Lara se geliefdes swel van trots

Suid-Afrika se Lara van Niekerk word deur Kaylene Corbett en Tatjana Schoenmaker geluk gewens ná haar skitterende prestasie by die Statebondspele in Birmingham. Foto: Oli Scarff/AFP.

Die 19-jarige swemkampioen Lara van Niekerk se gesin was in ekstase toe sy Saterdag vir die derde agtereenvolgende keer die Statebondrekord in die 50 m-borsslagitem verbeter en ʼn welverdiende goue medalje vir Suid-Afrika ingeoes het.

Die Van Niekerk-gesin het Saterdag se swemresies by hul huis in Woodhill in Pretoria dopgehou en behoorlik van trots geswel toe Lara met ʼn tyd van 29.73 sekondes eerste geëindig en boonop die rekord laat spat het.

“Ons is baie trots op haar. Dis moeilik om te beskryf hoe ons gevoel het toe ons Saterdag kyk hoe sy swem. ʼn Mens is absoluut in ekstase. By tye kan jy dit amper nie glo nie – jy sit ek kyk en dan dink jy, ‘is dit regtig my kind?’,” het haar ma, Hanalie, Dinsdag aan Maroela Media gesê.

“Dis ongelooflik om dit te sien. Ons weet egter sy het hard gewerk en werk nog steeds hard. Die boodskappe en ondersteuning wat ons van oral heen ontvang is ook ʼn wonderlike gevoel. Dit maak my opnuut trots om ʼn Suid-Afrikaner te wees. Almal staan saam en is saam met ons trots en bly.”

Die gesin is egter nie verbaas dat Lara so goed presteer nie.

Lara van Niekerk by haar ouers, Hanalie en Patrick, op haar 19de verjaardag. (Foto: Verskaf)

“Sy werk baie hard en is baie toegewyd aan haar sport. Haar swemtye was ook oor die laaste ruk baie konstant.”

Hoewel Hanalie en haar man, Patrick, Saterdag na dié resies op die kassie gekyk het, was hul langs die swembad toe hul dogter in Junie die brons medalje in die 50 m-borsslag tydens die Wêreldbyeenkoms in Boedapest, Hongarye, verower het.

Lara is tans saam met haar span en afrigter, Eugene da Ponte, in Birmingham in die VK waar die Statebondspele nog tot volgende week duur.

Lara, ʼn groot “familiemens”, gesels egter elke dag met haar gesin. Sy is die jongste van drie kinders en het ’n ouer broer, Zander (21), en ʼn sussie, Joa (23).

“Lara is altyd vol grappies. Sy probeer soveel as moontlik rus, so wanneer sy ontspan kry ons gereeld snaakse TikTok-video’s van diere. Sy is baie lief vir diere en haar eie honde. Ons het ook ʼn familiegroep waarop ons almal gereeld gesels.”

Lara van Niekerk by haar ouers, Patrick en Hanalie (links), en sibbe, Joa (middel) en Zander (regs). (Foto: Verskaf)

Hanalie sê Lara het van kleins af ʼn liefde vir swem en dat haar “hare basies altyd nat is”. Selfs wanneer die gesin met vakansie is, is Lara gereeld in die see.

Sy neem haar sport egter baie ernstig op en volg ʼn streng oefenprogram.

Lara moet ook haar swem en skoolwerk balanseer, maar Hanalie sê hulle hoef haar nooit aan te moedig om te gaan oefen nie.

Lara ontvang tuisonderrig deur Impaq en het altesaam 11 oefensessies per week – dit sluit egter nie net swem in nie, maar ook sessies wat op geestesopleiding toegespits is asook fisioterapie. Sy gaan ook gereeld gimnasium toe.

“Haar motivering kom uit haarself. Ek hoef my kinders nog nooit te gesmeek het om iets te doen nie.”

Sy is ook reeds by die Universiteit van Pretoria ingeskryf, waar sy keuring het om volgende jaar finansiële wetenskappe te studeer.

Hanalie sê haar dogter sal steeds in die huis bly terwyl sy studeer aangesien dit naby aan die swembad en gimnasium is waar Lara oefen.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.