Kubaanse ingenieurs: Departement wil hofaansoek teenstaan

Kubaanse gesondheidswerkers is ook in April 2020 na Suid-Afrika ontplooi om die land by te staan in die Covid-19-pandemie. (Foto: GCIS)

Die departement van water en sanitasie het aangedui dat hy van voornemens is om Solidariteit se hofaansoek teen te staan oor die invoer en ontplooiing van Kubaanse ingenieurs.

Solidariteit sal op 1 Junie in die hof wees om ʼn interdik teen minister Lindiwe Sisulu se planne vir die invoer en ontplooiing van Kubaanse ingenieurs te bekom. Solidariteit het ʼn dringende aansoek by die Pretoriase hooggeregshof ingedien om die plan te stuit.

Die departement het vroeër aangekondig dat hy Kubaanse kundiges – teen ʼn koste van sowat R65 miljoen – na Suid-Afrika bring om die land met sy waterkrisis te help.

“Die departement wil graag die rekord regstel dat hy op 10 Mei ʼn openlike en robuuste virtuele vergadering gehad het met Solidariteit waar die vakbond sekere vrae gevra het en dit is goed beantwoord deur die departement,” het Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, in ʼn verklaring gesê.

“Een van die sleutelkwessies wat aangeroer is, hou verband met die registrasievoorskrifte van die Wet op die Ingenieursweseprofessie (EPA). In hierdie geval kan die departement sê hy is bewus van die voorskrifte van die EPA en neem kennis dat die Ingenieursraad van Suid-Afrika (Ecsa) dit nog nie verpligtend gemaak het vir ingenieurs om by die raad te registreer nie,” het Ratau gesê. “Daar was dus nie enige rede om voldoening aan die Wet te verseker nie – wat betref die onplooiing van Kubaanse ingenieurs in Suid-Afrika.”

Ratau het gesê die departement is ook bewus daarvan dat Kuba nie tans ʼn lid is van die Internasionale Ingenieursalliansie (IEA) nie. “Die IEA is egter nie veronderstel om die akademiese kwalifikasies te diskrediteer van instellings in lande wat nie lede is van die IEA nie. Kubaanse ingenieurskwalifikasies is nie minderwaardig of irrelevant nie.”

Volgens hom het die departement met Ecsa vergader en is van raad bedien oor die prosesse wat gevolg moet word en die ondersteuning wat die organisasie aan die departement sal verleen wat betref die indien van aansoeke vir professionele registrasie deur die Kubaanse ingenieurs.

“Ecsa is inderwaarheid genooi om die departement te vergesel in sy reis na Havana om die huidige afvaardiging (nie die eerste nie) Kubaanse ingenieurs te werf. Die departement kan ook bevestig dat die kwalifikasies van die ingenieurs na Engels vertaal is en by Saqa ingedien is wat die kwalifikasies goedgekeur en gesertifiseer het as gelykstaande aan ingenieurskwalifikasies in Suid-Afrika,” het Ratau bygevoeg.

“Vervolgens is die ingenieurs se kwalifikasies ingedien vir goedkeuring voor hul aankoms in Suid-Afrika en hul aanstelling by die departement.”

Die departement benadruk dat die insette van die Kubaanse ingenieurs in die werk van die departement minimaal is en slegs ʼn breukdeel is van die tegniese ingenieurswerk wat die departement onderneem. “Hul teenwoordigheid is om ondersteuning te lewer en die tegniese ingenieurswerk van die departement te komplementeer. Die voorskrifte van die EPA en Ecsa verbied nie die gebruik van buitelandse ingenieurs deur entiteite en staatsdepartemente in Suid-Afrika nie.”

Ratau sê die departement bevestig dat hy binne die raamwerk van die wet sal werk om seker te maak dat kwessies wat in dié verband aangeroer word, aangespreek word en op ʼn gemoedelike wyse opgelos word. “Dit is ook belangrik om kennis te neem dat sulke uitruilskemas met ander lande nie uniek is wat betref betrekkinge tussen Suid-Afrika en Kuba nie. Dit vorm deel van die breë buitelandse beleid van die regering wat die land se aksies en aktiwiteit op die internasionale verhoog rig.”

Hy het gesê Suid-Afrika is ʼn lid van die internasionale gemeenskap en het betrekkinge met ʼn rits lande, insluitend internasionale regering-tot-regering ooreenkomste. “Sulke ooreenkomste sluit soortgelyke uitruilskemas in, nie net wat water betref nie, maar ook verskeie ander velde in die regering.”

Ratau sê as ʼn belanghebbende party het Solidariteit die reg om hulle te beroep op dit wat hulle goeddink, maar as ʼn departement is hy oortuig dat die kwessies voldoende aangespreek is.

Solidariteit vra ʼn interdik aan wat onder meer sal verhoed dat werk enigsins deur die Kubaanse ingenieurs aan Suid-Afrika se water- en sanitasie-infrastruktuur gedoen word. Die aansoek versoek ook dat geen betalings wat met hierdie ooreenkoms verband hou, gedoen word nie.

“Om ingenieurs in te voer as ons op eie bodem die kennis, bevoegdheid en akkreditasie van gewillige ingenieurs het, is verregaande,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, vroeër gesê. “Dié Kubaanse ingenieurs is nie in Suid-Afrika geakkrediteer nie. Ons belastinggeld kan veel eerder gebruik word om ons eie ingenieurs en werkers in diens te neem. Ons kan nie toekyk hoe die minister hulpbronne deur haar irrasionele besluite verkwis nie. Ons prioriteit is om die belange van Suid-Afrikaanse werkers te bevorder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Mariana ·

Daai vrou sal haar skuiwergat kry en ook haar sin. Ongeag hoe sy SA ingenieurs wat goed opgelei is verneder en geleentheid van inkomste misgun.

Moeggeploeg ·

Ons regering gaan een oggend wakker word en dan eis China en Kuba om land oor te neem. Kuba moet batterye saambring en dan los hulle sommer ons krag probleem ook op.

Tanniepetoors ·

Kyk, nou spin Sisulu en haar spannetjie darem tjol wat net idiote sal glo. As dit waar was, hoekom het dit so lank geneem om die inligting bekend te maak? Ons gee nie om of hul kwalifikasies kamtig gelykstaande is aan SA-kwalifikasies nie. Ons het werklose ingenieurs wat die werk kan doen en Engels, Afrikaans en menige ander inheemse tale kan praat om met hul kollegas te kan kommunikeer. Hul hoef nie nog maande Engels te leer nie en kon lankal met die werk begin het as Sisulu nie so onderduims was nie.

Ovelia ·

Hoekom sal n”minister” nou kan dink. Hul wil di Kubane invoer omte kom “werk”. Dis net weer n set up om bedrog te pleeg. On sit met soveel breinkrag in ons land en baie mense sonder werk. Hul is eintlik teroriste van Kuba af
Nee DINK bq my magtig

Objektief ·

Hierdie mense gaan nie tegniese werk doen nie? Hoekom het ons hulle nodig?

Kokerboom ·

Lekker domastrant en arrogant met belastingbetalersgeld!!!!

Tipper ·

Jy kan met hulle niks begin nie en jy sal met hom niks uitvoer nie.

Wonder ·

Lyk die Kubane gaan n lekker salaris trek,… ek sien dit in die kospryse…

Ansie ·

Die ANC gee net vir hulleself om. Na die duiwel met gewone SA’ners. As Ramaphose regtig ernstig is oor die herstel van die SA-ekonomie, sal hy sorg dat SA’ners voorkeur kry tov werksgeleenthede. Ons land is in ‘n finansiële krisis en Sisulu wil nou kom heul met Kuba. Ons wag nog op antwoorde tov die werk en bydraes wat die vorige lot gelewer het teen astronomiese koste. Hoe moedswillig en breinloos kan mens wees? Hoop Ramaphosa onthou haar verregaande magsmisbruik wanneer die ANC les opsê met die verkiesing.

Feite ·

Daar is net DRIE WOORDE vir hierdie “Vroumens”- ARROGANT, RASSIS en SKELM

Chris ·

R65 miljoen! Wow! Wat kan alles nie met daardie geld gedoen word nie. Duisende km van slaggate op paaie, swak munisipale dienste, noem maar op. Madam Minister weier om SA geleerelde ingeneurs te gebruik nie. Dit is mos rassisties. “Our people” sluit mos hele Rainbow nation in, of is die wittes nie deel daarvan nie? Vra maar net.

koos10 ·

Hoekom media toe as julle hof toe wil gaan? Maak seker dat alle regters weet wat aangaan en solank kan voorberei in julle guns?

Cheryl ·

Solidariteit, Afriforum en VF+ is te ordentlik. ANC weet van straatgevegte (geen reëls) terwyl ons in die bokskryt wil baklei. Die 2 is wêrelde van mekaar verwyder. Die ANC speel vuil en Suid Afrikaners is nie genoeg betrokke om ‘n verskil te maak nie. Ek praat van konstante volgehoue druk. Nie net ‘n bietjie hier en ‘n bietjie daar nie.

Hoekom ·

“Die departement benadruk dat die insette van die Kubaanse ingenieurs in die werk van die departement minimaal is en slegs ʼn breukdeel is van die tegniese ingenieurswerk wat die departement onderneem. “Hul teenwoordigheid is om ondersteuning te lewer en die tegniese ingenieurswerk van die departement te komplementeer. ”

Sjoe ‘n lui lekker werk van rerig niks doen nie maar haal ons R65 miljoen uit die sak!!

Bushy ·

Volgende verkiesing stem ons vir kubaanse parlementslede en n Chinese President. Kan net beter wees vir SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.