoeding vir die ontginning (of myn) van Bitcoin gehalveer word. Soos sake nou staan, ontvang diegene wat Bitcoin ontgin 6,25 Bitcoin, wat dus tot 3,125 kan daal.

Halvering het ’n laer aanbod tot gevolg met minder Bitcoin wat beskikbaar gestel word, wat weer tot hoër pryse lei. Die helfte van die 40 Finder-paneellede glo dat Bitcoin binne ses maande ná die halveringsgeleentheid ’n rekordhoogtepunt gaan bereik.

Die eerste halvering het in November 2012 plaasgevind. Die volgende was in Julie 2016, en die mees onlangse in Mei 2020. Dié mynbeloning het by 50 BTC per blok begin toe Bitcoin in 2009 geskep is. Daar sal uiteindelik slegs 21 miljoen Bitcoin in omloop wees. Byna 19,6 miljoen Bitcoin is reeds ontgin, wat beteken dat net 1,4 miljoen nog gemyn kan word.

 

  • Die CryptoExpress-toepassing kan gratis op iOS– en Android-toestelle afgelaai word. Lees meer oor CryptoExpress by co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vriendelike Frikkie ·

Wat gebeur wanneer die laaste Bitcoin gemyn is? Gaan dit sy waarde behou soos goud of gaan dit in die eter verdwyn? Niemand weet nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.