Video: Huis in puin, maar akteur glo ‘Here gaan nuwe ding doen’

Jacques Gombault se huis het byna ‘n week gelede afgebrand. (Foto: Verskaf)

Vlamme het aan die mure van hul huis op ʼn kleinhoewe in Doornpoort in die noorde van Pretoria gelek. Maar uiteindelik moes die gewilde Afrikaanse akteur Jacques Gombault magteloos toekyk hoe die huis wat hy met sy eie hande help bou het, tot op die grond afbrand.

Toe die huis verlede week in ligte laaie staan, het Gombault aanvanklik moedig probeer om te red wat daar te redde is. Vier keer het Gombault in die brandende huis ingehardloop met die hoop om onder meer van die toerusting te red waarin sy lewenswerk vervat is.

Totdat ʼn wildvreemdeling hom tot besinning geruk het.

(Foto: Verskaf)

“Toe ek weer buite kom en dink wat ek volgende uit die huis moet red, het daar skielik ʼn wildvreemde man opgedaag. Ek het hom van geen kant af geken nie,” sê hy.

“Die man het gevra waar die gasbottels in die huis is en op daardie oomblik het ek dit nie verder oorweeg om weer in die huis te gaan nie.”

Gombault sê hy kon maklik weer sy arm by ʼn skuifdeur insteek om nog iets te red wat oor die jare heen versamel is: dalk ʼn kamera, ʼn foto-album of miskien die geelhouttafel wat hy self gemaak het.

Maar hy en sy vrou, Renate, en hul dogter Vanya moes weens vrees vir hul veiligheid later net toekyk hoe ʼn leeftyd se herinneringe in vlamme opgaan.

“ʼn Brandweerman het later vir my gesê hoe gelukkig ek was om met my lewe te ontsnap, aangesien ʼn mens se longe nie die erge hitte en natuurlik rook kan hanteer nie,” sê hy.

“Daardie vreemde man se woorde, “waar is die gasbottels”, het my lewe gespaar.”

Van die grond af opgebou, nou in puin

jacques-g-2.jpg

Jacques Gombault. (Foto: Verskaf)

Gombault is ʼn akteur en rolprentvervaardiger wat waarskynlik die bekendste is vir sy rol as die skurk Robert Gouws in kykNET se Song vir Katryn, of as Jonas in Binnelanders.

In 1996 het hy ʼn rol in die internasionale rolprent Operation Delta Force losgeslaan en die geld daarvoor gebruik om ʼn huis vir sy vrou te bou.

Dit was sý handewerk: van die fondamente tot die loodgieterswerk. En dit is hierdie einste huis wat Donderdagmiddag afgebrand het.

Gombault sê hy het sy dogter om 17:30 gaan oplaai en op pad huis toe by ʼn vulstasie stilgehou. Hier het hy ʼn oproep van Renate gekry dat hul kragopwekker aan die brand geraak en die Wendy-huis reeds in vlamme gestaan het.

Hy vertel dat hulle voor die brand twee dae lank weens ʼn elektrisiteitsprobleem in die omgewing sonder krag gesit het. Omdat die egpaar albei van die huis af werk, is hulle genoop om die kragopwekker in hierdie tyd te gebruik.

Die kragopwekker word egter jaarliks gediens en goed onderhou, sê Gombault. Dit is steeds onduidelik hoe die kragopwekker aan die brand geraak het.

“Ons was nie ver van die huis af nie, maar die verkeer was so erg dat ʼn twee minute lange rit soos ʼn ewigheid gevoel het,” sê Gombault.

Teen die tyd dat hy by die huis aangekom het, het die brand reeds na die hoofhuis versprei en die grasdak was aan die brand.

Omdat daar nie kragtoevoer na die huis was nie, kon hy ook nie die boorgat se pomp aanskakel om die vlamme te probeer blus nie en dit het verder versprei.

Die brand het aanvanklik in die Wendy-huis ontstaan. (Foto: Verskaf)

“Woorde kan nie beskryf wat deur jou kop gaan as so iets gebeur nie. Die skok wat deur jou lyf gaan met die besef dat jy al jou aardse besittings verloor het,” sê hy.

“Ek het na die vlamme gekyk en gewonder wat ʼn mens moet doen wanneer jou hele getuienis wegbrand. Maar ek weet nou hoekom alles moes wegbrand: want die Here gaan kom en ʼn nuwe ding hier doen.

“So vir enigiemand wat vra, sal ek nou sê dit is nie so erg as alles afbrand nie.

“Wat help dit jy huil oor iets wat nie kan terughuil nie.”

Hoewel die Gombault-gesin se huis en hul kosbare items waaraan soveel waardevolle herinneringe gekoppel is nou tot niet is, het die gesin – en ook hul twee hondekinders – ongedeerd daarvan afgekom. Gombault het slegs ʼn geringe brandwond aan een van sy arms opgedoen.

(Foto: Verskaf)

Omgee in oorvloed

Jacques Gombault saam met sy dogter Vanya en vrou Renate. (Foto: Verskaf)

Die Gombaults is te midde van die tragedie oorval met ondersteuning en hulp van vriende, familie, bure en selfs vreemdelinge.

Die gesin woon tans by hul bure totdat die gemeubileerde huurhuis wat ʼn familielid vir hulle gereël het, gereed is.

Die gemeenskap het hul harte oopgemaak en die gesin van klere, kos en selfs ʼn bed vir hul tydelike huis verskaf. Vreemdelinge het ook na Gombault uitgereik en duisende rand geskenk sodat hulle hul lewe weer kan begin herbou.

“Só ʼn tragedie bring die mooi in mense uit. Ek dink hulle besef hoe dit sou wees as dieselfde met hulle gebeur het. Ons is so dankbaar vir almal se goedhartigheid.”

Gombault sê die huis was verseker en assessors het reeds met ʼn ondersoek begin. Hulle wag nog vir amptelike bevestiging, maar in hierdie stadium lyk dit asof die versekering die huur vir hul tussentydse huis gaan dek totdat hul huis herbou kan word.

“Dit is verblydend om te weet die Here het ons nie verlaat nie,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

MAGRIETHA ·

Sterkte my huis het so paar jaar terug afgebrand en ons het alles verloor ,dis moelik om te verwerk maar is dankbaar deur dit wat God vir ons gebring het na die brand , so glo en jul sal geholpe raak

Nettie ·

Dis vir my altyd so mooi wanneer ek lees dat ons mense nog steeds God se Hand raaksien en erken selfs tydens tragedie. Ek is baie jammer vir die gesin se skade, maar baie bly vir die Engel wat gestuur was om hom tot nadenke te stem.

Ek raak al hoe banger vir hierdie kragopwekkers. Mens lees nou te gereeld stories daarvan wat sleg uitgedraai het.

Hennie ·

Kragopwekker het aan die brand geslaan? Hopelik n waarskuwing aan dié wat klein opwekkers gebruik, wat nie gemaak is om lang tye krag te verskaf nie

Ronel ·

Met so ‘n onwrikbare geloof, kan dinge net vir hulle in die toekoms uitwerk! Die Here sal hulle verseker nie in die steek laat nie!!!! Hou net aan glo.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.