Krok skuil by Harties-riooldam

(Foto: Owl Rescue Centre/Facebook)

ʼn Krokodil wat weke gelede sy verskyning by ʼn rioolplaas in Hartbeespoort gemaak het, het sedertdien besluit om hom behoorlik tuis te maak by een van die aanlegte se damme.

Lede van die Owl Rescue Centre spook sedert Maandag om die klein Nylkrokodil gevang te kry.

Brendan Murray, stigter van die sentrum, sê werkers van die private aanleg het hom vandeesweek genader nadat die krokodil reeds twee weke gelede vir die eerste by die fasiliteit opgemerk is.

Murray en sy span werk onder leiding van die departement van ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake in Noordwes om die krokodil te probeer vang.

“Ons kon hom nog nie vang nie, maar ons het ʼn nuwe hok gebou en beplan om dit later vandag [Donderdag] naby die dam te sit om hom te lok,” sê Murray.

“Dit is nie maklik nie. Hy is baie skrikkerig vir mense en hardloop die dam in wanneer hy ons sien.

“Dit lyk ook asof hy onlangs ʼn groot maaltyd gehad het. Ons gaan hom weer probeer lok met kos, maar as hy nie honger is nie, gaan hy nie uit die dam kom nie.”

(Foto: Owl Rescue Centre/Facebook)

Murray skerts dat as alle ander pogings misluk, hulle dalk ʼn outydse tegniek sal moet inspan en met die krokodil moet stoei.

Dit gaan waarskynlik ʼn paar dae neem voordat hulle die krokodil kan vang.

Murray vermoed dat die 2 meter lange krokodil nie van ʼn nabygeleë plaas ontsnap het nie, maar eerder uit die Roodekoppies-dam in die omgewing van die Krokodilrivier afkomstig is.

“Ons kry gereeld oproepe oor krokodille wat op soek is na ʼn nuwe gebiede en dan met die rivier op swem,” sê hy.

“Daar is ook redelik baie krokodille in en om Hartbeespoort, so dit is nie ʼn buitengewone verskynsel nie.”

Die krokodil is ʼn bedreigde spesie en sodra hy gevang en verdoof is, sal die departement een van sy aangewese fasiliteite identifiseer waar die krokodil weer veilig vrygelaat kan word.

Die krokodil hou nie tans ʼn bedreiging vir mense in nie, maar Murray moedig die publiek aan om die gebied te vermy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amelia ·

Geen probleem laat hy die 20ste gevang word eff sal nie n probleem he nie moet net nie voor dan kos gee nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.