KwaSizabantu-sending: Dáárom is 30 weeskinders weggestuur  

‘n Lugfoto van die KwaSizabantu-sendingorganisasie in Kranskop. Foto: Skermskoot/YouTube-video

Die stelselmatige agteruitgang van die KwaSizabantu-sending (KSB) in KwaZulu-Natal , het veroorsaak dat meer as 30 weeskinders in 2019 summier van Schulzendal-sending weggestuur is.

Maroela Media het in 2019 berig 36 kinders van die KwaSizabantu Schulzendal-sendingstasie is in kennis gestel dat hulle die sending moet verlaat. Toe reeds het nie KSB óf sy sustersorganisasie, Dokters vir Lewe, aanspreeklikheid vir die kinders aanvaar nie. Dit nadat die voormalige leier van die sending, Jonathan Powys, in 2018 bande met KSB en die Schulzendal-sending verbreek nadat hy ongerymdhede ten opsigte van geldsake vermoed het. Dit hou verband met bewerings van geldwassery van miljoene rande by KSB wat tans deur die Valke ondersoek word.

Nagenoeg 18 van die 36 kinders is van die LifeChild-weeshuis in Schoemansdal, Mpumalanga, afkomstig nadat ʼn storm die weeshuis in 2016 beskadig het. LifeChild is ʼn projek wat deur Dokters vir Lewe (DFL) bestuur word. DFL is in 1991 deur dr. Albertus van Eeden, ʼn medewerker en prediker by KSB, gestig. Sy vrou, Karin, staan aan die hoof van die LifeChild-projek.

KwaSizabantu hou vol hulle het slegs tydelike verblyf aan die kinders verskaf nadat die LifeChild-weeshuis beskadig is.

Volgens Ruth Combrink,  ʼn woordvoerder van KSB, het lede van die Schulzendal-gemeenskap daarna nóg kinders na die sending gebring, omdat hulle toe onder die indruk was dat ʼn weeshuis daar op die been gebring is. “Behoorlike regsprosesse moet egter gevolg word voordat ʼn kind in ʼn alternatiewe plek van sorg geplaas kan word,” aldus Combrink. “Daarom is die kinders toe na hul naasbestaandes teruggestuur.”

Die kinders is ná drie jaar se tydelike verblyf by die Schulzendal-sending weggestuur.

“Die kinders is weggegooi, sonder enigiets.” Dit is die woorde van ’n voormalige DFL-werknemer wat in 2019 nog by DFL werksaam was en toe nie met die media wou praat nie. Die werknemer, wat verantwoordelik was vir fondswerwing, het intussen van DFL weggebreek en op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gepraat.

Volgens hom het DFL finansiële struikelblokke gehad. Hy glo een van die hoofredes is DFL se gebrek aan bestuur en die hantering van internasionale skenkings, wat weens gebrekkige kommunikasie mettertyd afgeneem het.

En hulp van KSB se kant was skraal.

(Argieffoto: Facebook)

In alle omstandighede het KSB-hoofsending eerste prioriteit geniet, dán sy susterorganisasies, vertel dié voormalige werknemer. Hy hou egter vol dat DFL nooit geld aan KSB gegee het nie en dat skenkings baie streng toegeken is aan die projekte waarvoor dit aanvanklik geskenk is. Die onvermoë om die weeshuis op Schoemansdal ná die storm in 2016 te herstel, was weens ’n tekort aan fondse. Daarom is hulle permanent na Schulzendal-sending gestuur, waarna hulle drie jaar later amptelik weggestuur is.

In kontras met DFL het KwaSizabantu se Schulzendal-sending finansiële voorspoed geniet.

Die sendingstasie het groot finansiële ondersteuning van Russiese kerke in die VSA ontvang. Soveel dat ʼn huis, ʼn kliniek, ʼn skool en kweekhuise vir boerdery by die sendingstasie opgerig is. Verskeie sendelinge van onder meer Europa en die VSA het gereeld die stasie besoek en sendingwerk in die gemeenskap verrig.

Vandag is daar skaars vyf mense woonagtig op die sendingstasie, terwyl die skool, kliniek en kweekhuise byna heeltemal vervalle is.

“Daar was inderwaarheid genoeg finansies wat ingekom het om die kinders te help,” sê Peet Botha wat ná 32 jaar die KwaSizabantu-sending in KwaZulu-Natal in 2019 verlaat het.

“Dis ʼn baie seer storie. As jy na Schulzendal toe gaan, sien jy miljoene rande se geboue wat tot niet gegaan het.”

Die verval van Schulzendal-sendingstasie

Ten spyte van finansiële voorspoed het sendelinge, medewerkers en besoekers stelselmatig die sendingstasie begin verlaat, wat uiteindelik tot die stasie se agteruitgaan gelei het.

Botha verduidelik egter dat persoonlike verskille die uiteindelike rede was waarom die sendingstasie byna tot niet gegaan het.

“Dit het oor persoonlike verskille tussen die leierskap en die medewerkers gegaan, en hieruit het verdeling ontstaan. Soveel dat die medewerkers gevra is om die sending te verlaat. Toe is die kinders net aan hulself oorgelaat. Die hoofsending het toe in ’n stadium gesê die kinders moet die sending verlaat”.

Persoonlike verskille

KwaSizabantu is aan die einde van 1966 deur Erlo Stegen, ʼn Suid-Afrikaner van Duitse afkoms, gestig nadat hy geglo het ʼn Christelike herlewing het onder die Zoeloes in Natal posgevat. Die sendingstasie beskou homself sedertdien as ʼn sogenaamde herlewingsbeweging en verrig al sy werksaamhede onder dié sogenaamde herlewing.

Powys het voorheen aan Maroela Media vertel KSB-hoofsending het alle befondsing na Schulzendal afgesny. Hiermee saam het hy voortdurend aanslae van KSB se topstruktuur ontvang oor die dogma van versoening en genade wat hy op die sending gepreek het, en die dra van denims.

Die verhouding tussen Powys en KSB het verder begin verweer toe hy na leiers in die topstruktuur uitgereik het om hulp.

Lydia Dube, wat by die bewerings oor geldwassery betrek word, het aan hom gesê “die enigste mense wat die waarheid weet is dié wat by die herlewing was, ons het iets beter as die Bybel, ons het die herlewing”.

Tobie Vermaak, KSB se hoof van sekuriteit en ʼn voormalige militêre intelligensiebeampte met wie Powys ʼn vertrouensband gehad het, het vir hom gesê dat hy [Vermaak] deur herlewing geleer het om te buig en nie vrae te vra nie.

Vermaak het ook Powys aangeraai om niks anders as KwaSizabantu “se leerstellings” te verkondig nie.

“Daar is vir my gesê óf ek hou op om versoening deur genade en geloof te verkondig, óf ek gaan,” vertel Powys.

Powys het in Mei 2018 die sending verlaat.

“Die oomblik wanneer jy teen jou belydenis van sonde as ʼn wet preek, en genade en vergifenis inbring, dan raak dit moeilik vir KSB, want dit raak hulle baie direk in wat hulle praktiseer,” meen Botha.

Kort ná Powys se vertrek het medewerkers, plaaslik en internasionaal, hulself aan die stasie begin onttrek.

Buitelandse fonds help sommige kinders oorleef

ʼn Fonds ondersteun nog sommige weeskinders van die sending deur maandeliks tot hul behuising en kos by te dra.

“Ons ondersteun van hierdie kinders wat weggestuur is en hou hulle aan die gang en aan die lewe in die Schulzendal-omgewing,” vertel Botha, die administrateur van die fonds in Suid-Afrika.

Die fonds het sy voortbestaan te danke aan ʼn Russiese egpaar in die VSA wat vir 22 maande op die Schulzendal-sending woonagtig was, en die huisouers vir die kinders was. Die man, Alex, wat slegs sy naam genoem wil hê, sê hulle kon met van die kinders kontak maak en gaan voort om hulle te help op enige manier wat hulle kan.

Hy wou egter nie verder uitbrei oor die omstandighede by die stasie nie, maar “hoop om eendag weer die kinders te sien”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

pieterweskaap ·

In Matt. 25 lees ons dat Jesus gesê het: ” Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een
van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen”

Jaco ·

Al hierdie stories oor ongerymdhede met geld laat my altyd wonder, WAT maak dié geldgierige Christene met die volgende 2 Bybeltekste:

Dis makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te kom
EN
Die liefde vir geld is die wortel van alle kwaad

Plak hulle dié verse toe, of verf hulle dit toe of kom hulle met daardie ou afgesaagde verskoning van “dis verkeerd vertaal”.

Antjiepat ·

Ag nee regtig? 3 Jaar TYDELIKE behuising? 3 Jaar en dan word die kinders terug gestuur na die gesinne waaruit hul verwyder is.. genade nee man.. kry jul nie skaam nie!! Jul het ryk geword uit finansiering wat vir die weeskinders moes aangewend word en nou skop jul die weeskinders uit en sit met gevoude hande en het nou vrek en vrede.. wel God slaap nie, let wel die ware Lewende, Almagtige God, wie se woord jul nou minder ag.

Elmarie ·

Powys is onder meer ook aangespreek oor die dra van denims. Huh? Wat het jou klere drag met geloof te doen. O tog…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.