Kroonstad-konsentrasiekamp nou rioolplaas

Riool in die Kroonstad-konsentrasiekamp. (Foto: Verskaf)

Die konsentrasiekamp in Kroonstad in die Vrystaat is nou reeds weke lank met riool oorstroom, klaarblyklik omdat die rioolpyp na die watersuiweringswerke verstop het.

Ina Jagga, ʼn Voortrekker en inwoner van die dorp, het die riool die eerste keer opgemerk toe sy die konsentrasiekamp aan die begin van Februarie besoek het.

“Daar was darem vanoggend (Dinsdagoggend) mense van waterwerke daar wat die riool probeer uitpomp het, maar die riool stroom soos ʼn rivier daarin. In ʼn stadium kon ʼn mens nie eens daar inkom nie en die heining het nou begin omval van al die water,” sê Jagga aan Maroela Media.

Jagga woon sedert 1986 in Kroonstad en is jare reeds betrokke by die bewaring van erfenis in dié dorp.

Aan die einde van Maart 1901 het die Kroonstad-konsentrasiekamp reeds 2 500 mense gehuisves en in die kampkerkhof is meer as 2 000 kinders, vroue en bejaardes begrawe.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het op Vrydag 7 Februarie self die kampkerkhof besoek en was verbaas oor die groot poele water by die ingang van die kerkhof.

Langner vertel die konsentrasiekampbegraafplaas word letterlik oorstroom met rioolwater. “Dit is ʼn gemors – 120 jaar ná die verskroeide aarde verdien die vroue en kinders ʼn beter onthou.”

Jagga, twee vriende en ʼn paar van hul werkers probeer nou om die grafte af te spuit en skoon te maak.

Riool in die Kroonstad-konsentrasiekamp. (Foto: Verskaf)

Heloïse Denner, VF Plus-parlementslid, sê die Moqhaka- plaaslike munisipaliteit het onlangs ʼn plaaslike toiletpapierfabriek oënskynlik toegelaat om die rioolstelsel in dié gebied geheel en al te laat verstop. Dit dra grootliks by tot die besoedelingsprobleem.

“Die VF Plus het strafregtelike klagte teen die munisipale bestuurder van die Moqhaka- plaaslike munisipaliteit ingedien vir die oortreding van die toepaslike voorskrifte van die Wet op Omgewingsbestuur en doen ʼn beroep op die minister en die departement van water en sanitasie om die oortreding van wetgewing in dié verband as prioriteit te stel,” sê Denner.

Jagga sê die munisipaliteit het wel nou belowe om werk te maak van die probleem, maar Langner meen die munisipaliteit behoort nie uitsluitlik die skuld te dra nie.

“Dit is maklik om die munisipaliteit te verwyt, maar die vraag is wat kan ons daadwerklik positief en opbouend doen? Dit is immers ons eie Afrikanervroue en -kinders wat daar begrawe is. Op die gedenkmuur is bykans elke Afrikanervan. Die handjievol mense uit die gemeenskap probeer al jare om geld bymekaar te maak om die kampkerkhof van bykans 2 ha te omhein en te beveilig,” sê Langner.

Langner sê daar is nog R700 000 uitstaande om die Kroonstad-konsentrasiekamp te beveilig. Lede van die publiek kan die FAK se Geskiedenisfonds met ʼn minimale bydrae van R70 per maand ondersteun en so help bydra tot die projek. Daar is ook ʼn artikel 18A-belastingvrystellingsertifikaat beskikbaar vir ondernemings wat groter skenkings doen.

Vrywilligers wat graag die FAK wil ondersteun, kan die woord KROONSTAD en hul naam na 45730 SMS (R1,50).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Maria ·

Dankie vir die nuus, dis tragies, En dankaar vir VF+ se aksie.

Spekkies ·

Sou dit so gelyk het as dit ander grafte was? Dan was daar lankal getoi-toi. Se maar net.

Charl ·

Waar is die swart mense dan begrawe wat in die konsentrasie kampe gesterf het. Ek dink daar was omtrent 18000 sterftes in hul kampe gewees en ek is seker daar was n swart konsentrasie kamp in kroonstad ook gewees of hoe?

Christina ·

Dit is tragies ja, maar voor ons geld skenk om dit te onderhou moet ons nie die wat nog lewe en nie genoeg het nie, help nie?

HOOP ·

Wonder of dit so gelos sou gewees het as dit by n Mandela of ANC plek was.

Misky ·

@Christina, Presies dieselfde gedagte by my opgekom. Soveel blanke mense wat in wit plakkerskampe moet bly en honger gaan slaap. Ek sou hulle eerder wou help en die lot ligter maak.

Maar dis steeds hartseer en tragies dat alles so verval en agteruitgaan.

daniel ·

Regstappe teen die skuldiges sal min help aangesien hulle blykbaar totale vrywaring teen vervolging het.

FM ·

Dis ‘n skande!!!!!! Die munisipaliteit is verantwoordelik vir die rioolstelsel en higiëne. So duidelik dat die korrupte spul nie hulle werk doen nie en die belastingbetaler se geld verdwyn net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.