Kyk: Derde grootste Geloftedagviering by Voortrekkermonument

Die son op die Senotaaf. (Foto: Verskaf)

Die derde grootste Geloftediens in die geskiedenis van die Voortrekkermonument is vanjaar herdenk toe bykans 32 000 mense die diens by die monument se amfiteater bygewoon het.

Met die inwyding van die monument in 1949 het 250 000 mense die verrigtinge bygewoon, terwyl die tweede grootste samekoms met die 150-jaar-herdenking van die Groot Trek in 1988 gevier is.

Ds. Cassie Aucamp, voormalige voorsitter van die Voortrekkermonument se direksie, het vanjaar se erediens gelei.

Aucamp het tydens die diens Afrikaners herinner om die gelofte tot eer van God te herdenk, soos wat ons voorouers dit ook die eerste keer in 1838 afgelê het.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, het ook elkeen teenwoordig herinner waarom die gelofte gevier word.

“Afrikaners is steeds hier omdat ons deur hierdie dag getuig dat in tye van nood, in tye van lewensgevaar en bedreiging, kom ons saam om ons voor die Here te verootmoedig,” het hy gesê.

“Ons weet dat dit die Here alleen is wat ons kan red.”

Afrikaners lê die Gelofte af. (Foto: Verskaf)

Wêreldwyd herdenk

Nagenoeg 185 000 mense oor die land en wêreld het 185 jaar nadat die gelofte vir die eerste keer afgelê is, aangedui dat hulle vanjaar se Geloftedag herdenk.

Volgens Langner is die gelofte op altesame 279 plekke oor Suid-Afrika heen gevier, en in 24 lande wat op ses van die sewe kontinente is.

“Die gelofte word deur Afrikaners in Australië herdenk, asook Botswana, China, Duitsland, Engeland, Japan, Kanada, Luxemburg, Mosambiek, Namibië, Nederland, Nieu-Seeland, Nigerië, Paraguay, Mexiko, Pole, Portugal, Rusland, Skotland, Swede, die Verenigde Arabiese Emirate en die VSA.”

Renier Goosen het verlede jaar se Geloftedagviering by die Voortrekkermonument bygewoon en het besluit om weer vanjaar die erediens hier by te woon.

“Ons sou nie vandag hier gewees het as ons voorouers nie die gelofte afgelê het nie,” het hy gesê.

Danielda van Eeden het ook verlede jaar se verrigtinge bygewoon en beplan om volgende jaar dieselfde te doen.

“Ek voel dit is my plig om die gelofte te vier,” het sy gesê.

“Ek het die voorreg gehad om van kleins af te kon leer van ons eie Afrikanergeskiedenis en ek is vol vreugde om dit hier te kan doen. Vandag lê ek nie net die gelofte af nie, maar ek leer weer van die geskiedenis. Daarom herdenk ek die gelofte by die Voortrekkermonument.”

Selfs jong kinders het aan die viering deelgeneem en van die gelofte geleer.

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.