Kyk uit vir dié nuusstories in 2023

André de Ruyter (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Daar was geen tekort aan nuusgebeure in 2022 nie – van die president se versteekte miljoene in sy rusbank tot die baas van Eskom se onlangse bedanking.

Die volgende stories sal na verwagting die hoofopskrifte in 2023 haal:

Beurtkrag

Andre de Ruyter, Eskom en beurtkrag sal ongetwyfeld op Suid-Afrikaners se lippe bly in 2023.

De Ruyter se laaste dag as Eskom-hoof sal 31 Maart 2023 wees, wanneer hy die leisels aan sy opvolger sal oorgee. Dit is nog nie duidelik wie sy opvolger gaan wees nie.

Daar kan intussen verwag word dat beurtkrag volgende jaar sal voortduur.

Opknappingswerk aan eenheid een van die Koeberg-kernkragsentrale in die Wes-Kaap sal na verwagting vir die eerste ses maande van 2023 duur.

Oscar Pistorius: Is dit sy laaste Kersfees in die tronk?

Oscar Pistorius. (Argieffoto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool)

Daar is steeds geen duidelikheid oor presies wanneer Oscar Pistorius op parool vrygelaat sal word nie, maar alles dui daarop dat die voorafgaande proses rakende sy vrylating vroeg volgende jaar op dreef sal kom.

Dít nadat die aansoek wat vroeër by die Pretoriase hooggeregshof deur sy regspan ingedien is om verwarring oor sy parool op te klaar, onlangs ingevolge ʼn ooreenkoms met die departement van korrektiewe dienste van die rol verwyder is.

Daar is aanvanklik gesê dat Pistorius eers in 2023 vir parool in aanmerking sou kom. Daar was egter oënskynlik ʼn berekeningsfout aan die kant van die departement nadat die aanvanklike 500 dae wat hy agter tralies deurgebring het, nie in berekening gebring is nie.

Pistorius se regsverteenwoordiger, Julian Knight, het in Oktober vanjaar aan Maroela Media gesê Pistorius se regspan is in die proses om met die departement se prokureurs te skik.

Die jaar 2023 is presies tien jaar sedert Pistorius sy meisie, Reeva Steenkamp, in die vroeë oggendure in sy huis in Pretoria doodgeskiet het.

Ramaphosa se toekoms in die weegskaal

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Siyabulela Duda)

Pres. Cyril Ramaphosa gaan 2023 in ʼn veilige posisie binne, nadat hy tydens die ANC se 55ste nasionale verkiesingskonferensie (NVK) tot die president van die ANC herverkies is.

Die meerderheid van die party se LP’s  het ook onlangs “nee” gestem om Ramaphosa in ʼn staat van beskuldiging te plaas.

Die Phala Phala-skandaal gaan egter nie volgende jaar al vergete wees nie en kan hom duur te staan kom in aanloop tot die algemene verkiesing in 2024.

Bela-wetswysiging

Argieffoto bloot ter illustrasie van ‘n skool. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die wysigingswetsontwerp op basiese onderwys (bekend as die Bela-wetsontwerp) het in 2022 vir groot omstredenheid gesorg. Die wetsontwerp sal waarskynlik nié in 2023 deurgevoer óf verwerp word nie, maar wel ʼn groot onderwerp van bespreking bly.

Die proses van openbare deelname duur in die nuwe jaar voort met openbare verhore geskeduleer tot April 2023.

Die wetsontwerp is onder meer daarop gemik om skole se toelating- en taalbesluit in die hande van die staat te plaas. Kritici van die wetsontwerp het vanjaar daarop gewys dat die wetsontwerp nie op die bevordering van gehalte-onderrig fokus nie, maar eerder op die vernietiging van Afrikaans as onderrigtaal en groter magsentralisering vir die staat.

Tronk toe met Zuma?

Oudpres. Jacob Zuma (Foto: Jerome Delay/Pool/AFP)

Die sage oor oudpres. Jacob Zuma se mediese parool sal waarskynlik tot diep in die nuwe jaar voortduur.

Die departement van korrektiewe dienste (DKD) wil egter appelleer teen die appèlhof in Bloemfontein se beslissing in November vanjaar. Die hof het bevind dat Zuma moet terug tronk toe vir ʼn tydperk soos bepaal deur die departement.

Die hof het beslis dat Zuma se vrylating op mediese parool onregmatig en ongrondwetlik was. Die DKD is egter van mening dat ʼn ander hof tot ʼn ander beslissing kan kom.

Dr. Llewellyn Curlewis, ʼn regskenner verbonde aan die Universiteit van Pretoria, voorspel dat Zuma se verlofaansoek nie gaan slaag nie en dit sal beteken hy moet die hoofregter, Raymond Zondo, nader om toestemming te vra vir sy aansoek om in die land se hoogste hof aangehoor te word.

“Die proses kan maklik nog ʼn jaar duur en baie water moet nog in die see loop,” het Curlewis in November aan Maroela Media gesê.

Die korrupsiesaak teen Zuma en die Franse wapenvervaardiger Thales sal intussen aan die begin van 2023 weer aangehoor word. Die saak sloer nou al 20 jaar.

Pampoenkraal-moordsaak

Van agter links: Daniel Cornelis Malan, Cornelius Lourens Greyling, Zenzele Mzikayise Patric Yende, Othard Johann Klingenberg en Ignatius Michael Steynberg in die hof. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die sewe mans wat daarvan aangekla word dat hulle die broers Mgcini Amos Coka en Zenzele Coka in 2021 op die plaas Pampoenkraal in die omgewing van Piet Retief in Mpumalanga doodgeskiet het, se verhoor sal na verwagting vroeg 2023 afskop.

Daniel Cornelis Malan, Cornelius Lourens Greyling, Othard Johann Klingenberg, Ignatius Michael Steynberg, Zenzele Mzikayise Patric Yende, Andre Pienaar en Werner Potgieter sal na verwagting in Januarie vanjaar in die hooggeregshof in Breyten verskyn.

Die Coka-broers is op 9 April 2021 op Pampoenkraal doodgeskiet nadat ʼn groep betogers dié betrokke dag plaaswerkers geïntimideer en aangerand het, na bewering om te verhoed dat hulle hul werk doen.

Die betogers het glo aggressief voorgekom en het boere wat op die toneel gereageer het met onder meer stokke aangeval.

E-tol

e-tol

Argieffoto

Die Gautengse provinsiale regering het bevestig dat ʼn aantekening Saterdag gemaak is om e-tol finaal te deaktiveer. Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, sê weens die behoefte om sleutel-komponente van die memorandum van verstandhouding tussen die nasionale regering en die provinsiale regering te finaliseer, sal die saak in die nuwe jaar finaal afgehandel word. Hy wil graag Gautengse inwoners gerus stel dat daar nou nie meer enige omkeer is om van e-tol ontslae te raak nie.

Die Gautengse regering het in November bekend gemaak dat hy R12,9 miljard gaan bydra om die e-tol-skuld te vereffen.

Raymond Papapavlou-moordsaak

Patricia Ray Lee Smith en Simone Papapavlou. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Simone Papapavlou en Patricia Ray Lee Smith sal na verwagting in 2023 uiteindelik verhoor word vir die moord op Simone se man, Raymond.

Die verhoor was vir 2022 – meer as twee jaar ná die moord – geskeduleer, maar is eindelik na volgende jaar uitgestel.

Adv. André van der Kooi het aangedui dat die staat nog nie gereed is om sy saak te stel nie aangesien daar moontlik nog inhegtenisnemings kan plaasvind. Die verhoor sal nou na verwagting einde Julie tot middel Augustus volgende jaar plaasvind.

Simone en Patricia word daarvan beskuldig dat hulle saamgesweer het om Papapavlou te vermoor en dit soos ʼn moontlike plaasaanval te laat lyk. Hulle was glo ten tyde van die moord in ʼn romantiese verhouding betrokke.

Daniel Botha – moordsaak

Daniël Botha. (Foto: Verskaf)

Uitspraak in die moordsaak van Daniël (Danie) Botha sal uiteindelik vroeg in 2023 gelewer word.

Dit sal dan byna vyf jaar wees sedert Botha in Julie 2018 by Dingo’s Pub in Benoni aan die Oos-Rand aangerand is en hy later in die hospitaal breindood verklaar is.

Gideon Fourie, Jacques de Lange en Sampie Hearn staan tereg op die moord op Botha. Die drie jong mans was die betrokke aand by Dingo’s toe daar ʼn bakleiery op die dansbaan uitgebreek het. ʼn Erg beseerde Botha is die aand na buite gedra voordat Fourie hom na ʼn hospitaal geneem het.

Die saak is sedert 2018 al hoeveel keer uitgestel.

Regter Ian Cox beplan egter om op 23 Februarie 2023 uiteindelik uitspraak te lewer.

Sasolburg-moordsaak

Annie Liebenberg en haar lewensmaat Michael Zantow (Foto: Verskaf)

Uitspraak sal na verwagting volgende jaar in die moordsaak van Annie Liebenberg en haar lewensmaat Michael Zantow gelewer word.

Liebenberg en Zantow is op 20 Augustus 2021 by twee verskillende huise in Sasolburg in die Vrystaat vermoor.

Stanley Lingena (38) en Sithembiso Hlongwane (28) staan tereg op die moorde. Lingena het voor die moorde by die paartjie as tuinier gewerk.

Die saak kom weer in Maart voor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.