Kruger-gesin: Dankie vir die gebede…

Soek-en-reddingswerkers op die toneel waar Willem Kruger (29) se liggaam en voertuig gevind is. (Foto: JP von Benecke/Facebook)

Willem Kruger, die jong man wat op 13 November spoorloos verdwyn het en wie se liggaam Dinsdag in sy voertuigwrak in die Vaalrivier gevind is, se oorskot sal vir ʼn nadoodse ondersoek gestuur word, terwyl ʼn forensiese ontleding van die voertuig ook gedoen sal word.

Die 29-jarige Kruger se pa, Tian, het Woensdag namens die gesin diegene bedank wat deelgeneem het aan die reusesoektog na Willem, “asook elke persoon wat ons en Willem in hul gebede opgedra het”.

“Ons is oneindig dankbaar vir al die ondersteuning,” lui Tian se verklaring.

Die struktuur van die voertuig se bak is net-net bo die water sigbaar. (Foto: JP von Benecke/Facebook)

Willem se bakkie en oorskot is gevind sowat 100 m van die punt waar ʼn deskundige wat motorongelukke rekonstrueer, vermoed het die voertuig in die rivier beland het. Willem was by ʼn ramparty by Henbase Lodge, naby Morgenzon in Mpumalanga, toe hy in die vroeë oggendure spoorloos verdwyn het.

Aanvanklik is vermoed dat Willem die lodge verlaat het, maar daar is vasgestel dat hy dit nie gedoen het nie en die soektog is op die gebied in die onmiddellike omgewing van die lodge gefokus.

Só eindig soektog

Willem Kruger se voertuig word uit die Vaalrivier getrek. (Foto: JP von Benecke/Facebook)

Die polisie, ʼn span onder leiding van oudkol. Sakkie Louwrens – wat die ondersoek na Willem se verdwyning namens die Kruger-familie gelei het – en ʼn magdom vrywilligers het sedertdien onophoudelik na Willem gesoek.

JP von Benecke, verbonde aan die Gautengse nooddienste, sê in ʼn Facebook-inskrywing hulle het gister toerusting en vaardighede aan die soekspanne aangebied – ʼn aanbod wat verwelkom is – om ʼn meer deeglike soektog van die rivier te help doen.

ʼn Span van vyf lede het gister omstreeks 06:30 uit Pretoria na die toneel vertrek en het kort ná 09:00 met die soektog begin help. Hulle is die water in en het ʼn soeklyn oor die rivier gespan vir die gebied wat hulle wou dek.

Helpers op ʼn boot in die omgewing wat toegerus is met sonar het die reddingswerkers ingelig dat hulle ʼn vreemde skaduwee in die water opmerk en die reddingswerkers is dadelik daarheen.

Enkele oomblikke later het een van die spanlede, Dennis Visser, uit die water gekom en gesê hy dink hy staan op die voertuig se dak. “Ek het kort daarna by hom aangesluit en ons kon dadelik bevestig dat dit ʼn voertuig is en ook een is wat pas by die beskrywing van die vermiste voertuig,” sê Von Benecke.

Soek-en-reddingswerkers op die toneel waar Willem Kruger (29) se liggaam en voertuig gevind is. (Foto: JP von Benecke/Facebook)

ʼn Polisieduiker het gehelp om ʼn kabel tot op die oewer te lei en vas te kry en daar is stadigaan begin om die voertuig na ʼn plek te sleep waar die stroom nie die herwinningspoging belemmer het nie. Ander duikers het met dié proses gehelp.

“In hierdie posisie kon ons helaas die teenwoordigheid van ʼn liggaam in die kajuit bevestig en die ingewikkelde proses om die liggaam en die voertuig te herwin, is van stapel gestuur en suksesvol voltooi,” sê Von Benecke.

Soek-en-reddingswerkers op die toneel waar Willem Kruger (29) se liggaam en voertuig gevind is. (Foto: JP von Benecke/Facebook)

Die toneel is daarna aan die polisie oorgegee en dit het ʼn somber einde gebring aan ʼn soektog wat meer as ʼn week geduur en mense landwyd aangegryp het.

“Ek is seker daar is steeds meer vrae as antwoorde vir die familie en ons wil ons diepste medelye met al Willem se geliefdes betuig,” skryf Von Benecke.

Die toneel waar Willem Kruger (29) se liggaam en voertuig Dinsdag in die Vaalrivier gevind is. (Foto: JP von Benecke/Facebook)

“Dit was ʼn emosionele en fisiek uitmergelende dag.”

Hy het ook die dominee bedank wat saam met die soekspan gebid en ʼn oomblik van stilte saam met hulle gehou het.

“Dit was spesiaal vir my en die span. Baie dankie aan almal wat [Dinsdag] gehelp het. Die welwillendheid, liefde en ondersteuning wat aan ons betoon is, was ongelooflik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Gogga ·

Wat bly oor behalwe jammer. Daar is so baie mense wat gebid het vir die mooi jong man. Ek sit met trane in my hart en siel. Bitter jammer vir al sy hartsmense dat ‘n soektog nou so moes eindig. Ek kan net bid dat hulle berusting sal vind. :(

Janie ·

Een van die hartseerste stories wat my vir baie baie lank gaan bybly… Ek en duisende ander het so gewens dit kon anders uitdraai. Innige meegevoel aan Willem se familie en naasbestaandes. Ek glo in baie mense se lewens sal daar altyd meer vrae as antwoorde wees, maar ons kan berusting vind in die wete dat ons ‘eendag’ alles sal verstaan. Van my en duisende ander ook af… baie dankie vir almal se hulp hiermee.. of dit nou was met die soektog self, of net ‘n gebed… En steeds bid ek dat die familie berusting sal vind en Willem in vrede sal rus.

Christelle ·

Innige meegevoel aan die familie. Het so gehoop dit sou anders eindig. Mag Jesus julle troos en ek hoop julle vind die antwoorde sodat julle in vrede kan berus.

Swerwer ·

Daar is nie woorde nie, al wat oorbly is om die familie Innige simpatie en meegevoel te betuig.

Sonblom ·

My hart breek vir julle oom Tian. My innige simpatie. Baie sterkte.

Roebs ·

Die soektog is verby ons harte is seer, sterkte aan die familie en vriende.

Janneke ·

Wat ‘n hartseer einde. Mag die Liewe Vader julle vertroos in hierdie moeilike tyd!

Casper ·

Van die lesers sal die geval onthou van die jongman wat naby Bronkhorstspruit van ‘n hoë krans in die Wilgerivier gespring het en so aan die einde van sy lewenspad gekom het,dit was my suster se seun.Oom Tian glo my ek weet wat is hartseer en verlange.Moet nooit ophou om te verlang nie,julle kan selfs nog met hom praat as die verlange te groot word,hy sal luister:Ek het jou by jou naam genoem,jy is Myne GOD se woorde.

Sê maar net ·

So verskriklik jammer. Dis baie hartseer…so jonk. Baie sterkte aan sy hele familie. Mag Vader julle styf vashou en vertroos.

GeloofInGodNieMense ·

My moederhart is so seer. Kon my seun gewees het. Sterkte aan al d naasbestaandes en vriende. Ek is dankbaar vd dominee wat saam met d reddingspan gebid het. Moes vir hulle nét so traumaties gewees het. My hart gaan uit na d familie en almal betrokke. Rus sag jongman.

Anonymouse ·

Baie sterke aan Tian en Stephanie, asook al die ander familie en vriende. — van ‘n oud-Daller

Aai ·

Mense het ons polisie nie sonar’s kan dit nie glo werk sou na dag een klaar gewees het kom Beki hoekom het polisie nie die regte toerusting daai vraag moet gevra word?

Helpers op ʼn boot in die omgewing wat toegerus is met sonar het die reddingswerkers ingelig dat hulle ʼn vreemde skaduwee in die water opmerk en die reddingswerkers is dadelik daarheen.

Sterkte aan familie en vriende en dankie vir polisie se hulp.

Aai ·

More Delia so wanneer wil jy he moet die mense kennis neem van dit wanneer mense nie meer wil lees van gebeure?Ongelukkig moet dit nou onder die mense se aandag gebring word.

Delia ·

Hello Aai. Ek weet ons moet die goed weet. Dink maar net aan die ouers se pyn oor hulle kind en dat dit nie vir hulle sal maklik wees om dit te lees nie.

Nettie ·

Mens het nie regtig woorde nie. Dit kon enige een van ons se seuns of famielid wees. Dis hoekom dit ons almal so geraak het. Ek is so bitter jammer dit was nie beter nuus nie. Dankie aan elke persoon wat gehelp het met die soektog en die herwinning van die voertuig. Sterkte aan die familie en vriende, mag God julle met liefde omring en dra. Ek is dankbaar om te hoor daar was ook ‘n dominee beskikbaar vir die mense wat so diep geraak was deur die soektog en proses. Sterkte aan almal.

Yvonne ·

Dit is n ongelooflike hartseer gebeurtenis…..bid troos toe aan die jongman se familie lede

Sonneblomkind ·

Ek is dankbaar dat hulle hom gekry het. Ons hou die Familie in ons gebede

Erika ·

Die 1 ste Julie 2022 het my kind probeer haar swaer se kind in die mielieput voor die silos red en so ook haar lewe verloor. Ek het innige meegevoel met die familie. Dit is so so moeilik om n kind te verloor in so frats ongeluk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.