Kruger-kinderhuis vra hulp vir skoolbehoeftes

Foto ter illustrasie (Foto: Annie Spratt/Unsplash.)

Die President Kruger-kinderhuis in Villieria, Pretoria, het met die nuwe skooljaar wat wink ’n beroep op die gemeenskap gedoen om sy kinders te help met skenkings van skoolklere en -skoene, skryfbehoeftes en ander benodigdhede.

“Elke ouer weet wat die behoeftes en vereistes van ʼn nuwe skooljaar inhou. Ons funksioneer soos enige ander gesin, die enigste verskil is ons het 126 kinders om te versorg,” sê Marlene Spies, skakelbeampte van die kinderhuis.

Buiten die kinders se skoolbehoeftes benodig die kinderhuis ook kontantbydraes vir hul dag tot dag en maandelikse uitgawes soos munisipale water- en elektrisiteitsrekeninge, kruideniersware, terapeutiese dienste, vervoer, mediese uitgawes en instandhouding.

Spies sê die Covid-19-pandemie het uiteraard ook hulle inkomste sedert Maart verlede jaar beïnvloed, maar ondanks die uitdagings en aanpassings kon hulle tot dusver nog elke maand voortgaan met die versorging van hul kinders.

Die afsonderingstyd was boonop ’n gulde geleentheid om nuwe roetines te volg, vaardighede aan te leer en as ʼn span saam te werk.

“Die kinderhuisbestuur en personeel het vinnig besef dat kinders nodig het om ʼn vaste program te volg,” vertel Spies. “Dié program het onder andere Bybelstudie, etenstye, huiswerk, terapiesessies, speeltyd en skoonmaak ingesluit.”

Spies sê die President Kruger-kinderhuis se eerste prioriteit was deurgaans om almal gesond te hou en na kinders se emosionele welstand om te sien te midde van moeilike omstandighede (Foto: Verskaf)

Personeellede moes ook inspring en help om klasse aan te bied en omdat daar geen skoonmakers op die terrein toegelaat is nie, moes die personeel en kinders hande vat en self skoonmaak, asook die terrein in stand hou.

Spies sê hulle eerste prioriteit was deurgaans om almal gesond te hou en na kinders se emosionele welstand om te sien te midde van moeilike omstandighede.

“Deur al die huil, lag en frustrasies het daar baie positiewe dinge gebeur. Ons kinders het mooi saamgewerk en soos wat een van die groter seuns opgemerk het, het ons ‘nou eers ʼn gesin geword’,” vertel sy.

Januarie en Februarie is egter altyd moeiliker as ander maande weens die bykomende skooluitgawes.

“Ons vra die publiek om ons veral in hierdie tyd by te staan en te ondersteun. Raak betrokke by die President Kruger-kinderhuise,” pleit Spies.

Besoek die kinderhuis se Facebook-blad of webwerf om uit te vind hoe jy kan bydra. Persone wat graag ʼn bydrae wil maak, kan ook vir Marlene Spies per e-pos kontak by [email protected] of skakel haar by 012 332 1366/7.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.