Kruger-beeld word massiewe 3D-afdruk

Die Krugerbeeldegroep wat in brons gegiet en opgeveil gaan word (Foto: Janie Monsieur)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Donderdag sy planne bekendgestel om die Kruger-beeldegroep wat tans op Kerkplein in Pretoria staan, se toekoms te bewaar deur middel van massiewe 3D-skanderings en -afdrukke.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, en Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het albei by die bekendstelling van dié projek by die Voortrekkermonument in Pretoria gepraat.

Die skandering van die beeldegroep (Paul Kruger en die vier brandwagte) is sover bekend die eerste wat van 3D-skanderingstegnologie op hierdie skaal gebruik maak. Die massiewe standbeeld van Kruger is 4,04 m hoog en is in 1896 deur Anton van Wouw gemaak. Nadat die beeld op verskeie plekke gestaan het, is dit op 10 Oktober 1954 deur die destydse eerste minister DF Malan op Kerkplein onthul.

Die kunstenaar Jacques Müller (Foto: Janie Monsieur)

Die kunstenaar Jacques Müller wat die skandering bestuur, sê die 3D-beeld gaan net so groot wees soos die oorspronklike beeld. Hy sê dit is ʼn reuseprojek en dat dit sowat twee maande gaan neem om die beeld van Kruger te druk. Elk van die vier brandwagte se figure vat sowat een maand omdat hulle kleiner is.

Langner sê dié projek is ʼn manier vir Afrikaners om eienaarskap te neem van hul erfenis.

“Ons sê hiermee ons is trots op en lief vir ons geskiedenis, en ons het ʼn verantwoordelikheid teenoor ons geskiedenis,” sê hy.

Hoewel die Kruger-beeldegroep al dikwels onder vandalisme deurgeloop het, sal die 3D-afdrukke van die beelde ʼn 100% replika van die oorspronklikes wees.

Langner het ook bekendgemaak dat die FAK Saterdag met die 140ste herdenking van die Eerste Vryheidsoorlog ʼn Krugerfonds tot stand bring. Die Krugerfonds sal beoog om die kunswerke op Kerkplein te bewaar en ook om verdere Afrikaner-erfenis te bewaar.

“Ons gaan hierdie beeldegroep in brons giet en dit dan internasionaal opveil. So sal ons genoeg geld insamel om ander Afrikaner-erfenisse wat bedreig word, op dieselfde wyse te kan bewaar en koester.”

Dr. Danie Langner by die bekendstelling van die Kruger-projek by die Voortrekkermonument in Pretoria (Foto: Janie Monsieur)

Buys het gesê daar is sonder twyfel ʼn beweging om die Afrikaner se geskiedenis te kriminaliseer om ander mense beheer te gee oor die toekoms. Daarom is dit vir hom belangrik dat die Kruger-projek aangepak word om die geskiedenis te normaliseer.

“Ek is soms meer bekommerd oor ons verlede as ons toekoms – want ʼn mens het nie gedink dat selfs jou verlede nie meer veilig is nie. Jou verlede en geskiedenis kan ook gesteel word,” sê hy.

“Die Kruger-projek is maar een voorbeeld hoe ons deur moderne tegnologie ons geskiedenis kan herstel en terugvat. Terselfdertyd word dit toeganklik gemaak, sonder om die kulturele landskap van Kerkplein of plekke waar ander monumente is te beskadig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

HerculesJvV ·

As ‘n manier om fondse in te win, moet die FAK nou die 3D scanderings neem, en lessenaar groote (+/- 15cm hoog elk) van die 4 pragbeelde druk en dan verkoop. Ek dink dit sal veral baie afkeur kry!

Wakkerslaper ·

HerculesJvV, ek dink jy het bedoel “aftrek” kry. Maar nie te min, ek stem 100% saam met jou idee van lessenaar grootte beeldjies wat verkoop kan word – sommer van al ons Boere monumente! So kan ons ons geskiedenis in ons eie huise en werkplekke bewaar!

Frieda ·

Fantasties!! Ek stem dat kleiner beelde gemaak word om te verkoop en so geld in te samel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.