(Laaste) kosbare slangteengif vir jong pasiënt

‘n Slang het die tweejarige Naomie Hattingh op haar regterhand gepik. Nadat haar simptome vererger het, moes sy dringend behandel word. (Foto: Verskaf)

ʼn Slanggifprodusent in die Laeveld het sy laaste tien flessies slangteengif aan die Mediclinic Nelspruit gegee om die lewe van ʼn tweejarige dogtertjie te help red wat kort tevore deur ʼn slang gepik is.

Chris Hobkirk van Lowveld Venom Suppliers (LVS) sê die hospitaal het hom Donderdag genader, dringend op soek na teengif omdat hulle self geen voorraad beskikbaar gehad het nie. Klein Naomie Hattingh, wat in Junie drie jaar oud word, het reeds erge neurotoksiese simptome getoon.

Hobkirk sê dis normaalweg ʼn aanduiding dat sy vermoedelik deur óf ʼn kobra óf ʼn mamba gebyt is.

“As iemand my bel en sê daar is ʼn pasiënt wat besig is om dood te gaan, gaan ek uiteraard my voorraad vir hulle gee,” sê Hobkirk oor die kosbare flessies.

LVS melk daagliks slange wie se gif dan deur die nasionale gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS) in die vervaardiging van slangteengif gebruik word. Weens die gevaar verbonde aan die melk van die slange, moet Hobkirk egter self ʼn voorraad teengif aanhou.

Hy het gewoonlik tien ampules polivalente teengif wat vir die meeste giftige slangbyte gebruik word, asook ʼn ampule monovalente teengif wat net gebruik word vir die byt van ʼn boomslang.

“Ek kan nie nie teengif hê nie; as daar iets by die laboratorium gebeur, kan dit tragies eindig,” sê hy.

“Maar ek was die enigste fasiliteitverskaffer met teengif in die hele Laeveld.”

Skrikwekkende ondervinding

Klein Naomie se ma, Marica Ekkert, sê die skool het Donderdagmiddag laat weet dat iets die kleuter gebyt het. Naomie het vir ʼn juffrou beduie dat haar regterhandjie seer is, en aanvanklik was die vermoede dalk ʼn bysteek.

Die gesin se huisdokter het ná ʼn ondersoek antibiotika voorgeskryf.

Naomie se simptome het egter vinnig vererger, sê Ekkert. Haar hartklop het al hoe meer versnel, Naomie het erg begin braak, geweldige pyn beleef en asemhalingsprobleme ondervind.

Daar is dus besluit om haar dringend met ʼn ambulans van Barberton, waar die gesin woon, na Mbombela vir spesialisbehandeling te neem.

Ekkert sê hier kon sy ongelukkig geen beskrywing van die slang aan dokters gee nie. Ná ʼn soektog by die skool – die slang het glo vinnig die hasepad gekies – kon hulle vasstel dat dit ʼn kleinerige slang, vermoedelik met ʼn silwergryskleurige maag, is.

Naomie is noodgedwonge op ventilasie geplaas en danksy Hobkirk se voorraad kon sy vinnig met slangteengif behandel word.

Die dogtertjie is intussen uit die intensiewesorgeenheid na die pediatriese saal oorgeplaas, waar sy steeds gemonitor word.

Die ventilasiepype is ook reeds verwyder en Naomie is op en wakker, sê haar ma. Haar hand is egter nog baie geswel.

“ʼn Mens besef nie hoe ernstig ʼn slangbyt is tot dit jou tref nie. Dit is ʼn lelike ding. Ek het al gehoor dat kinders weens slangbyte sterf. Jy het geen begrip vir daardie skok tot dit met jou gebeur nie,” sê Ekkert.

Sy het net lof vir die medici wat Naomie behandel het en LVS wat alles moontlik gedoen het om te help.

Tekort ‘katastrofies’   

Groot kommer heers steeds oor ‘n tekort aan slangteengif. (Foto: Lowveld Venom Supplies)

Hobkirk het intussen noodgedwonge produksie by die laboratorium opgeskort tot die flessies slangteengif vervang kan word en LVS weer slange kan begin melk.

Daar word die afgelope paar maande al gewaarsku oor ʼn dreigende ramp weens ʼn tekort aan slangteengif, hoewel die NHLS volhou daar is geen rede tot paniek nie. Altesame 27 kenners in die behandeling van slangbyte het die afgelope week egter ʼn ope brief aan dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, gestuur waarin hulle pleit vir ingryping.

Hobkirk sê dit is loutere onsin dat daar nie ʼn tekort aan slangteengif is nie.

“Daar is ʼn groot probleem, ʼn katastrofiese probleem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.