Kyk uit vir dié hofsake in 2024

Werner de Jager

Werner de Jager. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media).

Van ʼn ma wat haar kinders vermoor het tot ʼn eggenoot wat twee jaar later vir ʼn geliefde dominee se moord aangekla word. Verskeie opspraakwekkende sake het die afgelope jaar in die hof gedraai. Hier is van die sake waarvoor jy in 2024 moet uitkyk.

Lauren Dickason word gevonnis

Die Suid-Afrikaner Lauren Dickason is in Augustus vanjaar skuldig bevind aan die moord op haar drie dogters, nadat hulle in September 2021 in Nieu-Seeland dood gevind is. Sy sou aanvanklik in Desember vanjaar gevonnis word, maar die verhoor is voorlopig tot 2 Februarie uitgestel. Die minimum vonnis vir moord in Nieu-Seeland is lewenslange tronkstraf. Regter Cameron Mander sal tydens Dickason se vonnisoplegging ʼn tydperk vasstel waartydens sy nie vir parool in aanmerking mag kom nie. Mander sal ook dán moet besluit waar Dickason haar vonnis sal begin uitdien: in ʼn gevangenis of in ʼn forensiese psigiatriese fasiliteit.

Borgtogaansoek vir ds Liezel se man

Ds. Liezel de Jager (Foto: Verskaf)

Twee jaar ná die moord op ds Liezel de Jager van Amanzimtoti is ʼn verdagte eindelik in hegtenis geneem en aangekla van die moord. De Jager se man, Werner, het in Desember vir die eerste keer in die hof verskyn om aansoek te doen om borgtog. Die ondersoekspan het egter aangedui nuwe inligting het aan die lig gekom wat nog ondersoek moet word. De Jager se woonadres moet ook bevestig word.

Nhlanhla Mkhize, staatsaanklaer, het ook aangedui daar is vrae rakende De Jager se geestelike welstand en dat daar moontlik ʼn aansoek ingedien sal word om hom vir sielkundige waarneming te stuur. Die saak is gevolglik tot 9 Januarie uitgestel, waartydens ʼn aansoek om sielkundige waarneming waarskynlik ingedien sal word. Die saak sal dus verskeie kere in 2024 nog in die Amanzimtoti-landdroshof aangehoor word, voordat dit na die hooggeregshof in Durban oorgeplaas word.

Papapavlou-moordverhoor begin

Raymond Papapavlou (Foto: Facebook)

Die Limpopo-plaasvoorman Raymond Papapavlou (28) se vrou, Simone, en haar destydse beweerde minnares, Patricia Lee Smith, word aangekla van sy moord. Die amptelike moordverhoor moes al in Julie vanjaar begin het, maar is uitgestel vir verdere ondersoek. Die verhoor is nou vir tussen 10 en 21 Junie op die hofrol geplaas. Papapavlou se liggaam is op 5 Oktober 2020 met verskeie skietwonde in die plaashuis ontdek. Dit sal dus amper vier jaar ná sy dood wees wat die hofsaak eindelik begin. Vyf mense is sedertdien aangekla van Papapavlou se moord.

Verhoor oor Vaalharts-moorde gaan voort

(Argieffoto: Verskaf)

Die vier beskuldigdes wat teregstaan vir die grumoorde op drie lede van die Brand-gesin van Vaalharts in die Noord-Kaap, se verhoor sal in April volgende jaar voortgesit word. Die staat het in Mei vanjaar sy saak gesluit. Die saak is in November hervat, waartydens verskeie getuies vir die verdediging geroep is. Die saak is toe op 25 November tot 24 en 25 April uitgestel. Die verdediging sal waarskynlik dan sy saak sluit en die regter kort daarna ʼn uitspraak lewer.

‘Kill the Boer’-uitspraak verwag

AfriForum se dekade lange veldtog teen die “Kill the Boer”-lied gaan volgende jaar voort. Die burgerregteorganisasie het ʼn aansoek by die appèlhof in Bloemfontein ingedien, teen ʼn beslissing van die gelykheidshof dat dié lied nie op haatspraak neerkom nie. Die saak is op 4 September aangehoor en uitspraak voorbehou. AfriForum het intussen ʼn aansoek by die hof ingedien dat appèlregter Raylene Keightley, een van die regters wat oor die saak moet beslis, van die paneel verwyder word weens haar “duidelike vooroordeel”. Dié aansoek moet nog aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.